Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wenke om jou gesond te hou oor hierdie feestyd

Die vakansie is die ideale tyd om te ontspan en die dinge te doen waarvoor jy nie tyd kry die res van die jaar nie, maar hoe maak jy as jy ewe skielik siek word? Danielle Daniëls het gaan vasstel hoe jy na jou gesondheid kan omsien.

Maak seker dat jy ’n noodhulptassie met al die nodige medikasie en pleisters saam op vakansie neem. Foto: ISTOCK

Kieme hou nie vakansie nie, daarom is dit beter om goed voorsorg te tref ingeval een of ander siekte jou of die kinders oorval terwyl julle vir ’n slag kans kry om te ontspan.

Dr. Anique Tredoux, ’n algemene praktisyn in Durbanville, sê daar is ’n hele reeks medikasies wat jy byderhand kan hou vir ingeval iemand skielik siek word terwyl julle met vakansie is.

“Die somerseisoen is bekend vir drie siektetoestande X somergriep, maagvirus en seisoenale allergieë. As jy dus jou noodhulptassie pak vir die vakansie, hou veral dié drie in gedagte.”

Dr. Tredoux se lys van medikasies vir die verskillende toestande, sluit in:

Somergriepmedikasie

Vir volwassenes:

  • Parasetamol en anti-inflammatoriese of ’n kombinasietablet vir lyfseer en koors.
  • Medikasie om die neus op te droog.
  • Hoesstroop.

Vir kinders:

  • Medikasie vir pyn en koors – onthou setpille werk veral goed vir die kleintjies.
  • Iets om die neus op te droog.

Maaggriepmedikasie

Vir volwassenes:

  • Vir diarree – Tasectan, Diosmectite of loperamied.
  • Vir naarheid – anti-emetika.
  • Probiotika.
  • Rehidrasievloeistof of -sakkies

Vir kinders

  • Setpille werk baie goed vir naarheid.
  • Diosmectite of Tasectan vir diarree.
  • Rehidrasievloeistof of -sakkies.
  • Probiotika

Allergie-medikasie

  • ’n Antihistamien vir volwassenes en kinders.
  • ’n Goeie neussproei – kortisoon vir die langtermyn asook ’n kortwerkende een.

Dr. Tredoux sê dit is ook belangrik om ’n noodhulptassie te hê met die volgende artikels daarin:

  • Middels vir die behandeling van brandwonde. Kry ’n toegeruste noodhulpsakkie by enige apteek.
  • Pleisters in alle grotes.
  • Antiseptiese vloeistof vir die skoonmaak van wonde.
  • ’n Driehoekverband – dit is baie handig om bykans enige wond te verbind.
  • Antibakteriese salf.
  • Salf vir insekbyte.
  • Salf vir velgedeeltes wat erg jeuk.
  • ’n Tangetjie – ’n splinter kan baie lastig raak!

Sibonile Dube, hoof van kommunikasie en openbare sake vir Afrika by Novartis South Africa, sê dit is noodsaaklik om belangrike medikasie in voorraad te hê.

“Sorg dat jy genoeg van jou voorskrif- of chroniese medikasie het om vir die duur van jou vakansie te hou, want jy kan probleme ondervind met jou voorskrif in afgeleë en oorgrens-vakansiebestemmings,” sê Dube.

Sy voeg by wanneer jy na ander lande reis, is dit raadsaam om by ’n reisdokter seker te maak of jou voorgeskrewe medisyne in daardie lande toegelaat word.

Sibonile sê ook dat jy moet uitkyk vir nadelige uitwerkings en interaksies.

“Sommige medikasie kan jou vatbaarheid vir sonbrand verhoog. Lees die ingeslote pamflet noukeurig deur of vra jou apteker oor die risiko’s voordat jy dit buite waag sonder beskerming teen die son. As jy beplan om alkohol te drink, lees jou medikasiepamflet deeglik deur oor die newe-effekte, of vra jou apteker of dit sinvol is om alkohol saam met ’n spesifieke medikasie te gebruik.”

Dit is belangrik om alle medikasie op ’n veilige plek te bêre.

“Jou gewone veiligheidsmaat­reëls kan verval as jy uit ’n tas leef of op ’n kamp. Maak seker jy stoor jou medikasie soos aanbeveel –gewoonlik in ’n koel, droë plek – en hou dit veilig buite bereik van klein kinders en babas. Moenie jou medikasie in ander verpakking plaas nie, want dit help keer dat jy medikasie vermeng en dit sluit doseringsfoute uit,” sê Sibonile.

Siekte is iets wat by almal voorkom, maar as jy die nodige voorsorg tref, kan jy dit dalk vryspring.

Dr. Tredoux beveel die volgende aan om nie maklik siek te word nie.

  • Bly gehidreer! Baie ure in die son laat jou baie maklik ontwater.
  • Neem ’n goeie multivitamien – jy eet oor die vakansie gewoonlik aansienlik minder gesond as deur die kwartaal.
  • Gebruik alkohol binne perke.
  • Gebruik ’n goeie sonskerm!
  • Indien jy chroniese medikasie gebruik, maak seker jy neem dit steeds gereeld tydens oor die feestyd.

Om vakansie in ’n ander land te hou, is ’n lekker ervaring. Jy moet hiervoor egter ook voorsorg tref om nie sommer siek te word nie.

Volgens dr. Tredoux moet jy seker maak dat jy ingeënt is teen die siektes wat voorkom in daardie omgewing of land.

“Indien jy onseker is, besoek jou naaste reiskliniek. Gaan jy na ’n malaria-omgewing, is dit absoluut noodsaaklik dat jy malaria-profilakse neem. Malaria moet nooit ligtelik opgeneem word nie. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie se malariaverslag het ongeveer 450 000 mense aan malaria gesterf in 2016.”

Dr. Tredoux voeg by dat dit belangrik is om jou eie volledige noodhulptassie en medisyne saam te neem. “Dokters is nie oral ewe bekombaar nie. Besoek jou algemene praktisyn voordat jy gaan sodat hy of sy jou kan help met ’n medisynetassie.”

Sibonile beveel ook aan dat jy voorsorg teen malaria moet tref.

“As jy ’n bekende malaria-omgewing gaan besoek, raadpleeg jou dokter ten minste twee tot drie weke voor jou vakansie vir malariateenmiddels. Sommige malaria-profilakse kan slegs enkele dae geneem word voordat jy ’n malaria-omgewing betree, maar as jy jou dokter vroegtydig raadpleeg, maak jy seker jy kry die geskikste malariateenmiddels vir jou en jou familie.”

“Jy kan ook jou risiko verminder deur jou met ’n malariamuskietweermiddel uit te smeer en ’n muskietnet te gebruik wanneer jy slaap,” sê Sibonile.

Wenke vir goeie gesondheid tydens oor die feestyd

Dr. Tredoux gee ’n lys gesondheidswenke:

  • Rus baie – Ons lewe in ’n tyd wat baie druk op ons plaas. Jou liggaam moet rus!
  • Geniet jou geliefdes – Die vakansie is ’n tyd waar families bymekaarkom. Geniet dit, neem foto’s, lag baie, waardeer mekaar se teenwoordigheid. In dié mediese veld word mens te gereeld gekonfronteer met mense wat hierdie jaar sonder ’n geliefde moet fees vier.
  • Pas jouself op – Smeer sonskerm aan, drink water en moenie oorboord gaan met kos nie (veral nie as jy aan ’n chroniese siekte ly nie).
  • Doen selfondersoek – Dink aan die jaar wat verby is en die jaar wat voorlê.
  • Ken die noodnommers in jou omgewing.
  • Soek vroegtydig mediese hulp indien jy of een van jou gesinslede dit benodig.
Meer oor:  Feestyd  |  Vakansie  |  Gesond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.