Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Tydige behandeling van prostaatkanker bied tweede kans

Die vernaamste kanker wat gewoonlik by mans gediagnoseer word, is prostaatkanker. Danielle Daniëls het by Francois de Klerk gaan uitvind oor sy ervaring met dié kanker.

Francois de Klerk raai alle mans aan om vroegtydig vir voorkomende toetse te gaan.

Francois de Klerk (69), ’n inwoner van Hermanus vir die afgelope twee jaar, is vroeër vanjaar met prostaatkanker gediagnoseer.

“Vir 35 jaar was ek deel van die SAL se kajuitbemanning en het sodoende regoor die wêreld gevlieg. Ons het die huis in Hermanus ongeveer ’n jaar gelede voor ons aftrede gekoop. Nadat ons huurders se kontrak verstryk het, het ons besluit dis tyd om hier te kom vestig.”

Die diagnosering

Francois sê gedurende die tyd van reëlings tref vir hul trek na Hermanus, het hy ’n ligte beroerte gehad, waarna hy talle toetse moes ondergaan.

“My dokter in Johannesburg het genoem dat my prostaatspesifieke antigeen (PSA)-telling te hoog is en my na ’n uroloog verwys. Ek was geensins bekommerd oor die telling nie aangesien ek geen ongemak of enige simptome ervaar het nie. Alles het perfek gewerk. By die SAL moes ons jaarlikse mediese toetse ondergaan en al my uitslae was normaal.

“Na ons intrek in die middel van September in 2017, het ek ’n afspraak met dr. Basson, ’n uroloog, gereël. Na bloedtoetse moes ek ’n biopsie ondergaan. Tydens my afspraak by dr. Basson was ek oor niks bekommerd nie. Ek was oortuig hy sou miskien net ’n voorskrif gee en niks verder sou daarvan kom nie.”

Volgens Francois het dr. Basson hom op sy gemak gestel en genoem dat die biopsie ’n buitengewone hoë PSA-telling toon. Dr. Basson het bevestig dat hy inderdaad prostaatkanker het.

Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Dit het toe my leuse geword.

“Ons het pas by ons huis ingetrek en ’n nuwe lewe begin, hoe kon dit nou gebeur? Die dokter het ’n verdere afspraak gereël en ek het uitgeloop – in ongeloof en te geskok.

“My lewensmaat het my uitgevra oor die besoek aan die dokter, maar ek kon dit steeds nie verwerk nie en het net gesê: ‘Ek het kanker.’ Ons het see langs geloop en ek het begin huil, want ons lewe moes nou begin, maar wat nou?”

Francois vertel hy het later daardie aand oor sy toestand gewonder en gebid terwyl hy so vanuit sy huis oor die berg uitkyk. “En ek het my antwoord gekry: Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Dit het toe my leuse geword.”

Hiervandaan het dinge vinnig gevorder. “Daar was dokters betrokke en skakeling met die mediese fonds, almal ongelooflik behulpsaam en belangstellend. Buiten my lewensmaat het ek egter vir niemand vertel ek het kanker nie en dis waar ek depressief geraak het.”

“Daardie Desember wou die familie kom kuier en dít is toe ek besluit het om hulle en ons vriende in te lig. Daarna was dit traumaties. Mense wat dit heeltemal goed bedoel het, het verskillende raad uitgedeel soos om dagga-olie en gesondheidspille te gebruik, beet te eet, rooivleis of soesji te vermy en weg te bly van suiker! Niks wat ek wou hoor nie!

“Dr. John Duminy, ’n onkoloog by Hermanus Onkologie het aanbeveel dat ek na my dokter luister en alles doen en eet wat hy sê ek mag.”

By die huis het dit goed gegaan, ek was glad nie depressief nie en vol moed.

Behandeling

Francois sê na sy opvolgbesoek aan dr. Basson, wat al die moontlike opsies aan hom verduidelik het, het hy besluit op die Brachy-prosedure (interne bestralingsterapie).

“Dr. John Duminy was van die begin af positief. Hy het my geval beskou as een waarin genesing moontlik is. Voorbereiding vir die Brachy-prosedure is begin met hormooninspuitings. Vir die inplantingsprosedure moes ek in die hospitaal oornag en kon daarna huis toe gaan X onderlyf pimpel en pers.

“Die prosedure het goed verloop maar moes opgevolg word deur nog hormooninspuitings asook bestraling wat ’n vreemde gedagte was. By die huis het dit goed gegaan, ek was glad nie depressief nie en vol moed. Toe ek by die onkologiesentrum sit, het ek skuldig gevoel want mense is so siek en ek voel so gesond!”

Francois het bestraling by die nuwe onkologiesentrum onder leiding van dr. Duminy begin.

“In Hermanus is alles gelukkig naby, gemaklik en vriendelik. Ek moes bestraling vir omtrent ses weke ontvang, elke week van Maandag tot Vrydag. Dit was weer eens ’n vreemde en alleen- ervaring. Daar het ek ander pasiënte ontmoet wat amper soos familie gevoel het omdat ons almal in dieselfde bootjie was.”

Francois sê hy staan nou nog in verwondering oor die tegnologie by dié onkologiesentrum.

“Dr. Duminy is altyd daar wanneer jy hom nodig het en ook ander tye! Die personeel by die bestralingseenheid het vriende geword. Hulle was altyd bereid om te luister, raad te gee en ook net om daar te wees. Danksy hierdie personeel word bestraling en behandeling ’n voorreg wat nie alle mense kan kry nie. Ons reël ons lewens rondom die behandeling en ek voel goed.”

Hy sê hy gaan stap gereeld op die kranspad by die see en geniet dit om goed te voel.

My liefdeslewe is egter nie meer dieselfde nie; daar is sekere toegewings wat ’n mens moet maak en dit raak deel van jou lewe.

“Dr. Duminy het gesê ek mag alles eet en gereeld uitgaan. Ek geniet die lewe en voel bevoorreg.” Met Francois se opvolgbesoek wou dr. Duminy weet of hy enige nagevolge van die bestraling en behandeling ervaar het, maar sy antwoord was: “Niks!”

“Sommige pasiënte sukkel met warmgloede en ander klein probleme, maar ek was dit gespaar. Alles het positief gebly en my PSA-telling is merkbaar verminder.

“My liefdeslewe is egter nie meer dieselfde nie; daar is sekere toegewings wat ’n mens moet maak en dit raak deel van jou lewe.”

Francois se PSA-telling bly laag en hy spreek die uroloog elke paar maande en vir dr. Duminy elke ses maande, wat die nodige ondersoeke en toetse doen.

“Ek bly positief en is gesond. Ek voel steeds baie bevoorreg. Ek is ’n mens en geniet elke dag!”

Raad aan ander mans

“Moenie wag nie, laat doen gereelde toetse! Hoe gouer dit behandel word, hoe groter is jou kans vir suksesvolle behandeling en ’n tweede kans om die lewe te geniet.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.