
Ike KlaassenFoto: ERIC PALMER
Ike Klaassen (15), van Nederlandse en Suid-Afrikaanse afkoms, is ’n plaaslike junior bergfietsryer wat bergfietstoernooie oorheers en die afgelope paar jaar ’n paar titels in Europa verower het.
Hy het pas ’n uitnodiging ontvang om aan een van die veelbekroonde bergfietstoernooie, Audi Nines in Duitsland, te gaan deelneem. Dit gaan by die Ellweiler-steengroef naby Birkenfeld in Hunsrück-Hochwald plaasvind.
Ike is een van die jongste ouens wat na die geleentheid genooi is.
“Ek is regtig opgewonde vir Audi Nines, want dis die grootste amptelike uitnodiging wat ek nog ooit ontvang het, en al die pro-ouens is daar, so dit is ’n reusegeleentheid. Dit is super-spesiaal om uitgenooi te word, en ek kan nie wag nie,” sê Ike.
Hy het vroeër vandeesmaand aan die Crankworx Whistler- bergfietsfees in Kanada deelgeneem en goed gevaar. By dié byeenkoms het hy meegeding in die Canadian Open DH, wat deur die iXS Youth 15-16-afdeling aangebied is. Hy het sewende in dié vinnige afdeling geëindig.
“Crankworx was die twee beste weke van my lewe. Dit was ’n droom van my om na Whistler te gaan. Ons afdeling was redelik vinnig, en ek was vyfde, maar het sewende geëindig nadat ’n paar ryers weer op ’n vinniger baan kon ry.”
Plaaslik het hy al verskeie WP-kampioenskapsbyeenkomste gewen en is hy die afgelope jaar die SA o.17 DH-kampioen en bekerreekskampioen.