Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wees versigtig vir hartsiektes en beroerte

Hartaanvalle en beroertes raak ongelukkig ’n realiteit soos jy ouer word. Danielle Daniëls het gaan uitvind wat hierdie lewensgevaarlike kwale veroorsaak.

’n Deeglike hartondersoek moet deel wees van elkeen se jaarlikse voorkomende mediese ondersoek, of jy nou simptome toon of geen familiegeskiedenis van hartsiektes het nie. Foto: ISTOCK

Soos jy ouer word, raak jy al hoe meer vatbaar vir sekere siektes. Hartsiektes is een van die gesondheidsrisiko’s wat toeneem namate jy jou vyftigs nader.

Dr. Arien van der Merwe, ’n mediese dokter, sê altesaam 70% van sterftes weens hartaanvalle en beroerte kom voor by mense jonger as 55 jaar.

“Hartsiektes is nie slegs ’n manlike probleem soos wat jare gelede gedink is nie. Een uit vier (25%) vroue jonger as 60 jaar word geraak en hartsiektes is die oorsaak van dood by 20% van vroue.”

Simptome van 'n beroerte

’n Beroerte is ’n aanval op die brein waar bloed en suurstof van die selle afgesny word.

“Dit veroorsaak skade aan die selle, wat lei tot beroertesimptome. Die meeste beroertes (87%) word veroorsaak deur verstopte are as gevolg van klonte (iskemies). Die res (13%) is as gevolg van swak are wat bars en bloeding veroorsaak (hemorragies),” sê dr. Hobson.

Dr. Hobson sê simptome van ’n beroerte sluit die volgende in:

  • Styfheid of swakheid van die gesig, arm of been – veral aan die een kant van die liggaam.
  • Verwarring, probleme met spraak of om te verstaan.
  • Sukkel om met een of beide oë te sien.
  • Sukkel om te loop, duiseligheid, verlies van balans of koördinasie.
  • Erge hoofpyn met geen bekende oorsaak nie.

Verskeie faktore kan bydra tot hartsiektes. “ ’n Positiewe familiegeskiedenis en simptome soos kortasem, moegheid, chroniese hoes, blou of pynlike tone en vingers, uiterste sensitiwiteit vir koue, sere aan die bene, enkels wat swel, skielike uitputting, asemnood of hartkrampe nadat trappe geklim of gestap is, pyn oor die bors, in die linkerarm of wat in die nek op beweeg tydens rus of tydens oefening, moet deeglik geëvalueer word met ’n volledige fisieke ondersoek, basiese bloedtoetse en ’n inspannings- of stres-elektrokardiogram,” sê dr. Van der Merwe.

Of jy nou bogenoemde simptome ondervind of ’n positiewe familiegeskiedenis van hartsiektes het of nie, behoort ’n deeglike hartondersoek deel te wees van elkeen se jaarlikse voorkomende mediese ondersoek. “Holistiese en natuurlike, geïntegreerde welweesbehandelingsopsies is daarop gemik om energiemetabolisme in die hartselle asook bloedtoevoer na die hart te verbeter, terwyl dit gelyktydig geblokkeerde emosionele energie erken en dan vrystel,” verduidelik dr. Van der Merwe.

Beroerte is ’n breë term wat verwys na die akute onderbreking van bloedtoevoer na ’n gedeelte van die brein.

Volgens dr. Biano Hobson, kliniese koordineerder van Spescare, gaan beroertes gepaard met neurologiese simptome. “Die simptome hang af van die gedeelte van die brein wat aangetas is. Beroertes is wêreldwyd ’n groot gesondheidsprobleem. Wêreldwyd kan een uit ses mense aan ’n beroerte ly, en elke twee sekondes kry iemand een. Beroertes is algemeen.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) skat dat 17 miljoen mense jaarliks beroertes kry, waarvan 6,5 miljoen aan beroertes sterf en 5 miljoen permanent gestremd is.

“In Suid-Afrika sterf 33 tot 60 mense per dag weens hartaanvalle en beroertes. Beroerte was die derde en hartsiektes die vierde hoofoorsake van natuurlike dood in Suid-Afrika in 2014. Hoe vroeër jy behandel word, hoe beter is jou uitkoms,” sê dr. Hobson.

Sy voeg by dat alle beroertes of vermeende beroertes mediese aandag verg. “Die meeste beroertes vind by die huis plaas. Pasiënte herken dikwels nie beroertesimptome nie, selfs as hulle ’n hoë risiko loop om een te hê. Sowat 70% van die mense herken nie ’n vroeë beroerte nie en 30% soek slegs hulp na 24 uur.

Voedingstowwe en medisinale kruie vir goeie gesondheid

Om goeie hartgesondheid te handhaaf, is daar verskeie voedingstowwe en medisinale kruie wat jy moet inneem.

Dr. Van der Merwe sê hierdie is van die belangrikste voedingstowwe en medisinale kruie vir hartgesondheid:

  • ’n Kombinasie van anti-oksidante met genoeg vitamiene A, E en C asook minerale, sink, selenium en chroom.
  • Hoë dosisse (40 mg elk) van die B-vitamiengroep (B1, 3, 5, 6), cholien, inositol; 50 mikrogram B12 en biotien; 400 mikrogram foliensuur.
  • Magnesium en kalsium in terapeutiese hoeveelhede: 600 tot 800 mg kalsium en 400 tot 600 mg magnesium, albei in aminosuurcheleervorm om absorpsie te verbeter, en in die regte verhouding.
  • Ko-ensiem Q10 in terapeutiese hoeveelhede: ongeveer 40 mg per dag.
  • Knoffel: Eet fyngedrukte knoffel in jou kos – ten minste drie huisies per dag, met pietersielie om te keer dat jou asem na knoffel ruik, of drink knoffelkapsules.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.