Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
MySkool
En die wenner van Blitsbrein Junior is . . .
Almé Hugo van die Hoërskool Zwartkop in Centurion.

Almé Hugo (17) van die Hoërskool Zwartkop in Centurion is Maandagaand as die Blitsbrein Junior-kampioen in VIA en Netwerk24 se vasvra-kompetisie vir tieners aangewys. Colette Combrink het met haar gesels.

As haar teenstanders nie heeltyd vir haar sportvrae gekies het omdat hulle gedink het sy gaan dit nie kan antwoord nie, kon hulle dalk meer sukses behaal het, spot Almé.

“Dit het eintlik nogal seksisties gevoel dat hulle gedink het ek sal nie weet wat in sport aangaan nie. Ek speel eerstespan-netbal en kyk graag sport.”

Hulle sou haar eerder met wiskunde- of wetenskap-vrae kon pootjie. “Ek dink nie ek het een wiskunde-vraag (in die reeks) reg beantwoord nie!”

Nie dat daar enige kwade gevoelens is nie: “Ek moet wel sê my teenstanders was baie oulik, maar ek is tog bly ek het hulle geklop.”

Haar teenstanders in die eindronde was Luc van der Veen (16) van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch en Joshuan du Toit (15) van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria.

Met ’n pa in die nasionale weermag het Almé haar al in skole van Limpopo tot Oudtshoorn en Pretoria bevind: “Ek dink my voorbereiding vir die reeks was eintlik maar net die lewe; al die plekke waar ek was en die ervarings wat ek meegemaak het.”

Dié Blitsbrein staan nie vir enigiemand terug nie. Sy is ’n jong mens wat haarself “goed kan handhaaf in enige situasie”, sê haar trotse ma, Madriëtte.

KYK NOU: Al 13 episodes van Blitsbrein Junior op NW24TV

Sy sê Almé was maar altyd ’n nuuskierige en ernstige kind. “Sy is gebore met ’n sin vir reg en verkeerd.”

VIA se gewilde vasvra-program Blitsbrein het in 2020 ’n jonger baadjie aangetrek sodat tieners mekaar die stryd kon aansê.

Die leerlinge wat aan dié seisoen deelgeneem het, is almal hoërskoolleerlinge wat in 2019 aan Netwerk24 se gelyknamige algemene-kennis-kompetisie deelgeneem het. Dié kompetisie is saam met Die Burger, Beeld en Volksblad aangebied.

Almé het nasionaal die tweede plek in dié kompetisie behaal, maar kon op die ou end met die groot prys van R30 000 wegstap toe sy op VIA as Blitsbrein Junior bekroon is.

Sy het ook net lof vir die produksiespan en die aanbieder, Pietie Beyers: “Pietie was so nederig en snaaks, die hele span het ons te alle tye op ons gemak laat voel, én die kos op stel was heerlik!”

Almé sal hierdie ervaring vir enigiemand aanbeveel: “Buiten die prysgeld (myne lê in ’n belegging vir die maer studiejare) is die ervaring net besonders. Jy leer meer van jouself, van ander mense en van die wêreld oor die algemeen as wat jy ooit gedink het jy in so ’n kort tydjie of in ’n televisieformaat sal kan leer.”

Almé wil graag in 2021 internasionale handel studeer. “Selfs ekonomie en filosofie, ons kyk maar waarvoor ek inkom. Ek vind net die sakewêreld en akademie ontsettend interessant.”

Maar ’n vyfjaarplan, dié het sy nie: “Dit gaan alles seker baie verander oor die volgende paar jaar, maar die groot droom is nog altyd om eendag my eie geselsprogram op televisie te hê, iets soos Almé Stories of Hugo Girl.”

Skryf in vir ‘Blitsbrein Junior 2020’

Inskrywings vir Blitsbrein Junior 2020 kan nou gedoen word.

Leerlinge wat vanjaar in gr. 8 tot gr. 11 is, kan aan dié algemene-kennis-kompetisie deelneem. Kontantpryse is op die spel.

Die kompetisie bestaan uit twee rondes: die uitdunronde (10 Julie) en die eindronde (15 Augustus).

Besoek www.cumlaudemedia.com om in te skryf. Sluitingsdatum vir inskrywings is 7 Julie 2020.

Meer oor:  Via  |  Pietie Beyers  |  Blitsbrein  |  Blitsbrein Junior
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.