Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Unieke operasie laat Kaapse vrou gou weer sien

’n Unieke korneaoorplanting waarin net ’n dun lagie van die kornea verwyder en dié van ’n skenker daarna oorgeplant is, is die eerste keer in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad gedoen.

Gladys Maistry (68) van Eersterivier is op 10 Mei geopereer en kon Woensdag reeds sien, terwyl sig met ’n volledige korneaoorplanting soms maande neem om te herstel.

Skenkerkorneas in Suid-Afrika is skaars en daar is 130 mense wat wag op ’n operasie om te kan sien. Dié betrokke kornea moes teen R22 000 uit die buiteland verkry word.

Gladys Maistry van Eersterivier is die eerste mens wat by die Tygerberg-hospitaal ’n nuwe kornea-oorplantingsprosedure (DMEK) ondergaan het. Van links is dr. Leonard Heydenrych wat die operasie gedoen het, bygestaan deur dr. Derrick Smit van die eenheid vir oftalmologie. Regs is Ian Halfon van die Slick Restaurant Group, wat ’n groot deel van die geld en toerusting geskenk het.Foto: Elsabé Brits

Prof. David Meyer, hoof van die eenheid vir oftalmologie, verduidelik ’n kornea bestaan uit vyf lae. Met dié tegniek hoef minder lae gebruik te word, wat die kans op verwerping verminder.

Net twee lae van die pasiënt se kornea word verwyder en vervang met twee lae wat uit die skenkerkornea geneem word. Ander dele van die skenkerkornea kan ook vir ’n oorplanting op iemand anders gebruik word.

Dr. Leonard Heydenrych het aan die Moorfield-ooghospitaal in Londen gaan leer hoe om die prosedure te doen. Die endoteellaag en membraan van Descemet word verwyder. Die tegniek staan bekend as Descemet se membraan-endoteel-keratoplastiek (DMEK).

Dr. Derrick Smit van die eenheid vir oftalmologie in die Tygerberg-hospitaal kyk na Gladys Maistry van Eersterivier se kornea. Sy is die eerste mens wat by die hospitaal ’n nuwe kornea-oorplantingsprosedure (DMEK) ondergaan het. Dit behels onder meer dat net ’n laag van die kornea oorgeplant word.Foto: Elsabé Brits

Dr. Derrick Smit, ook van die eenheid vir oftalmologie, sê die endoteel se selle werk soos ’n pompmeganisme om water in en uit die oog te pomp. Indien die kornea te nat is, kan ’n mens nie sien nie, en ook nie wanneer dit te droog is nie. Dit moet helder wees en 78% water bevat.

“Wanneer dit dof is, is dit soos ’n badkamervenster,” sê hy.

Die operasie sou nie moontlik gewees het sonder Ian Halfon van die Slick Restaurant Group nie. Hy het besluit om geld by die groep se restaurante in te samel en om geld van die groep te skenk. ’n Mikroskoop van R200 000 is danksy Halfon vir die eenheid aangekoop en binne ’n week afgelewer. Daarmee kan die selle agter die kornea gesien en selfs getel word.

Maistry het gesê sy is baie opgewonde en dankbaar vir alles wat die dokters en Halfon gedoen het “deur die Here se genade”. Die aangebore toestand wat veroorsaak dat sy haar sig verloor het, is Fuchs se distrofie en veroorsaak dat die endoteel nie die water genoegsaam uitpomp nie en die kornea verdof en opswel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.