Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Vra die oftalmoloog: Wat jy moet weet oor drifsels

Vraag 1: Ek sien baie swart kolle voor my oë. Moet ek bekommerd wees?

Dr. Frikkie Hartog, ’n oftalmoloog in Bellville, beantwoord die vraag:

Dr. Frikkie Hartog

Die grootste volume van die oog word gevul met ’n jel, die glasvog. In kinders en jongmense is die jel dig, maar dit verander soos ’n mens ouer word. Die jel begin sinerese ondergaan: Die jel breek op, wat lei tot areas van vog en drifsels. Die drifsels dryf stadig rond in die jel en kan waargeneem word as skaduwees wat stadig wegbeweeg indien ’n mens poog om in hul rigting te kyk.

Die drifsels is makliker sigbaar teen ’n helder agtergrond of soggens. Daar is gewoonlik geen rede tot kommer nie.

Die veranderinge in die glasvog gaan egter gepaard met veranderinge in die volume van die jel en gevolglik trek die jel weg van die retina af. In sommige gevalle kan die traksie aan die retina lei tot retinale besering, gate en ’n retinale loslating. ’n Retinale loslating is natuurlik ’n noodgeval aangesien dit kan lei tot permanente sigverlies.

Retinale skade vind gewoonlik plaas as gevolg van ’n kombinasie van swakheid van die retina saam met abnormale sterk traksie van die jel aan die retina.

Sulke sterk traksie kan tot retinale skade lei in enige persoon, maar sommige mense het ’n hoër risiko tot retinale loslating. Mense wat baie bysiende is (hoë miopie), ’n traumatiese besering aan die oog gehad het, ’n vorige retinale probleem gehad het of selfs ’n familiegeskiedenis van retinale probleme het, het ’n groter risiko om retinale loslating te ontwikkel.

Daar is ’n paar waarskuwingstekens – buiten die drifsels – dat die retina moontlik beskadig kan wees. Indien ’n mens die waarskuwingstekens ervaar, is dit raadsaam om so gou as moontlik by ’n oftalmoloog uit te kom om retinale loslating uit te skakel of vroegtydig te behandel indien nodig.

Die gevaartekens sluit die volgende in: Ligflitse langs die kant van die gesig, tientalle drifsels of veelvuldige spikkels wat skielik sentraal in die visie voorkom, of ’n skaduwee wat van die kant af inbeweeg.

Vraag 2: Kan my brilfout opgelos word indien ek klaar ’n katarak-operasie gehad het?

Antwoord:

Die hoofdoel van ’n katarak-operasie is gewoonlik om ’n mens se visie te herstel. Die sekondêre doel is dan ook om ’n persoon se brilafhanklikheid te verminder. In sommige gevalle vind mense egter dat hulle ná ’n katarak-operasie steeds afhanklik van ’n bril is. Dié situasie vind plaas om verskeie redes, maar is nie vir almal ’n rede tot kommer nie. Sommige mense gee nie om om nog ’n bril te dra ná die katarak-operasie nie.

Indien iemand egter minder afhanklik van ’n bril wil wees, is daar verskillende maniere om die probleem aan te spreek. Die brilfout kan byvoorbeeld met ’n laserprosedure behandel word.

Daar bestaan ook lense wat spesifiek gemaak word om bo-op die lens te pas wat met die katarak-operasie ingeplant is. Hierdie lens staan as ’n “piggy-back”-lens of abbalens bekend. Beide hierdie lens en die laserprosedure is baie effektief om ’n pasiënt se brilfout te verminder en hulle sodoende minder afhanklik van ’n bril te maak, maar hulle sal wel moontlik nog soms ’n bril moet dra, byvoorbeeld om te lees.

’n Nuwe multifokale abbalens is egter baie opwindend. Die inplanting van ’n multifokale lens kan meeste mense onafhanklik maak vir al hul daaglikse aktiwiteite, insluitend om te lees. Hierdie lens kan dit moontlik maak om ’n mens los van brildra te maak, selfs al het hulle voorheen ’n katarakprosedure gehad.

Meer oor:  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.