Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wat jy móét weet van AGHS

Deesdae hoor ’n mens al hoe meer van geestes- en ander versteurings, maar verstaan ons dit regtig? Aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) is een van die vele versteurings wat by mense kan voorkom. Danielle Daniëls het meer hieroor gaan uitvind.

    In Suid-Afrika ly ongeveer een uit 20 (5%) kinders aan AGHS. Dit raak sowel seuns as meisies. Foto: ISTOCK

    As ’n geestes- of ’n ander versteuring nie by jou gediagnoseer is nie, of as jy nie persoonlik iemand ken wat met ’n sekere soort versteuring gediagnoseer is nie, is dit moeilik om dit heeltemal te verstaan of begrip daarvoor te hê.

    Dr. Stefanie van Vuuren, ’n psigiater in Durbanville, sê aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) is ’n neuro-ontwikkelingsiekte waar die brein se vermoë om homself te reguleer (uitvoerende funksies), tekort skiet.

    Volgens dr. Renata Schoeman, ’n psigiater in Bellville, ly ongeveer een uit 20 (5%) kinders in Suid-Afrika aan AGHS.

    “Dit raak seuns en meisies. In ongeveer 60 tot 70% van mense is AGHS steeds teenwoordig in volwassenheid en ‘ontgroei’ ’n mens dit nie.”

    Dr. Schoeman gee ’n lys van die hoofkenmerke van AGHS:

    • Hiperaktiwiteit, byvoorbeeld die kind vroetel, kan nie stilbly nie en is gesel­serig.
    • Onoplettendheid, byvoorbeeld die kind raak gou verveeld, voltooi nie take nie, maak agtelosige foute, verloor dinge, kan nie instruksies volg nie, is ongeorganiseerd, blyk nie te luister nie, dagdroom.
    • Impulsiwiteit, byvoorbeeld die kind onderbreek ander, kan nie sy of haar beurt afwag nie, raak maklik gefrustreerd en ontsteld, kan afknouerig wees, dink nie aan gevolge nie.
    • Byna die helfte van kinders met AGHS kan ook leerprobleme hê, terwyl baie kan ly aan ’n swak selfbeeld, angs, depressie, gedragsprobleme en selfs dwelms kan misbruik
      as hulle nie behandel word nie.

    Die diagnose

    Net soos by enige ander siekte moet ’n diagnose gemaak word.

    “By sowel kinders as volwassenes moet die doel altyd ’n baie omvattende kliniese assessering wees, met aktiewe diagnose van komorbiditeit of uitsluiting van ander probleme, wat dikwels bykomende ondersoek en toetsing vereis,” sê dr. Schoeman.

    Dr. Van Vuuren sê die diagnose van AGHS is ’n kliniese diag­nose wat deur ’n psigiater of pediater (in die geval van kinders) gemaak behoort te word. “Daar is siftingsvraelyste beskikbaar wat help in die diag­nose en wat ook vir moniterings- doeleindes gebruik kan word. Bloed- en ander spesiale ondersoeke skakel ander oorsake van die kernsimptome uit, maar kan opsigself nie die diagnose bevestig nie.”

    Behandeling

    Om AGHS te behandel, moet die regte evaluasie gedoen word.

    “Soos genoem is ’n deeglike evaluasie en sekerheid oor die diagnose noodsaaklik voordat behandeling kan begin. ’n Omvattende behandelingsplan sluit in medisyne, psigososiale ingrepe (soos psigo-opvoeding, individuele en gesinsterapie, skool- of werkaanpassings), en ’n gesonde leefstyl,” sê dr. Schoeman.

    Dr. Van Vuuren stem saam dat AGHS net soos ander psigiatriese siektes ook volgens die bio­psigososiale model hanteer word. “Verskillende medisyne-opsies is beskikbaar. Dit sluit stimulante soos Ritalin en Concerta en nie-stimulante soos byvoorbeeld Strattera in. Ander opsies sluit in medisyne in die antidepressant-groep wat spesifiek op dopamien of noradrenalien werk. Dié neurotransmittors word geïmpliseer in die patofisiologie van AGHS. ’n Spesialis op die gebied van AGHS behoort dié medisyne voor te skryf aangesien dit nie in Suid-Afrika vir die behandeling van AGHS geregistreer is nie.”

    Oorsake van AGHS

    Die presiese oorsaak van AGHS is nog onbekend.

    Dr. van Vuuren verduidelik dat omgewingsfaktore wat normale breinontwikkeling negatief beïnvloed, as risikofaktore beskou word.

    “Dit sluit in alkoholgebruik en rook tydens swangerskap asook premature geboorte.”

    Dr. Schoeman noem ander redes wat bydra tot AGHS:

    • Oorerflikheid is die mees algemene oorsaak van AGHS. Byna 80% van kinders met AGHS het ouers of nabye familielede met dieselfde simptome.
  • Daar is ’n wanbalans van sekere chemiese boodskappers in die brein, veral in die dopamien- en noradrenaliennetwerk in die brein se frontale lobbe.
  • Probleme tydens swangerskap of geboorte kan ’n rol speel.
  • AGHS word nie veroorsaak deur swak ouerskap, swak huislike omstandighede, swak skole of dieet nie.
  • AGHS kan ook veroorsaak word as gevolg van middelmisbruik tydens swangerskap.
  • Nuwer navorsing toon aan dat tegnologie of die swak bestuur daarvan, byvoorbeeld oormatige skermtyd, wel kan bydra tot simptome soos ’n kort aandagspan en swak konsentrasie.
  • MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.