Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
MySkool
Skolenuus: Hier is ons wenners!
Skolenuuskompetisie

Netwerk24 se skolenuuskompetisie het vanjaar “uitsonderlike inskrywings” opgelewer.

“Die gehalte van die inskrywings het ons verbyster,” het Anika Pieterse, sameroeper van die kompetisie, gesê.

Netwerk24 het hierdie kompetisie in samewerking met Die Burger, Beeld en Volksblad aangebied.

“Ons is opgewonde oor die jong joernaliste en fotograwe wat die skole oplewer en moedig hulle aan om voort te gaan om vir hulle skool se gedrukte of digitale skoolkoerant te skryf en foto’s te neem. Dit is ’n wonderlike slypskool waar die joernalistiek-gogga die meeste van ons joernaliste ook gebyt het.”

Dit is verblydend hoe kreatief skole is met die gebruik van digitale platforms om die nuus van hul skool met hul skoolgemeenskap te deel.

Waar skole voorheen net hul gedrukte skoolkoerante kon inskryf, kon hulle vanjaar ook vir die eerste keer in digitale kategorieë vir die kompetisie inskryf, insluitende beste digitale skoolkoerant, beste Facebook-blad en beste Instagram-blad.

“Dit is verblydend hoe kreatief skole is met die gebruik van digitale platforms om die nuus van hul skool met hul skoolgemeenskap te deel,” voeg Pieterse by.

Hier is die wenners van die verskillende kategorieë:

Beste skoolkoerant (hoërskole)

Wenner: Helpie Flitse van die Helpmekaar Kollege in Johannesburg, redakteur: Shane Lottriet

Kommentaar van die beoordelaars:

“Baie geluk aan die Helpmekaar Kollege met ’n uitstekende skoolkoerant. Die skoolkoerant gee die leser dadelik die gevoel van watter soort skool die Helpmekaar Kollege is. Baie geluk met die goeie gebruik van foto’s, goed geredigeerde teks en ’n kreatiewe aanslag tot berigte.”

Helpmekaar Kollege
Die Helpmekaar Kollege se skoolkoerant, Helpie Flitse, is as die beste gedrukte skoolkoerant (hoërskole) aangewys in Netwerk24 en Beeld se skolenuuskompetisie.

Beste skoolkoerant (laerskole)

Wenner: O’Kulis van die Willem Postma Primêre Skool in Bloemfontein, redakteur: Anke van der Poel

Kommentaar van die beoordelaars:

“Die Willem Postma Primêre Skool kan baie trots wees op hul skoolkoerant – dis netjies uitgelê en baie leesbaar. Die taalgebruik spreek van goeie redigering en die gebruik van foto’s is baie effektief. Ons is beïndruk met die gehalte van die berigte en selfs die gebruik van infografikas. Hierdie skoolkoerant het baie elemente wat ’n regte koerant ook het – ’n spotprent, ’n brieweblad en selfs ’n boekresensie en ’n resep!”

Die voorblad van die Willem Postma Primêre Skool s
Die voorblad van die Willem Postma Primêre Skool se skoolkoerant, O’Kulis.

Beste uitleg van ’n gedrukte skoolkoerant

Wenner: Jani Badenhorst, Hoërskool Stellenbosch

Kommentaar van die beoordelaars:

“Wat ’n vars aanslag! Dit is duidelik hierdie skooltydskrif hou daarvan om met uitleg te speel en kanse te vat. En dit wys! Bo en behalwe dat dit kreatief en speels is, is die tydskrif ook baie leesbaar en gebruikersvriendelik. Die uitlegkunstenaar maak goed gebruik van verskillende lettertipes en gebruik gehalte foto’s baie effektief. Welgedaan!”

Hoërskool Stellenbosch se skooltydskrif, Stellosko
Hoërskool Stellenbosch se skooltydskrif, Stelloskoop.

Beste nuusberig

Wenner: Marlé Oosthuizen, Hoërskool Bonnievale

Kommentaar van die beoordelaars:

“Die beoordelaars was beïndruk met die deeglikheid van hierdie berig. Marlé het kommentaar van al die betrokke partye gekry en boonop berekeninge gedoen om die berig nog sterker te maak. Die kop van die berig is uitstekend. Dit is ’n goed gestruktureerde nuusberig – nes ’n regte nuusberig wat die koerant of Netwerk24 sou kon haal. Baie geluk!”

Skolenuuskompetisie
Marlé Oosthuizen se voorbladberig oor watertenke op hul skoolgrond.

Beste onderhoud

Wenner: Lané Rossouw, Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein

Kommentaar van die beoordelaars:

“Ons het gehou van die feit dat Lané kreatief was en ’n vergelyking tussen Suid-Afrika se goue seun Wayde van Niekerk en hul skool se eie ster-atleet, Keenan Cloete, getref het. Dit het gewerk en die leser kry sommer dadelik ’n prentjie in hul kop van wie en wat Keenan is. Lané skryf lekker gemaklik en die storie het goed gevloei van begin tot einde. Daarbenewens is ons altyd bly as ’n storie nie net met ’n vervelige aanhaling begin nie. Lané het mooi gaan nadink oor haar inleiding en seker gemaak dat sy jou intrek, sodat jy nog wil lees. Boonop was die taalgebruik goed en is daar ’n lekker afwisseling tussen ernstig wees en tong-in-die-kies-skrywery.”

Skolenuuskompetisie
Lané Rossouw van die Hoërskool Jim Fouché het die prys vir die beste onderhoud gewen.

Beste diepteberig

Wenner: Suzan Wentzel, Hoërskool Bonnievale

Kommentaar van die beoordelaars:

“Die skrywer slaag daarin om ’n onderwerp te kies wat tot haar lesersmark spreek en baie relevant tot hulle is. Sy kry dit reg om ’n wetenskaponderwerp eenvoudig, tog interessant oor te dra – dis bruikbaar en interessant. Welgedaan!”

Skolenuuskompetisie
Suzan Wentzel van die Hoërskool Bonnievale het die prys vir die beste diepteberig gewen.

Beste sportberig

Wenner: Cilliers Diedericks, Hoërskool Waterkloof in Pretoria

Kommentaar van die beoordelaars:

“Bergfietsry is nog ’n ontluikende sportsoort in Suid-Afrika en nie ’n sport waaroor daar gereeld in die hoofstroommedia geskryf word nie, maar Cilliers het in sy berig dit reggekry om die leser in te trek. Sy inleiding was baie kreatief en iets waarmee enige iemand hulself kan vereenselwig. Bo en behalwe die kreatiwiteit was die berig ook baie deeglik. Hy het steeds al die wie-, wat-, waar-, wanneer- en hoe-vrae beantwoord.”

Beste nuusfoto

Wenner: Riken Willemse, Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein

Kommentaar van die beoordelaars:

“Hierdie foto vertel ’n storie. Daar is lekker baie aksie en genoeg konteks in die agtergrond om dit ’n baie goeie nuusfoto te maak. Die komposisie van die foto is baie sterk en ons kan sien daar was beplanning aan die komposisie. Die foto spreek ook van goeie tegniek.”

Riken Willemse wen die kategorie vir beste nuusfoto met ’n foto van die Hoërskool Jim Fouché se Gradedag.

Beste sportfoto

Wenner: Nikita Dreyer, Hoërskool Vredendal

Kommentaar van die beoordelaars:

“Ons is beïndruk met hierdie foto – nie net vir die aksiebelaaide oomblik wat die fotograaf vasgevang het nie, maar ook vir die emosie in die foto. Dit voel of ons in daardie oomblik saam met die rugbyspelers op die veld is. Die fokus van die foto is op die regte speler, maar die ander spelers is steeds genoeg in fokus om konteks vir die foto te gee.”

Nikita Dreyer van die Hoërskool Vredendal se skoolkoerant, Die Parskuip, wen die afdeling vir die beste sportfoto met ’n rugbyfoto.

Beste spotprent

Wenner: Jana Coetzee, Hoërskool Bonnievale

Kommentaar van die beoordelaars:

“Jana se spotprent lewer suksesvol kommentaar oor die invloed wat tegnologie op skoolfoto’s vandag en in die toekoms gaan hê. Haar tegniek het uitgestaan in die kompetisie. Baie geluk!”

Skolenuuskompetisie
Jana Coetzee se spotprent oor skoolfoto's is as die beste spotprent aangewys.

Beste digitale skoolkoerant

Wenner: Voorwaarts van die Hoërskool Bonnievale, redakteur: Alèza van Zyl

Kommentaar van die beoordelaars:

“Die Hoërskool Bonnievale se inskrywing in hierdie kategorie het kop-en-skouers uitgestaan bo die res. Dit is duidelik Alèza en haar span werk hard om hierdie digitale webtuiste deurlopend by te werk met die jongste nuus oor die skool. Die webtuiste self is skoon en gebruikersvriendelik. Die gebruik van foto’s is baie effektief. Die digitale skoolkoerant spog ook met elemente soos kommentaar-velde, ’n soekfunksie en spasie vir borge en advertensies. Voorwaarts is ’n uitstekende voorbeeld van die evolusie van die gedrukte skoolkoerant na ’n digitale skoolkoerant. Welgedaan!”

Skolenuuskompetisie
Skermgreep van die Hoërskool Bonnievale se aanlyn skoolkoerant, Voorwaarts.

Beste Facebook-blad

Wenner: Laerskool Rustenburg

Kommentaar van die beoordelaars:

“Die Laerskool Rustenburg se Facebook-blad skep ’n baie goeie indruk as ’n mens vir die eerste keer daarop land. Veral die video wat as cover-foto gebruik word, vertel dadelik vir die besoeker die storie van die Laerskool Rustenburg. Ons was verder beïndruk deur die skool se gebruik van ’n Facebook-groep en die gebruik van hutswoorde.”

Volg hul Facebook-blad hier.

Skolenuuskompetisie
'n Skermgreep van Laerskool Rustenburg se Facebook-blad.

Beste sosialemediaveldtog

Die beoordelaars het besluit om nie ’n wenner in hierdie kategorie aan te wys nie. Geen van die inskrywings het aan die kriteria voldoen nie.

Beste Instagram-blad

Wenner: HTS Drostdy in Worcester

Kommentaar van die beoordelaars:

“Ons was baie beïndruk met die HTS Drostdy se gebruik van Instagram, veral die gebruik van IGTV en galerye. Ons hou van die styl van die foto’s en die manier waarop hulle Instagram as ’n bemarkingshulpmiddel gebruik.”

Volg hul Instagram-blad hier.

Skolenuuskompetisie
'n Skermgreep van die HTS Drostdy se Instagram-bladsy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.