Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Jip
Boekresensie
Liefdesroman bekyk liefde van beide kante
Hiraeth Phoenix

Hoe gereeld word die kleurryke spektrum van liefde in swart letters vasgevang?

Kan die bloei-, blom- en kwyntyd van ’n liefdesverhouding tussen bladsye bewaar word?

“Hiraeth Phoenix”, ’n puik liefdesroman, slaag ongetwyfeld daarin om die glans, glorie, treur en trane van die liefde te verwoord.

Die geheim van ’n verhouding lê opgesluit in die subtitel van die digitale boek: “Every story has two sides”.

Juis dáárom is die uitleg van die boek besonders: In die eerste gedeelte van die boek kry die leser die geleentheid om vanuit die manlike oogpunt die saak te bekyk.

Emosiebelaaide beskrywings, verwyte en herinneringe sal lesers ’n volmaakte prentjie van die verhouding gee – uit slegs één kant van die verhouding.

In die tweede deel, waar die leser in die vrou se skoene staan, word die meer volledige prentjie met haar vertellings en sienings oor die verhouding geskets.

Soortgelyke gebeure, waarmee die man gewroeg het, word bespreek. Dis alledaagse gebeure waarmee enige verhouding, een of ander tyd, gekonfronteer word.

Regdeur die verhaal wroeg die leser met die gedagte of hierdie twee afsonderlike weergawes en belewenisse, weer in een verweef sal word.

Sal hierdie komplekse verhouding soos ’n Phoenix uit die as verrys?

Wat hierdie boek nog meer besonders maak, is die 16 gedigte wat tussendeur die verhaal toelig en ondersteun. Komplementerende, gevoelvolle en taalryke digwerk sal lesers se hartsnare roer.

Pragtige digkuns bekoor die verhaal en bied lesers die geleentheid om terug te verwys na kosbare, emosiebelaaide oomblikke in die boek.

Die taalgebruik in die boek is ryk, beskrywend en keurig. Dis indrukwekkend hoe die skrywer daarin slaag om die twee wêrelde perfek te verwoord – soos ’n man óf vrou sou wou.

Die debuutroman van hierdie opkomende skrywer is op Amazon beskikbaar.

Hiraeth Phoenix is ’n spogstuk wat beswaarlik neergesit kan word. Nog nooit was dit so waar nie: Elke storie het inderdaad twee kante.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.