Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wat is prostodonsie?

Prostodonsie is nie ’n term wat algemeen bekend is nie. Dit is egter belangrik om begrip te hê van die term veral as dit by mondgesondheid kom. Tasneem van Rooyen het met kenners oor die onderwerp gaan gesels.

Wie hou nie van ’n pragtige glimlag nie? Dít is waarom prostodonsie al hoe meer gewild raak. Foto: iSTOCK

Volgens dr. Sanette Muller, prostodontis van Stellenbosch, is prostodonsie een van vyf spesialiteite in tandheelkunde van die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGBSA). Opleiding behels dus voorgraadse studie van vyf tot ses jaar en nagraadse studie van vier jaar aan ’n universiteit.

Dr. Christiaan Vorster, ook ’n prostodontis, verduidelik dat ’n prostodontiese behandelingsplan die rehabilitasie en instandhouding van ’n mond en tande se funksie en estese insluit. Prostodonsie behels dus die bevordering van gemak, voorkoms en gesondheid van pasiënte met problematiese tandprobleme.

’n Pasiënt wat anoniem wil bly, spog na tien jaar met ’n pragtige glimlag nadat sy ’n tandheelkundige prosedure deur ’n prostodontis in Stellenbosch ondergaan het.

Wat doen ’n prostodontis?

Behandeling wat deur ’n prostodontis aangebied word, sluit in die vervanging van ontbrekende tande deur middel van tandheelkundige inplantate, kunsgebitte of die herstelling of verbetering van die voorkoms en funksie van tande deur middel van krone, inlegsels, oorlegsels, wortelkanaalbehandeling en die regstelling van die okklusale byt asook kaakgewrig- en spierprobleme, verduideik dr. Muller.

“ ’n Prostodontis is ook opgelei om gesigs- en monddefekte te behandel, byvoorbeeld ’n gesplete verhemelte as gevolg van trauma of tumor-reseksie (chirurgiese uitsnyding) deur middel van maksillofasiale (dele van die gesig) prostese. Dikwels tree ’n prostodontis op as die “argitek” van ’n tandheelkundige behandelingsplan, en werk saam met algemene tandartse en spesialiste om oplossings vir tandheelkundige probleme te vind,” sê sy.

Wat is inplantate en wanneer kry jy dit?

Volgens dr. Vorster neem ’n tandinplantaat die plek van die afwesige tand se wortel in. Dus help dit om negatiewe gevolge van afwesige tande te voorkom.

’n Tandheelkundige inplantaat kan beskou word as ’n kunsmatige tandwortel wat in die kakebeen ingeplant word.

Wanneer tandheelkundige werk soos kunsgebitte, krone, brûe en volmondse rehabilitasies uitgevoer word, kan een of meer afwesige tande vervang word deur tandheelkundige inplantate. Hierdie word vervaardig uit ’n baie sterk, bio-aanvaarbare materiaal wat tydens ’n chirurgiese prosedure in die kakebeen geplaas.

Na die aanvanklike genesingstydperk waartydens die inplantaat vasgroei in die been, word dit ontbloot en verbind aan ’n koppelstukkie wat die kunsmatige tand vashou en ondersteun.

Die verskillende soorte prostodonsie

Hier is dr. Muller en dr. Vorster se definisies van kunsgebitte, krone, brûe en volmondse prostetika:

  • Kunsgebit: ’n Kunsgebit is ‘n verwyderbare stel kunstande en word normaalweg van akriel gemaak. Dit is ook soms ‘n kombinasie van verskeie metaaltussenstrukture en komponente wat op inplantate kan vasheg. Kunsgebitte is só gevorm om soos natuurlike tande te lyk.

  • Kroon: Dit is ’n porseleindoppie wat in ’n laboratorium vervaardig word en op die tand “vasgeplak” (sementeer) word. Tandartse gebruik krone vir die herbouing van afgeslyte of verrotte tande.

  • Brug: ’n Brug is ’n toestel wat permanent in die mond gesementeer is om verskeie afwesige tande te vervang. ’n Tand of tande wat afwesig is, kan herstel word deurdat krone op die tande geplaas word langs die gaping waarin valstande vasgemaak word.

  • Volmondse prostetika: Wanneer meeste van die tande of al die tande betrokke is by die behandelingsplan, word dit volmondse prostetika of vollemondse rehabilitasie genoem.
Meer oor:  Tande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.