Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wêreld Psoriasedag: Behandel só ongemaklike toestand

Wêreld Psoriasedag vind op Vrydag 25 Oktober plaas en bewusmaking is dus in dié tyd belangrik rondom hierdie siekte. Tasneem van Rooyen het meer gaan uitvind oor die simptome en behandeling van psoriase.

Vroeë behandeling van psoriase is krities om erge simptome te voorkom.Foto’s: iSTOCK

Die doel van Wêreld Psoriasedag is om ’n soeklig te rig op die fisiese, emosionele en sosio-ekonomiese uitdagings wat met dié toestand gepaardgaan. Daar word ook van meer mense verwag om psoriase-lyers te ondersteun.

Psoriase is ’n oorkoepelende term vir toestande wat die vel en gewrigte weens ’n ooraktiewe immuunstelsel aantas.

Die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WHO) beskryf psoriase as ’n ernstige nie-oordraagbare siekte wat moontlik jou lewensduur kan verkort. Dit is dus belangrik om bewusmaking op ’n internasionale vlak te kweek.

Volgens dr. Nicola Lister, wetenskaplike hoofbeampte en mediese direkteur by Norvartis Suid-Afrika, is dit ’n mite dat psoriase slegs ’n velsiekte is.

“Hoewel die toestand homself meer in die vel openbaar, is psoriase ook direk verwant aan ander groot nie-oordraagbare siektes.

“Baie studies het getoon dat psoriase gepaardgaan met ernstige sistemiese kondisies soos kardiovaskulêre siektes, metaboliese sindroom, hoë bloeddruk, diabetes, depressie en Crohn se siekte.”

Sy sê ook dat die toestand die vermoë het om jou selfbeeld en verhoudings negatief te beïnvloed.

Wat is psoriase?

Dr. Lister beskryf dit as ’n chroniese, nie-oordraagbare en pynlike siekte wat op enige ouderdom kan ontwikkel.

“Dit is ’n ernstige toestand wat mense op ’n internasionale vlak beïnvloed. Psoriase tas meer as 125 miljoen mense oor die wêreld heen aan.”

Dit kan ook vereenselwig word met ’n inflammatoriese artritis genaamd psoriatiese artritis wat die gewrigte van die ruggraat en ander gewrigte aantas.

Simptome vir psoriase verskil van mens tot mens en word dus verskillend behandel.

Behandeling

Hoewel psoriase as ’n ongeneesbare toestand beskryf word, is daar wel maniere om die simptome te verlig.

Psoriase moet so vroeg as moontlik behandel word om gewrig-degenerasie- en misvorming sowel as gestremdheid te voorkom, verduidelik dr. Lister.

“Daar is drie vorms van behandeling om simptome van psoriase te beheer, naamlik topikale behandeling, fototerapie en sistemiese behandeling,” sê sy.

Dit is ook belangrik om te onthou dat die behandeling afhang van die vlak van die toestand. Vir matige psoriase wat ’n klein oppervlakte van die vel beïnvloed, kan velroom of salf gebruik word.

Volgens dr. Lister is dit ook belangrik om faktore te identifiseer wat aanleiding gee tot die toestand, sodat die pasiënt dit kan vermy.

“Dit is ook belangrik om bewusmaking te kweek oor die toestand sodat diegene wat daarmee moet saamleef, nie moet ly onder stigmas of diskriminasie nie.”

Sy sê dit is nie net pasiënte wat bewusmaking ernstig moet opneem nie, maar ook mense wat nie daaraan ly nie, omdat dit ’n fisieke en emosionele las kan raak.

Dís die simptome van psoriase

Volgens dr. Lister is die algemeenste simptome:

  • Afskilfering van vel
  • Gekraakte of droë vel
  • Jeukerigheid
  • Swelling
  • Rooierige kolle op die vel
  • Wit of silweragtige skubbe op die vel
  • ’n Branderige gevoel
  • Bloeding
  • Uitputting
  • Gewrigspyn
  • Naelprobleme (naels is gewoonlik dik en pokkerig

Na gelang van die soort psoriase, kan sere ook op die bene, bors en kopvel voorkom wat gewoonlik na ’n paar weke verdwyn. Weens psoriase se hoogs sigbare simptome, kan pasiënte afgesonder en in die verleentheid voel, asook kwaad en hulpeloos, wat dan hul verhoudings by die huis, skool en werk kan beïnvloed, meen dr. Lister.

Daar is verskillende soorte psoriase, dus sal die simptome van persoon tot persoon verskil. Sekere mense ervaar ligter simptome, terwyl ander dit weer baie ernstig kry.

Meer oor:  Wêreld Psoriasedag  |  Psoriase  |  Velgesondheid  |  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.