Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Toets gereeld jou oë om diabetiese oogsiektes te beheer

Diabetiese oogsiektes is algemeen onder mense wat diabetes het. Tasneem van Rooyen het meer gaan uitvind oor dié reeks siektes en wat behandeling behels.

Jaarlikse oogtoetse kan simptome van diabetiese oogsiektes verlig. Foto: iSTOCK

Die kanse is baie groter vir oogsiektes om te ontwikkel as jy ’n diabeet is. Hoewel die vermoë om te kan sien van mens tot mens verskil, is dit baie belangrik om meer aandag aan jou oë te gee wanneer jy ’n diabeet is of as die siekte in jou familie voorkom.

Dr. Rizwana Amod van die Kaapse Ooghospitaal beskryf diabetiese oogsiektes as die patologiese veranderings wat op die retina voorkom weens skade aan die bloedvate as gevolg van diabetes.

Volgens Jonette Nel, oogkundige by Spes Eye Care, kom dié toestand voor wanneer daar ’n komplikasie in die oog is of wanneer daar visuele versteuring plaasvind weens diabetes.

“Dit is veral wanneer die bloedsuikervlakke te hoog is of nie beheer word nie. Daar is dan te veel glukose in die bloedstroom omdat die liggaam nie insulien vervaardig of dit effektief kan gebruik nie,” sê sy.

Jonette sê ook dat dit een van die grootste oorsake van blindheid in mense jonger as 65 jaar is.

Dr. Amod sê dat simptome gewoonlik verwant is aan visie en enigiets kan wees vanaf ernstige verlies aan sig tot normale visie.

“Dit is dus noodsaaklik om vir toetse te gaan indien jy dié toestand het om die erns vas te stel,” sê sy.

Jonette verduidelik dat daar soms aanvanklik geen simptome is nie totdat dit te laat is vir behandeling.

Een van die belangrikste simptome is dus wanneer jou visie in en uit fokus beweeg gedurende die dag.

Dit is hoekom jaarlikse oogtoetse vir die toestand baie belangrik is.

“Dit hang ook af op watter area van die retina die skade plaasvind. Indien dit in die makulêre area gebeur (makulêre swelling of edeem) sal die simptome baie erger wees.”

Jonette sê dat dit nie net ’n verlies aan sig behels nie, maar ook dowwe sig, lyne wat verwronge vertoon en kleurvisie wat beïnvloed is.

Hier is verskillende diabetiese oogsiektes, volgens Jonette:

  • Diabetiese retinopatie: Wanneer die klein bloedvate in die retina swel, lek of afgesluit word. Nuwe bloedvate wat vorm kan ook gesien word. Dit gebeur wanneer die bloedsuikervlakke te hoog is.
  • Katarakte: Verhoogde of onbeheerde bloedsuikervlakke kan die vorming van katarakte versnel of veroorsaak. Katarakte veroorsaak gewoonlik al hoe slegter of moeiliker nagvisie met baie weerkaatsing vanaf aankomende verkeer se ligte.
  • Diabetiese makulêre swelling of edeem: Wanneer vog opbou en swelling in die makulêre area veroorsaak.

Die hoofdoel van behandeling vir hierdie toestand is om die bloedsuikervlakke te beheer, meen dr. Amod.

“Dit is ewe belangrik om bloeddruk en cholesterol te beheer. Die behandeling van die oog self word gebaseer op die graad van die toestand.”

Sy sê ook dat hierdie behandeling baie gespesialiseerd is.

Volgens Jonette is dit belangrik om bloedsuikervlakke so naby as moontlik aan “normaal” te hou.

Wanneer daar tekens is dat jou visie besig is om te verswak, moet jy dit ’n prioriteit maak om jou oogkundige te besoek.

“As dit by diabetiese retinopatie kom, kan dit nie genees word nie, maar daar bestaan wel behandeling wat visie behoue laat bly of die risiko van verlies van sig dramaties kan verminder.”

Ander behandelings vir makulêre edeem sluit laserbehandeling en inspuitings in die oogvog in, sê sy.

Jonette sê dat lensvervanging ook gedoen word wanneer katarakte ontwikkel.

“Soms is dit nie moontlik om ’n duidelike beeld van die retina en makula te kry voordat die katarak nie verwyder is nie. Daar mag dus reeds skade wees wat eers na die lensvervanging gesien kan word.”

Diabetiese oogsiektes kan voorkom of vertraag word deur seker te maak dat die bloedsuikervlakke goed beheer word, sê dr. Amod.

“Dit is hoekom jaarlikse oogtoetse vir die toestand baie belangrik is. Dit kan veroorsaak dat die toestand vroeg opgespoor word en ingryping kan verlies aan sig voorkom.”

Jonette sê dat jy veral toetse moet gaan doen as daar ’n familiegeskiedenis van diabetes is.

“Indien jy gediagnoseer word met diabetes, besoek jou oogkundige of oogspesialis jaarliks vir ’n volledige ondersoek van die retina.”

Wanneer jy agterkom dat jou visie deur die dag wissel, moet jy so gou moontlik jou oë laat toets om die oorsaak vas te stel, sê Jonette.

Meer oor:  Gesondheid  |   |  Oog  |  Diabetes  |  Oogsiektes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.