Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier Matriekklas
KYK: Ontmoet ons onderwysers!

Die span Kaapse onderwysers wat deel uitmaak van die Kuier Rapport Matriekklas 2020 is ’n groep inspirerende en passievolle opvoeders, wat hard gewerk het aan hul bydraes vir hierdie digitale matriekhersieningsprojek. Hul grootse wens is dat die matrieks van 2020 hul eindeksamen suksesvol sal aflê en bo hul eie verwagtinge sal presteer! Lees waarmee matrieks gewoonlik die meeste in hul betrokke vakgebiede sukkel en hul wyse raad vir die matriekklas van 2020.

winterskool logo

Hier is ons onderwysers: 

Stephen Adams (33)

Stephen Adams

Stephen Adams is ’n wiskunde-onnie by Hoërskool Curro Durbanville en bied al 12 jaar dié vak aan. “Leerders sukkel gewoonlik met die volume werk in graad 12 en vergeet dat alle werk wat vanaf graad 10 gedek is, nodig is om die werk in matriek beter te verstaan. Hulle vind ook die interpretasie van funksies/grafieke moeilik om te verstaan.”

Volgens Stephen sukkel leerders gewoonlik met meetkunde en die toepassing van stellings. “Dit is egter die wow-oomblikke wat die werk die moeite werd maak. Hoe hul gesiggies ophelder wanneer hulle wel die werk begin verstaan waarmee hulle gesukkel het. Dis ongelooflik.”

Hy bemoedig die matrikulante met die volgende woorde: “Hou moed en onthou dat jy dit so ver gemaak het. Hersien, hersien en nogmaals hersien. Jy het die vermoë om suksesvol te wees. Glo net in jouself!”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Etienne Pienaar (35)

Etienne Pienaar

Etienne Pienaar sê dis vir hom lekker om wiskunde as vak aan te bied en meen dat alles in wiskunde met mekaar praat. Hy is al vir die afgelope 12 jaar in die onderwys doenig en is tans werksaam by Hoërskool Curro in Durbanville.

“Leerders sukkel oor die algemeen om die verbintenis tussen hoofstukke te sien. Alles in wiskunde praat met mekaar. Om probleme op te los in graad 12 vereis dit van leerders om alle vaardighede wat hulle oor drie jaar opgebou het, te gebruik. Die beste manier om hierdie probleem aan te spreek, is om te oefen.”

Dié meneer se raad aan matrikulante is om nooit bang te wees om verkeerd te wees nie. “Moenie bang wees nie. Moet nooit moed verloor wanneer jy sukkel nie, probeer weer. Die prys wanneer jy ’n som regkry is die grootste beloning. Daarna sal jy dit nooit vergeet nie!”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Junaid Anthony (53)

Junaid Anthony

Junaid Anthony hou al vir die afgelope 32 jaar skool en is tans die departementshoof van Afrikaans by Hoërskool Milnerton. Hy put die meeste genot uit letterkunde.

“Letterkunde bevat sulke waardevolle lesse vir die leerders sowel as vir die opvoeders. Die kinders sukkel met kritiese taalbewustheid en visuele geletterdheid omdat hulle nie genoeg lees nie of nie genoeg blootstelling daaraan kry nie.”

Volgens hom is die probleme egter oorkombaar deur meer te lees, veral tydskrifte en koerante. “Al lees jy ook aanlyn – lees net! Op dié manier oefen jy jou vermoë om te lees met begrip. Matrikulante moet onthou dat hulle die sleutel tot hul sukses is. Wat jy insit, kan jy amper seker wees jy gaan uitkry. Onthou dat jy uniek is en dat daar net een van jou in die ganse wêreld is!”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Sonia Cupido (53)

Sonia Cupido

Sonia Cupido bied Afrikaans Huistaal en Eerste Addisionele Taal by Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein aan. Dié vrou het 32 jaar ondervinding in Afrikaans Huis- en Addisionele Taal. Sy vertel opgewonde dat sy elke afdeling van haar vakke geniet omdat sy sommer lekker met die leerders kan kommunikeer.

“Jy leer ken jou leerders – hoe hulle dink, voel en waar jy hulle kan ondersteun. In hulle skryfwerk kom die ware mens na vore. Om ’n pragtige skryfstuk te kry, is soos ’n geskenkie. Ek hou van lekker humor in my lesaanbieding. Gedigte is my gunsteling. Soveel lewenslesse vir elke leerder. Dis van onskatbare waarde.”

Tog moet dié juffrou erken dat baie kinders sukkel met skryfwerk en taalstrukture. “Leerders moet meer lees. Dit help met spelling, sinskonstruksie en idees vir skryfwerk. Hulle moet ook leer om uit hul harte te skryf.” Sy vertel dis belangrik vir haar dat leerders die WOW-faktor verstaan. “Woorde Open Wêrelde en ’n kind wat lees, is ook meer ingelig. Met wysheid en goeie kommunikasievaardighede kan enige iemand hoogtes bereik. Bly positief, droom groot en streef jou drome na.”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk.

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Adéle Poggenpoel (52)

Adele Poggenpoel

Adéle Poggenpoel is ’n onnie by Hoërskool Crestway in Retreat bied al vir 17 jaar Afrikaans Huistaal aan. Dié juffrou vertel eerlik dat letterkunde haar gunstelinggedeelte van die vak is. “Jy lei jou leerders as’t ware om die literatuur te begin verstaan en vat hulle op ’n reis van graad 8 tot 12 om aspekte te begin waardeer in die letterkunde. Dit maak dat hulle dit beter verstaan en geniet. Wanneer ’n kind by daardie punt kom, maak jy vir hom/haar ’n nuwe wêreld oop. Jy wakker op dié manier die kritieke denke van die kind aan.”

Sy vertel dat leerders baie met die taalaspekte van die vak sukkel. “Hulle moet besef dat jy nie die vraestel kan skryf sonder behoorlike voorbereiding nie. Studeer vir al jou vraestelle. Daar is ook baie YouTube-video’s wat dié taalaspekte dek (as data nie ’n probleem is nie).”

Adéle sê sy weet daar is baie vaardighede wat matrikulante nou forseer word om te leer, maar meen dat dit hulle net gaan help in die toekoms. “Julle moet nou op jul eie werk en moes ook leer hoe om aanlyn te leer. Jy kan net baat vind uit dié vaardighede. Alles van die beste vir elke graad 12-leerder van 2020. Ons is deel van jou span.”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Carmichelle Fransch (46)

Carmichelle Fransch

Carmichelle is ’n opvoeder by Rosendal Hoërskool in Delft en bied Engels Eerste Addisionele Taal aan. Dié juffie het 25 jaar ervaring in die onderwys agter die rug en sê dat letterkunde haar gunstelinggedeelte van haar vak is. “Leerders kan lekker interact. Hulle kan leer uit die stories en ervaringe wat in die boeke plaasvind. Jy kan iets vat wat in ’n fantasiewêreld gebeur en jy plaas dit in konteks in die realiteit, in die kinders se realiteit.”

Sy sê dat kinders die konteks van die werk verstaan, maar sukkel met die beantwoording van vrae. “Maak jouself bekend met hoe elke genre werk. Gaan na ou vraestelle en maak dan só die konneksie en leer die vaardighede aan oor hoe om ’n vraag uitmekaar te haal en ook die vaardigheid oor hoe om ’n antwoord bymekaar te sit. Dit is vaardighede wat aangeleer kan word.”

Dié juffrou sê waar daar ’n wil is, is daar beslis ’n weg. “Almal is oorweldig met die Covid-19, maar onthou dat julle dit reeds in julle het om suksesvol te wees. Die situasie bied nou aan julle die geleentheid om te besef die greatness wat binne julle is. As die wil daar is dan is daar ’n weg. Jy is in beheer van jou lewe en net jy kan die keuse maak of jy wil suksesvol wees of nie. Alles wat jy benodig om suksesvol te wees, is reeds binne jou – gebruik dit net!”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Damian Magerman (27)

Damian Magerman

Damian Magerman het vyf jaar ondervinding in die onderwys en bied Engels Huistaal en Engels Eerste Addisionele Taal by Hoërskool Bernadino Heights aan. Dié jong onderwyser is van mening dat mense die persepsie het dat Engels maar eintlik ’n vervelige vak is. “Ek maak dit my werk om hulle verkeerd te bewys en die vak vir die leerders lekker aan te bied en op ’n vlak wat hulle dit kan verstaan, veral die literatuur wat ’n apartheidsagtergrond het.”

Hy vertel dat leerders sukkel met kreatiewe skryfwerk en die begrip van vrae. “Om die probleme te verminder of te oorkom, moet leerders meer lees en oefen om te skryf. Hulle moet ook vorige vraestelle deurwerk vir hersieningsdoeleindes. Op dié manier stel hulle hulself bloot aan die manier hoe vrae in eksamenvraestelle gevra word.”

Dis ’n baie optimistiese Damian wat sê dat 2020 as die jaar bestempel word wat niemand weer wil herleef nie. “Dit is die jaar wat jy vir die res van jou lewe gaan onthou omdat jy ’n matrikulant was gedurende die aaklige tyd in ons wêreld. Laat elke oomblik tel. Dit is miskien nie maklik nie, maar dit gaan beslis die moeite werd wees. Ek wens julle alle voorspoed toe met die eksamens en jul toekomsplanne!”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Bridgitte Hendricks (50)

Bridgitte Hendricks

Bridgitte is al ’n allemintige 28 jaar in die professie en bied Engels Huistaal by The Settlers Hoërskool in Bellville aan. “Die een ding van Engels as vak gee, is dat jy oor enigiets kan gesels in die klas. Jy kan só hul taalgebruik agterkom – hul woordgebruik, sinskonstruksie en ook hoe hulle hulself kan uitdruk in die taal. Jy kan enigiets in ’n les omskep, want baiekeer is dit nie eens die kinders se eerste taal nie.” Sy benadruk dat die taalgedeelte van haar vak haar gunsteling is.

“Hulle lees nie hul voorgeskrewe boeke nie en dit is hoekom hulle sukkel met letterkunde. Die uitdaging is om vir hulle die nodige vaardighede aan te leer om die taalkonsepte te verstaan en te identifiseer en al wat daarvoor kan en sal help, is ou vraestelle. As jy nie iets ken of verstaan nie moet jy teruggaan tot jy dit verstaan. As jy dít doen, sal jy nie ’n probleem het met die vak nie.”

Bridgitte wil die matrikulante herinner dat hulle nie moet vergeet om kalm en gefokus te bly nie. “Die jaar is baie uitdagend en dit is die jaar wat julle geskiedenis gaan maak. Daar sal moontlik nooit weer ’n klas wees wat kan sê dat hulle ’n Covid-19-pandemie en hul matriekeindeksamen baasgeraak het nie. Gebruik dit as jou motto en staan sterk – go for it. Bly gefokus, leer hard en vra vrae. Ek glo in julle!”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Jeremy Dietsiso (27)

Jeremy Dietsiso

Jeremy Dietsiso (27) bied lewenswetenskappe aan en sê ná 10 jaar in die onderwys is hy steeds gaande oor sy vak, veral omdat dit soveel wetenskaplike temas insluit en ook die kind die geleentheid bied om krities oor baie aspekte van ons samelewing te redeneer.

“Leerders sukkel gewoonlik met die toepassing van wetenskaplike vaardighede. Lewenswetenskappe is ’n interpretasievak en dit is waarmee leerders baiekeer mee sukkel. Ek raai hulle aan om hard te leer vir die vak en veral gebruik te maak van vorige vraestelle. Daar is niks wat jou meer kan help as voorbereiding en hersiening nie.”

Hy sê hoewel dit ’n baie moeilike jaar vir matrikulante is, moet hulle geanker bly in hul geloof en hard werk om hierdeur te kom. “Dit is in tye soos dié wanneer dit belangrik is om te fokus en jou doel voor oë te hou. Onthou ook om te bid. Ook hierdeur sal julle sterker aan die ander kant uitkom.”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Vanessa Erasmus (30)

Vanessa Erasmus

Vanessa is vir die afgelope agt jaar in die onderwys en is ’n lewenswetenskaponderwyser by Hoërskool Bernadino Heights. “Lewenswetenskappe en selfs natuurwetenskappe gee my die geleentheid om leerders wys te maak met dinge wat hulle nog nooit gesien het nie. Die grootste kick wat ek kry, is wanneer leerders hul asem ophou en hulle oë soos Kersfeesliggies ophelder. Ek sê altyd vir my kinders – in dié klas deel ons sonskynstrale uit.”

Sy vertel laggend dat matrikulante altyd sukkel met die vreeslike wetenskaplike terme. “Dit is vir hulle so onbekend en snaaks, veral in Afrikaans. Een voorstel is om hierdie woorde te gebruik asof dit ’n algemene woord is. Op skool was my vriendin die Lus van Henle (nier). Sy was baie lank en dit het my gehelp om die terme van die nier beter te onthou, want ek assosieer dit met werklike gebeurtenisse of persone.”

Dié sonskynjuffie sê die matrieks van 2020 moet hul deursettingsvermoë tot die uiterste beproef. “Dit is maklik om op te gee, maar baie moeiliker om aan te hou. Sukses het nog nooit maklik gekom nie, so byt vas. Aan die einde van elke donker tonnel is daar ’n lig. Alle liefde en sterkte – ek glo in julle!”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Monique Collins (47)

Monique Collins

Monique bied wiskundige geletterdheid aan by Kuilsrivier Tegniese Hoërskool en is al 24 jaar in die onderwys. Dié juffrou vertel dat die vak prakties, realisties, interessant en soms uitdagend is. “Dis vir my belangrik om die jong volwassenes voor te berei vir hoe om rekeninge te lees en te interpreteer, hoe om te begroot, hoe om hul belasting te doen en ook hoe om finansiële besluite te neem.”

Sy brei uit dat leerders sukkel om vrae in die vak te interpreteer en dit is ook hoekom hulle nie verstaan wat van hulle verwag word nie.” Die meeste van die leerders sukkel met meting, hulle kan nie visualiseer nie en dit is waar die grootse probleem lê. Woordeskat is ook ’n reuseprobleem en daaraan moet definitiewe aandag geskenk word. Die probleem kan oorbrug word deur die aanbieding meer prakties te maak, die leerder meer bloot te stel aan hoe om vrae te interpreteer en hoe om vrae te ontleed.”

Dié onnie is van mening dat elke kind ’n droom het en soms het hulle net iemand nodig om in hulle te glo, en soms is dit juis die onderwysers wat die rol moet vervul. “Ons het een van die belangrikste rolle ooit. Ons moet daardie jong mensies ondersteun. Hulle sê mos agter elke man – nou netso agter elke dokter, verpleegster, polisieman/vrou, tandarts, akteur, sanger, ensovoorts is daar ’n onderwyser wat in hulle geglo het en steeds glo. Alle sterkte vir die klas van 2020 onder dié omstandighede met die onsekerheid, stres en onderbrekings wat deur Covid-19 teweeggebring is. Werk hard en moenie fokus verloor nie. Ons hou julle styf vas in ons gebede.”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Racheline Lesch (52)

x

Dié juffrou is al vir 29 jaar in die onderwys en bied tans wiskundige geletterdheid by Hoërskool Malibu aan. Sy sê sommer prontuit dat wiskundige geletterdheid nie die monstervak hoef te wees wat jou van al die aanloklikste loopbaangeleenthede weghou nie.

“Daar is fantastiese studierigtings wat gevolg kan word met goeie wiskundige geletterdheiduitslae. Die geheim is dat jy moet sorg dat jy die basiese konsepte van die begin af verstaan. Die vak is op werklike scenarios gebaseer en dit maak die onderrig daarvan baie makliker en interessant. Jy kan dus jou les prakties maak deur voorbeelde in die klaskamer te gebruik waarmee leerders kan identifiseer.”

Volgens Racheline sukkel leerders veral met Vraestel 2 van wiskundige geletterdheid. “Dit bevat gewoonlik baie inligting en leerders moet met begrip lees om sodoende die vraag te verstaan en te ontleed. Baie leerders sukkel egter om met goeie begrip te lees en verstaan dus nie altyd die vraag so goed nie. Hulle sukkel gevolglik om die vraag goed te beantwoord. Onderstreep die kernsinne (gewoonlik die gedeelte waar getalwaardes aangedui word) om dit sodoende te laat uitstaan. Dit is dan makliker vir leerders om te sien watter inligting gebruik moet word om ’n spesifieke vraag te beantwoord.”

Sy sê die matriekklas moet nooit hul droom uit hul oog verloor nie. “Hou die eindpaal in sig en hou jou oog op die doel. Werk hard daaraan en reik vir die sterre!”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Marion Adams (49)

MarionAdams

Marion is al vir 25 jaar in die onderwys en bied besigheidstudies by Charleston Hill Sekondêre Skool in die Paarl aan. “Wat vir my lekker en interessant is van my vak is dat dit die leerders kan help met die wêreld van werk. Hulle kan die lesse vat wat hulle in die klaskamer geleer het en dit ná skool toepas.” Ook Marion sê dat leerders deesdae te min lees. “Leerders lees baie min, so hul interpretasievermoë is baie swak en dit het ’n groot impak op die beantwoording en interpretasie van die vraag. Hulle ken die werk, maar omdat hulle nie die vraag verstaan of lees nie, kan hulle dit nie binne die regte konteks beantwoord nie.”

Dié juffrou raai die leerders aan om deur ou vraestelle vanaf 2016 te werk en die vrae met die antwoorde te oefen en uit te skryf. “Wanneer julle deur die vraestelle werk, sal julle sien dat baie vrae oor en oor gevra word. Fokus op twee hoofonderwerpe en leer alles oor daai onderwerp en dan kan jy maklik by ’n A-simbool uitkom. Ek sê nie skeep die ander onderwerpe af nie, maar zoom in op besigheidsrolle en besigheidsbedrywighede omdat dit redelik maklik is om onder die knie te kry.”

Sy wens die matrikulante alle sterkte toe met hul eindeksamen. “Dit was ’n moeilike jaar – julle was bang, gefrustreerd en paniekbevange, maar uithou, aanhou en moed hou. Aan die einde van die dag gaan dit die moeite werd wees. Sit alles in, want ons almal weet van hard werk kom sukses!”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Amoy Truter (51)

Amoy Truter

Dié sprankelende vrou is al vir die afgelope 29 jaar in die onderwys en bied besigheidstudies by Noorder Paarl Hoërskool aan graad 11- en 12-leerders. “Wat die vak vir my so lekker maak, is dat die inhoud daarvan so relevant is en baie daarvan vorm deel van die kind se ervaringswêreld. Dit wat ons lees en hanteer, is dinge wat rondom ons gebeur. Ons sien dit op televisie en lees dit in die media. Nie al die inhoud nie, maar ’n baie groot gedeelte daarvan.”

Sy vertel dat die kinders dikwels sukkel om vrae reg te lees en te verstaan, begrip te toon, en met die werkslading. “Besigheidstudies behels toepassing van die inhoud wat jy leer. Dis nie net die studeer koue feite nie, maar die implementering daarvan. Leerders moet altyd connect met hul opvoeder en met die vak.”

Sy moedig matrikulante aan om ’n studierooster op te stel en te hou daarby. “Doen jou heel beste. Vra vir hulp as jy met ’n betrokke onderwerp sukkel, probeer dan om dit baas te raak. Maak seker dat jy die riglyne met betrekking tot die beantwoording van vraestelle navolg, ook dít wat jou onderwyser in die klaskamer gee. Jy kan. Glo in jouself en droom groot!”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Abigail Albertus (48)

Abigail Albertus

Abigail is ’n onderwyser by Hoërskool Bernadino Heights en woeker al vir 25 jaar in die onderwys. Dié juffrou bied toerisme en skeppende kunste aan. “Die vakke bied my die geleentheid om leerders ver buite hulle omstandighede na ander wêrelddele te neem wat sommige van hulle net van sal lees of op TV sou sien. Ek het ’n passie vir toerisme én geskiedenis en wanneer ons ’n les doen, gaan ek baiekeer verder as die vakinhoud self sodat die kind ’n beter idee kan hê van die konteks.”

Volgens haar sukkel die kinders die meeste met die tydsone-somme in toerisme. “Die oplossing is om dié som in kleiner stukke op te breek en te simplify vir hulle. Ook ek verstaan dan die somme beter só.” Sy herinner matrieks daaraan dat hulle nie moet toelaat dat hul omstandighede hul eindbestemming bepaal nie. “Die wêreld is letterlik oop vir julle daarbuite. Gaan verken die wêreld en maak dit joune. Dit maak nie saak waarvandaan jy kom nie, maar waarheen jy op pad is."

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Raymond Ross (52)

Raymond Ross

Dié passievolle meneer bied geskiedenis aan by Hoërskool Hottentots-Holland in Somerset-Wes en is al vir ’n allemintige 30 jaar in die onderwys. “Ek geniet my vak besonders baie omdat dit vir ons kinders leer waarvandaan hulle kom en wanneer ’n kind weet waar hy/sy vandaan kom dan weet hulle ook waarheen hulle op pad is en hoe baie dinge verander het oor die jare.”

Hy vertel dat kinders geweldig baie sukkel met die opstelvrae. “Die kinders leer die lang vrae soos ’n papegaai en verstaan nie regtig die argumentasielyn van die vraag nie. Hulle sukkel om die oorgang te maak van graad 8 en 9 toe hulle soos papegaaie die vrae kon leer tot in matriek waar jy eintlik die vraag moet verstaan om jou opinie te formuleer. In die eindeksamen moet matrikulante toon dat hulle die vrae verstaan en die vraag kan vat en dit in ’n stelling kan omskep anders word hulle gepenaliseer.”

Raymond sê die matrikulante moet in dié moeilike tye onthou om vas te hou en om aan te hou. “Ek weet dit is ’n geweldige moeilike jaar, maar druk deur en moenie opgee nie. Glo in jouself en jou vermoëns om die jaar vas te vat. Jy kan dit doen – jy moet net hard leer en deurdruk!”

Klik hier om dié onderwyser se lesse te kyk

Meer oor:  Kuier  |  Matriekklas  |  Rapport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.