Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Yster: Dís hoekom jy moeg is
Kroniese moegheid is ’n algemene simptoom van ’n ystertekort, omdat dit jou liggaam verhoed om rooibloedselle, die draers van suurstof, te vervaardig.

’n Ystertekort is maklik om te toets en behandel. So hoekom ly soveel steeds daaraan? Deur Rochélle Human.

Moegheid, hunkerings, hoofpyne. Klink dit bekend? “Iemand wat gespanne of moeg is voel gewoonlik beter ná ’n paar dae se verlof en rus. Maar iemand met ’n ystertekort voel aanhoudend pap,” sê dr. Lucille Singh, ’n kliniese hematoloog van die Netcare Olivedale-hospitaal in Johannesburg.

Yster is nodig om hemoglobien te vorm, die deel van rooibloedselle wat suurstof in die liggaam vervoer. Minder yster beteken minder rooibloedselle en minder suurstof. Maar elke liggaamsel het ook yster nodig om energie te vervaardig. “Yster is dus nodig vir enige inspanning in jou liggaam, vir enige sel om te werk: spiere, hart, brein, niere – alles,” sê prof. Vernon Louw, hoof van die kliniese-hematologie-afdeling by die Universiteit van Kaapstad. Daarom is moegheid een van die bekendste simptome van ’n ystertekort.

En dan is daar die hunkerings na sekere kos– volgens hom ook een van die belangrikste tekens van ’n ystergebrek. “Baie min ander toestande gee cravings. Ek glo die meeste swanger vroue se hunkerings is weens ’n ystergebrek.”

Vernon was betrokke by navorsing wat gewys het pasiënte met ’n ystertekort het nie net drange om vreemde goed soos grond en ys te eet nie, maar ook vir gewone kosse – sjokolade, brood, tamaties, pasta. Voeg daarby hoofpyne, hare wat uitval, naels wat maklik breek en ’n bleek vel, en jy moet ongetwyfeld jou ystervlakke laat toets.

Hierdie mense kan ook hartkloppings kry wanneer hulle eenvoudige goed doen, sê Lucille.

“ ’n Mens kan die moegheid nog ignoreer of toeskryf aan iets anders, maar teen die tyd wat jy hartkloppings kry en kortasem is, is jy waarskynlik reeds anemies.”

Het jy geweet as jy gereeld hunker daarna om ysblokkies te eet, kan dit ’n teken van ’n ystertekort wees?

Behandeling is belangrik

’n Ystertekort wat nie behoorlik behandel en reggestel word nie, kan belangrike langtermyngevolge inhou. Chroniese moegheid kan tot gemoedsversteurings lei. “Die impak van ’n ystertekort op die gemoed is baie onderskat,” sê Vernon. “Ons vermoed daar is ook ’n uitwerking op die brein, maar die navorsing is nog in ’n vroeë stadium.”

Ystertekorte kom die meeste onder vroue, kinders, vegetariërs en veganiste voor – vroue weens menstruasie; kinders omdat hul ontwikkeling groter hoeveelhede yster verg; en vegetariërs en veganiste omdat vleis die beste bron van yster is.

Omdat yster in bloed is, verloor ’n mens yster wanneer jy bloed verloor. “ ’n Vrou se liggaam handhaaf ’n fyn balans. Sy neem yster op, en verloor dit weer. As sy net ’n bietjie swaarder menstrueer, is sy uit balans en verloor sy meer yster as wat sy inneem,” sê Vernon. ’n Volwasse vrou wat menstrueer, het ’n 40%- tot 50%-kans om ’n ystertekort te hê. In ’n Wes-Kaapse studie in 2016 van “gesonde” privaat en staatspasiënte was 57% van vroue en 11% van mans ystergebrekkig.

Swangerskap is veral ’n gevaarlike tyd vir ystergebrekkige vroue en hul fetusse. Elke swangerskap verg ’n ekstra 1 000 mg yster van ’n vrou se liggaam – die ekwivalent van ’n jaar en ’n half se ysteropname uit haar dieet, wat volgens Vernon gewoonlik in elk geval verloor word met menstruasie.

“Twee derdes van swanger pasiënte het of ontwikkel ’n ystergebrek. Gevolglik raak ’n derde tot die helfte anemies. As dit nie behandel word nie, het hulle by geboorte baie minder ysterreserwes. As hulle dán ernstige bloeding kry, is hulle baie nader aan doodbloei as wat hulle sou wees as hul ysterreserwes en hemoglobienvlakke normaal was.”

“Hierdie vroue word verwaarloos. En dis totaal voorkombaar en behandelbaar. Bloeding en bloedarmoede is die tweede grootste rede vir die sterfte van ma’s in Suid-Afrika. Dokters en klinieke wat swanger vroue behandel, besef nie altyd die kritieke belang van yster nie. Yster is net so belangrik soos foliensuur. As ’n ma beplan om swanger te word, moet sy al haar yster laat toets,” sê hy.

As die ma in die derde trimester ystergebrekkig is, en dit word nie dadelik aangevul nie, het die baba ’n dramaties verhoogde risiko van intellektuele en gedragsagterstande. ’n Yster­te­kort in kinders onder vyf jaar kan ook hul verstandelike ontwikkeling strem.

As jy nie ’n vegetariër is of borsvoed nie, moet die oorsaak vir ’n ystertekort ondersoek word, sê Lucille. Veral as jy ’n man is. Wanneer iemand bo 50 ’n ystertekort het (sonder dat daar onlangs erge bloeding was soos met ’n ernstige besering), moet die dermkanaal ondersoek word, want dit kan dui op ’n maagseer of selfs kolonkanker.

Ysterpille word verkeerd gebruik

Ysteraanvullings is algemeen beskikbaar en baie doeltreffend, tog beland talle pasiënte uiteindelik by spesialiste soos Lucille omdat die aanvullings verkeerd gebruik word.

“Mense wil ’n kitsoplossing hê. Hulle drink die pille vir ’n week of twee, en los dit dan sommer as hulle nie beter voel nie,” sê sy. Dit terwyl aanvullings waarskynlik vir drie maande tot ’n jaar gebruik moet word om hemoglobienvlakke en ysterreserwes te herstel.

Dit wat jy eet het ’n gróót invloed op ysteropname.

Of mense drink ysterpille saam met kosse en medikasies wat dit bind en verhoed dat die liggaam dit opneem. “Iemand kan ysteraanvullings neem en bitter klein hoeveelhede van daardie pil absorbeer,” sê sy.

“Dit wat jy eet het ’n gróót invloed op ysteropname,” sê Vernon. Dink aan die tipiese ontbyt: grane soos hawermout, melk, eiers, ’n koppie koffie of tee, gevolg deur jou aanvullings. Al daardie kosse verlaag opname.

Koffie en tee verminder ysteropname met tot 50%. In hierdie geval is kaffeïen nie skuldig nie, maar die polifenole in koffie en tanniene in tee. “Jy kan steeds hierdie kosse eet, los net ’n gaping van twee uur tussen dié kos en ysteraanvullings,” sê Lucille.

Die een uitsondering is lemoensap – die vitamien C daarin verbeter weer opname met sowat 50%. ’n Vyfde van ’n glas saam met ysterpille sal die ysteropname drasties verbeter, of 250 mg tot 500 mg van ’n vitamien C-aanvulling. Medikasie (teensuurmiddels) en ander aanvullings (kalsium) kan egter ysteropname belemmer.

Ysterpotte eerder as -pille?

Ysteraanvullings is wel duur – sowat ’n maand se voorraad Ferrimed sal jou meer as R300 uit die sak jaag. Mediese fondse hoef net chroniese ystertekort-behandeling as ’n voorgeskrewe minimum voordeel te dek as dit lewensgevaarlik is.

In Kambodja het Kanadese navorsers ’n oplossing ontwikkel vir wydverspreide ystertekorte in die bevolking met die Lucky Iron Fish (Luckyironfish.com), ’n klein ystervissie wat ’n mens binne-in jou kokende pot kos gooi. Binne tien minute voeg dit byna genoeg yster by die kos om ’n ystertekort te voorkom. Die bemarkers beweer een vissie (tans te koop teen $35) is gelyk aan vyf jaar se ysterpille.

Kinders, tieners en vroue wat menstrueer sal nie sommer ysteroorlading ontwikkel nie.

Sal ons swart ysterkospotte dieselfde kan doen? Geen studies is al hieroor gedoen nie, maar die kenners is optimisties.

Vernon sê iets soos die Lucky Iron Fish kan ’n soortgelyke uitwerking as ysteraanvullings hê, maar dan moet dit 90% van die tyd gebruik word.

“Die probleem is mense met genetiese ysteroorlading,” sê hy. In Suid-Afrikaners se geenpoel is hemochromatose (’n geneigdheid tot te veel yster, wat onder meer tot lewer- en hartskade kan lei) een van die algemeenste oorerflike siektes. “As jy vir mense met hierdie gene 90% van die tyd ystervissies in hul kos gooi, gaan hulle probleme ontwikkel.”

Dit kan ’n goeie opsie wees vir vegetariese gesinne, of vroue met swaar menstruasie, sê Lucille. “Kinders, tieners en vroue wat menstrueer sal nie sommer ysteroorlading ontwikkel nie. Dis moontlik ’n risiko vir die pa, maar dit behoort veilig te wees solank daar geen familiegeskiedenis van ysteroorlading, lewersiekte of -kanker is nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.