Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wanneer snork jou kan laat sterf

'n Slegte snorkgewoonte is nie meer snaaks nie wanneer dit ’n teken van slaapapnee is, skryf Rochélle Human. 

’n CPAP-masjien is die beste behandeling om slaapapnee teë te werk.

Slaapapnee is ’n geheime siekte. Al wat jy weet, is jy is doodmoeg en snak soms na jou asem wanneer jy slaap. Maar totdat iemand sien hoe jy ophou asemhaal wanneer jy slaap, sal jy nie weet wat is fout nie.

Johan Eybers, ’n joernalis van Rapport, moes alewig luister hoe mense kla hy snork. Bedags moes hy koffie en energiedrankies wegslaan om nie tydens mediakonferensies en raadsvergaderings aan die slaap te raak nie. Dis eers toe hy met vakansie saam met sy ma en suster in ’n slaapkamer beland het dat sy suster opgelet het hy hou op asem haal wanneer hy slaap.

Slaapapnee wat nie behandel word nie het ’n uitkring-effek op die res van die liggaam.

Sy huisdokter het hom na die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg se slaapkliniek verwys, waar slaapapnee by hom gediagnoseer is.

Nie almal wat snork het slaapapnee nie, maar die meeste mense met slaapapnee snork. Iemand wat snork, se risiko om slaapapnee te ontwikkel is reeds 50%, sê dr. Kevin Rosman, ’n neuroloog en slaapspesialis van Johannesburg.

“As jy oorgewig is en bedags moeg is, kan jy maar jou geld daarop wed.”

Die toestand is meer algemeen as diabetes (wat as ’n wêreldwye epidemie beskou word). Hy sê sowat 10% tot 15% van mense het die algemeenste soort slaapapnee – obstruktiewe slaapapnee (OSA).

En volgens ’n 2011-studie in die Suid-Afrikaanse Joernaal van Kliniese Voeding word 80% tot 90% van mense met slaapapnee nooit gediagnoseer of daarvoor behandel nie.

Ernstige gevolge

Daar is drie soorte slaapapnee: obstruktiewe slaapapnee (OSA), sentrale slaapapnee en ’n kombinasie van die twee. Met slaapapnee ontspan en vernou die keel se spierwande wanneer jy slaap. Dit blokkeer die lugweg, sodat die persoon minstens tien sekondes lank min of geen asem kan kry nie.

In OSA-gevalle is die oorsaak gewoonlik iets wat die lugweg in die keel versper – vetweefsel, groot mangels of die tong.

Sentrale slaapapnee het meer te doen met die brein se onvermoë om die seine te stuur wat nodig is om asem te haal terwyl ’n mens slaap.

Die persoon kan glad nie onthou dat sy asemhaling onderbreek is en dat hy wakker geword het nie, maar slaapapnee wat nie behandel word nie het ’n uitkring-effek op die res van die liggaam. Erge moegheid weens onvoldoende slaap kan ’n mens se konsentrasievermoë, motoriese vermoëns en geheue verswak.

Dit kan ook die risiko verhoog van asma, kanker, chroniese niersiektes, oogsiektes soos gloukoom, seksuele probleme en komplikasies tydens swangerskap.

Daar is veral sterk bewyse dat slaapapnee met hoë bloeddruk en hartsiekte verband hou. Slaapapnee dra by tot chroniese inflammasie, wat uiteindelik die risiko van hartaanvalle, beroertes en selfs tipe 2-diabetes verhoog. “By die helfte van beroerte- en hartaanvalpasiënte word slaapapnee uiteindelik ontdek,” sê Kevin.

‘Gevaarliker as dronkbestuurders’

’n Vreesaanjaende gevolg van slaapapnee is hoe gevaarlik dit is om in so ’n toestand van slaapontneming te bestuur. Navorsing wys mense wat van slaap ontneem word weens OSA kan tot 12 keer meer geneig wees om in ’n motorongeluk te wees. “Hierdie mense is gevaarliker op die pad as dronkbestuurders,” sê Kevin.

Karen Coetzee (50), ’n boekhouer en kinderoppasser van Pretoria, het snags benoud wakker geskrik wanneer sy nie asem kry nie, maar sy het nie geweet daar bestaan iets soos slaapapnee nie.

By die werk het sy maklik voor die rekenaar aan die slaap geraak.

Een oggend moes sy om 6:00 van Lephalale (Ellisras) af Pretoria toe ry ná wat sy gereken het ’n goeie nagrus was. Sy het egter agter die stuurwiel aan die slaap geraak en eers wakker geword toe sy oor die middelman ry en haar motor se bande die kat­ogies op die pad tref.

Toetse het gewys sy het ’n besonder ernstige geval van slaapapnee.

Dokters definieer ernstige gevalle as mense wat 30 of meer apnee-episodes per uur het. Karen het 86 keer per uur langer as tien sekondes op ’n slag ophou asemhaal.

Vetsug die grootste oorsaak

In daardie stadium het Karen sowat 103 kg geweeg. Ongeveer twee jaar lank moes sy elke aand met die ongemaklike CPAP-masjien slaap – ’n asemhalingstoestel wat soos ’n masker oor die neus en mond pas en aanhoudend lug in die lugweë blaas om dit oop te hou.

“Dis ’n groot aanpassing. Oral waar jy gaan, moet die masjien saamgaan. Soggens word jy wakker met merke op jou gesig.”

In 2016 het sy aan ’n tydskrif se gewigverliesprogram deelgeneem en sowat
27 kg verloor. Sedertdien was dit nog nie weer nodig om die CPAP-masjien te gebruik nie. “Nou word ek soggens voor my wekker wakker. Ek het my lewensgehalte 100% teruggekry.”

Vetsug is die grootste oorsaak van OSA. Mense wat oorgewig is, het ekstra weefsel in die agterkant van hul keel, wat tydens slaap oor die lugweg kan insak. Deur net 10% van hul liggaamsgewig te verloor, kan simptome reeds heelwat verbeter.

“Sowat 20% van mense se slaapapnee sal genees as hulle gewig verloor,” sê Kevin. “In die ander 80% sal die simptome verbeter, maar nie weggaan nie.”

Vetsug en slaapapnee vorm egter ’n bose kringloop: Vetsug dra by tot die ontstaan van slaapapnee, maar ’n gebrek aan genoegsame slaap kan ook veroorsaak dat ’n mens gewig aansit.

“Daarom moet ’n mens eers die slaapapnee onder beheer kry, en dan gewig probeer verloor,” sê hy.

Gene en ’n familiegeskiedenis van slaapapnee kan ook ’n mens se risiko van slaapapnee verhoog, maar ’n gesonde leefstyl sal dié risiko teëwerk.

Benewens gewigverlies deur gesond te eet en oefening te doen, beveel kenners ook aan dat mense met ’n risiko van slaapapnee minder alkohol gebruik en ophou rook.

Alkohol laat die spiere in die mond en nek nog meer ontspan, wat die hoër lugweg kan toemaak. Dit kan ook die brein se vermoë belemmer om slaap en die spiere wat by asemhaling betrokke is, te beheer. Dieselfde geld rook, wat ook inflammasie in die hoër lugweg veroorsaak en asemhaling aantas.

Daar is hulp

Mense wat vermoed hulle het slaapapnee se slaappatroon moet by ’n slaapsentrum gemonitor word, sê Kevin. ’n Dokter met spesialiservaring in die behandeling van slaapsteurnisse diagnoseer dan die pasiënt op grond van die uitslae en stel ’n behandelingsplan voor.

Volgens die Suid-Afrikaanse vereniging vir slaapgeneeskunde (SASSM) is die doeltreffendste behandeling ’n CPAP-masjien (continuous positive air pressure machine). Die toestel werk goed, maar meer as die helfte van mense wat dit probeer, hou nie daarby nie omdat dit so ’n groot aanpassing is om met die bonkige toerusting te slaap.

Johan sê egter die CPAP-masjien het sy lewe verander. “Ek het weer energie en my lewe is weer normaal.”

Vir gevalle van ligte slaapapnee kan ’n tandarts of ortodontis spesiaal ’n mondstuk vir die individu laat maak wat die kakebeen of tong saans vorentoe hou sodat die lugweg nie geblokkeer word nie.

CPAP-masjiene en mondstukke kan die toestand goed beheer, maar sal dit nie genees nie. Die enigste manier om werklik daarvan ontslae te raak, is om gewig te verloor of met chirurgie sigbare obstruksies uit die keel en lugweg te verwyder. Chirurgie is egter die laaste uitweg, aangesien dit groot operasies is wat komplikasies kan hê.

  • Bykomende bronne: Die Amerikaanse departement van gesondheid se nasionale hart-, long- en bloedinstituut; die Britse nasionale gesondheidsdiens; en Harvard Healthbeat.
  • Hormonale probleme soos ’n onderaktiewe skildklier (hipotiroïdisme) of polisistiese eierstoksindroom (PCOS) kan albei die deel van die brein aantas wat asemhaling beheer, asook die senuwees en spiere wat gebruik word om asem te haal. Albei hierdie toestande hou ook verband met oorgewig en vetsug, wat kan bydra tot slaapapnee. Veranderinge in hormoonvlakke gedurende menopouse kan ook die keelspiere meer as gewoonlik laat ontspan.
  • Genetiese sindrome wat die struktuur van die gesig en skedel aantas, soos ’n gesplete lip of verhemelte, kan slaapapnee veroorsaak.
  • Slaapapnee kan op enige ouderdom ontstaan, maar die risiko neem toe met ouderdom – veral ná 40 – waarskynlik weens normale ouderdomverwante veranderinge in hoe die brein asemhaling tydens slaap beheer, of omdat meer vetweefsel in die nek opbou namate ’n mens ouer word.
Verdere oorsake:
  • Hormonale probleme soos ’n onderaktiewe skildklier (hipotiroïdisme) of polisistiese eierstoksindroom (PCOS) kan albei die deel van die brein aantas wat asemhaling beheer, asook die senuwees en spiere wat gebruik word om asem te haal. Albei hierdie toestande hou ook verband met oorgewig en vetsug, wat kan bydra tot slaapapnee. Veranderinge in hormoonvlakke gedurende menopouse kan ook die keelspiere meer as gewoonlik laat ontspan. 
  • Genetiese sindrome wat die struktuur van die gesig en skedel aantas, soos ’n gesplete lip of verhemelte, kan slaapapnee veroorsaak. 
  • Slaapapnee kan op enige ouderdom ontstaan, maar die risiko neem toe met ouderdom – veral ná 40 – waarskynlik weens normale ouderdomverwante veranderinge in hoe die brein asemhaling tydens slaap beheer, of omdat meer vetweefsel in die nek opbou namate ’n mens ouer word.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.