Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Vermy só rekenaarvisiesindroom

Tegnologie is deel van ons daaglikse bestaan, maar dit is baie sleg vir jou oë om heeldag vir ’n elektroniese skerm te staar. Danielle Daniëls het by kenners gaan uitvind wat rekenaarvisiesindroom behels en hoe jy dit kan voorkom.

Weens die Covid-19-inperkingsregulasies werk baie van ons steeds van die huis af, wat beteken dat jy moontlik meer tyd as gewoonlik voor ’n rekenaarskerm deurbring as wat by ’n kantoor die geval sou wees.

Wees net versigtig vir rekenaarvisiesindroom!

Wat is rekenaarvisiesindroom

Jonette Nel, oogkundige van Specs Eye Care Stellenbosch, sê rekenaarvisiesindroom is die visuele ongemak wat jy ervaar weens die verlengde gebruik van rekenaars of digitale toestelle.

“Die hoeveelheid ongemak of oogspanning word bepaal deur die tyd wat jy voor die rekenaar deurbring, beligting in die vertrek, die afstand wat jy van jou skerm af sit, jou postuur of posisie voor die skerm, die hoeveelheid weerkaatsing op die skerm en ook bestaande visuele voorskrifte of oogprobleme.”

Uitwerking wat skerms op jou oë het

Volgens dr. Nico van Helsdingen, ’n oftalmoloog in Somerset-Wes, is daar geen wetenskaplike navorsing wat sonder twyfel bewys dat rekenaar-, selfoon- of televisieskerms blywende skade aan jou sig kan aanrig nie.

“Daar is wel navorsing in laboratoriums gedoen oor blouligblootstelling wat deur hierdie skerms veroorsaak word. Dit spekuleer dat blouligblootstelling ’n fisiologiese proses in die fotoreseptorselle van die oog laat plaasvind, wat toksiese afvalstowwe vrystel en hierdie baie sensitiewe selle oor tyd kan beskadig. Navorsing dui ook daarop dat langdurige blootstelling aan skerms op ’n baie jong ouderdom, die risiko vir die ontwikkeling of verergering van bysiendheid kan verhoog.”

Hoofpyne, seer en moeg oë is van die simptome en tekens wat wys dat jy rekenaarvisiesindroom het. Foto’s: ISTOCK

Tekens en simptome van digitale oogspanning

Jonette sê tekens en simptome kan die volgende insluit:

. Oë raak uit fokus nadat jy ’n tyd lank ’n rekenaar of digitale toestel gebruik

. Dubbelvisie

. Oë wat moeg en seer voel

. Rooi oë

. Droë oë

. Hoofpyn, nek- en skouerpyn

. Oogspanning

“Bogenoemde simptome kan ook as gevolg van ander visuele probleme of selfs mediese toestande wees, en is nie beperk tot slegs rekenaarvisiesindroom nie,” verduidelik Jonette.

Kan elektroniese skerms oogskade of oogprobleme veroorsaak?

Dr. Van Helsdingen meen dit kan sekondêre oogprobleme soos droë oë, dowwe sig, hoofpyn, oogstremming en versteurde slaappatrone veroorsaak. “Oogskade mag moontlik insluit die ontwikkeling van miopie (bysiendheid) en retinale skade, maar meer navorsing is nog nodig om die werklike impak op die verlies aan visie te bewys.”

Wenke om digitale oogspanning te verlig

Volgens Jonette kan jy die volgende wenke toepas om oogspanning te beperk:

. Neem gereeld blaaskanse. Probeer om elke 30 minute weg te kyk van jou skerm en fokus op ’n voorwerp wat minstens drie meter of verder weg is. Kyk vir ten minste 20 sekondes daarna, dit help om jou oë te ontspan en akkommodasieprobleme te verhoed.

. Rus jou oë elke twee ure van rekenaargebruik vir ongeveer 15 minute.

. Sny alle weerkaatsing uit. Kyk na die posisie van jou rekenaar. Indien daar enige onnodige lig op die skerm val wat weerkaatsing veroorsaak, skuif die skerm. Gebruik ook ’n refleksie-filter op jou skerm.

. Maak seker dat jy die regte postuur en posisie voor jou rekenaar of digitale toestel inneem, sodat daar nie onnodige spanning op jou skouers en nek is nie. Die beste hoogte vir ’n skerm is effens onder ooghoogte en 50 tot 80 cm weg van jou gesig. Gebruik ook ’n gemaklike stoel.

. Knip gereeld jou oë om dit te bevogtig en trane oor die oppervlak te versprei. Indien jou oë steeds droog voel, gebruik ’n oogdruppel wat help om dit te bevogtig.

. Gebruik ’n voorskrifbril wat help om oor-akkommodasie te voorkom, jou voorskrif 100% te korrigeer en weerkaatsing op die lens te verminder deur middel van ’n teen-refleksielaag. Die nuutste lagies blok ook skadelike bloulig uit wat deur LED-ligte afgegee word.

Vanaf 40-jarige ouderdom word jy aangeraai om vir ’n oogtoets te gaan by ’n optometris of oftalmoloog.

Ander opsies om jou oë teen skerms te beskerm

Jonette meen die beste manier is om gereeld ’n blaaskans te neem. “Moenie te naby aan jou televisie of rekenaar sit nie, maak seker daar is nie onnodige weerkaatsing van ligte op die skerms nie en dra ’n bril wat weerkaatsing verminder en skadelike bloulig weerkaats. Die bril moet jou visie 100% korrigeer, help om druk op die akkommodasiestelsel te verlig en steeds op enige afstand fokus te behou.”

Kan skerms blindheid veroorsaak?

“Dit is nog nie bewys dat iemand kan blind raak van te veel tyd voor rekenaar-, selfoon- of televisieskerms nie. Die simptome wat deur die oormatige gebruik van hierdie skerms veroorsaak word, is omkeerbaar deur die gebruik daarvan vir ’n tydperk te stop,” sê dr. Van Helsdingen.

Kan jou gewone bril aangepas word vir ’n rekenaar?

Dr. Van Helsdingen sê brille word spesifiek vir rekenaarskerms gemaak deur spesiale lense wat die hele skerm deur wyeveldtegnologie in fokus plaas.

“Daar kan ook filters gebruik word om bloulig te blokkeer en oogstremming of -moegheid te verminder. Die volgende riglyne kan jou help om digitale oogstremming, selfs met jou eie bril, te verminder:

. Sit ’n armlengte weg van die rekenaarskerm af en probeer effens afkyk na die skerm.

. Verminder die skerm se glans deur ’n skermfilter te gebruik.

. Neem ’n gereelde blaaskans deur die “20-20-20”-reël te volg. Dit behels dat jy vir elke 20 minute se skermtyd, vir 20 sekondes na ’n voorwerp kyk wat 20 voet weg van jou af is.

. Gebruik kunsmatige traandruppels om jou oë te bevogtig.

. Verhoog die skerm se kontras en vervang die kamerlig.

. Indien jy kontaklense gebruik, laat jou oë gereeld rus deur jou bril te dra.

Belangrikheid van na jou oë omsien en gereelde oogtoetse

Dr. Johann Kruger van Tygervalley Eye & Laser Clinic sê dit is belangrik om gereeld jou oë te laat toets om oogsiektes te voorkom en okkulte oogsiektes vroeg te diagnoseer.

“Ongeveer 15% van pasiënte wat met MIV leef, ontwikkel oogprobleme en vind só uit hulle is siek. Sommige diabete word ook eerste deur die oogspesialis gediagnoseer. Daar is baie ander siektes soos koronêre siektes en vernoude nekslagare wat met oogsteurnisse presenteer. Die oogspesialis kan as te ware die pasiënt se lewe red.”

Dr. Van Helsdingen sê dit word voorgestel dat almal vanaf 40-jarige ouderdom ’n oogtoets ondergaan.

“Gereelde, volledige oogtoetsing kan skadelike oogprobleme vroeg diagnoseer en die vroeë behandeling daarvan kan verlies van sig voorkom. Bo 65-jarige ouderdom moet oogtoetse elke een tot twee jaar gedoen word.”

GEBORG

Garden Route Eye Clinic spesialiseer in oogsiektes en oogsorg. Hulle het verskeie praktyke in die Suid-Kaap insluitend George, Knysna, Oudtshoorn en Riversdal, met omvattende oogchirurgie wat by hul praktyke in George en Knysna uitgevoer word.

Voorkoming van oogsiektes

Dr. Kruger sê hierdie oogsiektes kan voorkom word deur gereeld ’n oogspesialis te besoek:

. Verlies aan gesigsveld weens gloukoom en selfs die diagnose van gloukoom wat tot blindheid kan lei.

. Progressie van makulêre degenerasie

. Kankers in die oog

. Skade aan die retina weens diabetes

. Blindheid

. Verergering van droë oë

Wenke om na jou oë om te sien

. Gereelde oogondersoeke

. Gereelde drukmetings

. As jy ’n oogsteurnis het, moenie huiwer om jou oogspesialis te besoek nie. Byvoorbeeld as jou sig vir ’n paar sekondes wegraak, as ’n deel van jou gesigsveld aangetas is of as jy pyn in jou oog ervaar.

Meer oor:  Johann Kruger  |  Inperking  |  Kenners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.