Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Vinnige kosblik-idees vir die hele gesin

In ons huidige situasie is dit uiters belangrik om so gesond moontlik te leef. Dit sluit natuurlik ook die kosse in wat jy eet. Jandri Barnard, ’n geregistreerde dieetkundige van Newcastle, deel moeitelose, heilsame kosblik-idees vir jou en jou kroos. 

Met toenemende getalle Covid-19-infeksies en skole wat binnekort landwyd heropen, sal jy twee keer moet dink oor die inhoud van jou kinders se kosblikke.

Watter kosse kan jy inpak om jou gesin se gesondheid en veiligheid te verseker?

Jy soek ’n gebalanseerde kosblik vol immuun-opbouende kosse wat met pouse of etenstye sonder moeite geëet kan word, ongeag die beslommernis van maskers en ontsmettingsmiddels.

Pak eerder happiegrootte of verpakte kosse in om kontak met vingers of hande te verminder.

Andersins kan jy ook klein vurkies, teelepels en strooitjies vir drinkgoed insluit, wat sal verseker dat jy nie te veel aan die kos hoef te raak nie.

Sit ook ’n klein botteltjie waterlose handreiniger en natlappies in elkeen se werk- of skoolsak. As daar nie ’n kraan en seep naby is nie, kan hande maklik voor en na etes daarmee gereinig word. Indien daar water is, was jou hande vir 20 sekondes met seep voor en nadat jy eet.

Pak ook ekstra water in saam met ’n boksie vrugtesap of gegeurde laevetmelk. As jy heeldag ’n masker dra is dit maklik om te ontwater, veral gedurende die warm Suid-Afrikaanse somermaande, en jy gaan meer dors wees.

Ons tyd is deesdae meer beperk, wat beteken die hele gesin se werksverantwoordelikhede neem toe. Dus gaan jy minder tyd hê om kos in te pak, of dit nou die aand voor die tyd of in die oggend voor skool is.

Wanneer jy ’n tydjie het, pak die aand vooraf almal se kosblikke en onthou ook van die eetgerei! Foto: iStock

Hier is ’n paar wenke wat jou sal help om jou beperkte tyd optimaal te benut:

In 10 minute

Die aand vooraf kan jy die volgende happies in foelie toedraai of in ’n bakkie sit om vars te bly. Dit kan koolhidrate en proteïene insluit.

  • Volgraanbroodrolletjie
  • Volgraantoevoubroodjie (wrap)
  • Volgraanpita
  • Gesnyde kaasvingers of -blokkies
  • Klein hoender- of beesvleissosaties
  • Visvingers
  • Gekrummelde hoenderrepies

Drie minute

Terwyl jy aandete voorberei, kan jy ekstra vrugte of groente opsny en in ’n bakkie sit. Dit kan insluit:

  • Komkommer-, wortel- en selerystokkies
  • Vars vrugte in blokkies gesny
  • Piesangs en nartjies, om te skil

Dertig sekondes

Jy kan eetgoed vooraf in kleiner bakkies of pakkies verpak en net in die kospakkie sit. Sluit die volgende peuselhappies in:

  • Klein bakkies jogurt
  • Pakkies droëvrugte en neute

Vyftien sekondes

Gooi water in waterbottels en kry boksies vrugtesap en melk gereed om in te pak. Sluit drinkgoed in soos:

  • Vrugtesap
  • Water
  • Gegeurde laevetmelk

Hou dit gesond

Probeer om altyd gesonde opsies in te sluit, waaronder:

  • Volgraankoolhidrate met ’n lae glukemiese indeks (GI), soos brood, volgraanbroodrolletjies, -toebroodjies en -pita, asook pasta en koeskoes.
  • Laevetproteïene in klein porsies verdeel, soos harde kaasvingers of -blokkies, droëwors, visvingers, klein frikkadelle, gekrummelde hoenderrepies of -blokkies en klein hoender- of beesvleissosaties.
  • Laevetsuiwel wat kalsium, vitamiene B en D bevat, soos bakkies vrugtejogurt, drinkbare jogurt of aangemaakte skommeldrankies en boksies gegeurde melk.
RESEPTE: Lekker geregte wat jy voor die tyd kan voorberei en inpak

Vitamienryke vrugteslaaibakkies (vir vier mense)

  • 2 tot 4 aarbeie per persoon, afhangend van grootte
  • 1 klein bakkie bloubessies
  • 1 kiwi per persoon
  • 1 tot 2 veselperskes

Verwyder die aarbeie se stingels en sny in skyfies. Skil die kiwi’s en sny in skyfies vir elke persoon. Skil die veselperskes en sny in blokkies, afhangend van die soort veselperske. Verdeel die bloubessies tussen die vier bakkies. Be­dien die slaai met ’n klein vurkie.

Mini-souttertjies

  • 1 rooi ui, fyngekap
  • 1 rooi of geel soetrissie, in klein blokkies gesny
  • 2 koppies (60 g) babaspinasie, in fyn repies gesny
  • 1 teelepel olyfolie
  • 4 eiers
  • 1 koppie / 250 ml suurroom

Voorverhit oond teen 180 °C. Braai die ui, soetrissie en spinasie in die olyfolie. Verdeel dit in gesmeerde muffinpanne. Klits die eiers en suurroom saam en skep oor die groente in die muffinpannetjies. Sout en peper na smaak. Bak vir 30 tot 40 minute.

Oorskiet-pastamuffins

  • 2 koppies gaar macaroni of skulpiepasta
  • 1 koppie gaar hoender, in fyn repies gesny
  • 1½ koppie gerasperde kaas
  • 1 teelepel gekapte uie
  • ½ koppie gekapte pietersielie
  • 2 eiers
  • 1 eetlepel melk

Voorverhit die oond teen 180 °C. Meng die pasta, hoender, kaas, uie en pietersielie saam. Klits die eiers saam met die melk en gooi oor die pastamengsel. Verdeel en skep in ’n gesmeerde muffinpan. Bak vir 20 minute tot goudbruin.

Pastaslaai (vir vier kosblikke)

  • 250 g pasta: penne, skroewe of skulpies
  • 10 kersietamaties, gehalveer
  • 2 teelepels balsamiese asyn
  • 4 teelepels olyfolie

Kook pasta in soutwater vir 15 tot 20 minute en dreineer.

Meng met opgesnyde tamaties, asyn en olie. Geur met sout en peper. Verdeel in vier bakkies en hou in die yskas.

Geniet met ’n vurk.

Opsioneel kan die balsamiese-asyn-en-olyfolie-mengsel ook vervang word met ses teelepels pesto.

Meer oor:  Gesondheid  |  Leefstyl  |  Eetgewoontes  |  Kosblik  |  Gesond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.