Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Jip
‘Al die opofferings is nóú die moeite werd’

Eers skok, toe senuwees en toe tref die opwinding.

Dís hoe Luan Grobbelaar sy emosies beskryf toe hy uitgevind het hy is gekies as deel van die span van 23 swemmers wat aan vanjaar se Statebondspele in Australië gaan deelneem.

Op die ouderdom van 15 is Luan Grobbelaar, ’n gr. 10-leerling by Curro Durbanville, gekies vir die Suid-Afrikaanse senior swemspan wat binnekort die land by die Statebondspele in Australië gaan verteenwoordig.Foto’s: COLLEEN JUST

“Toe weet ek dadelik: nou begin die harde werk.”

Luan (15) was op pad na die hoof van Curro Durbanville se kantoor om gelukgewens te word met hoe goed hy in die kwalifiserende ronde gevaar het.

“Ek het nog vir die hoof gewag en toe kom een van die seuns vir my geluk sê oor ek die span gehaal het. Ek het gedink hy is seker deurmekaar. Toe ek die berig gaan soek en my naam sien was ek eers geskok,” sê hy.

Die senior Statebondspele vind in April in Australië plaas en al is hy senuweeagtig daaroor, sien hy ook baie uit.

“Gelukkig is daar ’n paar ander swemmers wat ek ken ook in die span, so daar is bekende gesigte en ek kan ook nie wag om deel te neem en ondervinding op te doen nie.”

Toe weet ek dadelik: nou begin die harde werk

Sy gemengde emosies oor die spele het ook daarmee te doen dat dit die eerste keer is wat hy aan die senior spele sal deelneem.

Verlede jaar het hy nog aan die junior spele deelgeneem en nou gaan hy Suid-Afrika saam met ander groot name verteenwoordig.

Skoolwerk vorm steeds ’n belangrike deel van Luan se lewe en al oefen hy ses dae per week, onder meer voor en ná skool, gebruik hy Sondae om te rus en huiswerk te doen.

“Maar selfs op my afdag sal ek bietjie swem vir ontspanning. Al is dit net om op die lilo in die water te lê. Ek speel ook met die hond, kyk televisie, lê net en speel speletjies,” sê hy.

Vir Luan is swem egter nie ’n sport of werk nie. Dit bly lekker en iets wat hom laat ontspan. “As ek ’n moeilike dag gehad het, kan ek nie wag om in die water te klim, van alles te vergeet en te ontspan nie. Juis daaroor sal ek nooit ophou swem nie.”

Ná al die jare se harde werk sê Luan hy is al gewoond daaraan om sekere tienerdinge op te offer vir swem.

“Ek herinner net myself aan die groter prentjie. Om al my harde werk nou op te offer vir bv. een partytjie sal alles net opmors. Een oefening maak ’n baie groot verskil – of jy ervare of ’n beginner is.”

Luan is slaggereed om Suid-Afrika by die Statebondspele in April te gaan verteenwoordig.

Met die huidige waterkrisis in die Wes-Kaap is swem egter nie die maklikste sportsoort om te volg nie, maar tot dusver het dit hom nog nie veel geaffekteer nie. Hy sê egter dat indien die waterkrisis swem onmoontlik sal maak, hy van provinsie sal verander.

“Ons afrigter het al met ons daaroor gepraat, want dit is iets wat kan gebeur.”

Vir eers gaan hierdie seun hard voorberei vir die Statebondspele en aanhou fokus op sy droom.

“Natuurlik wil ek eendag aan die Olimpiese Spele deelneem. Ek sal so twee of drie keer daaraan deelneem, maar dan wil ek ’n vlieënier word.”

Meer oor:  Swem  |  Statebondspele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.