Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Jip
Bloemfonteinse blits ‘gee jou koue rillings’

Jy kry yskoue rillings wanneer Keenan Cloete (18) hardloop, sê sy trotse afrigter, JP Botha.

“Hy sleep!”

Keenan Cloete
Keenan Cloete, die Hoërskool Jim Fouché se blits, neem die komende naweek aan Atletiek Suid-Afrika se Vrystaat-kampioenskap deel. Foto: Mlungisi Louw

Dié matriekleerling aan die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein het die “magiese tyd”, soos Botha dit noem, van 21 sekondes vir die 200 m-wedloop verbeter.

Keenan, wat reeds sy hele skoolloopbaan atletiek doen, sou nooit kon dink hy sou derde op die Suid-Afrikaanse ranglys in die 200 m vir o.20 wees nie.

Hy het dié ranglys gehaal nadat hy op die Hoër Tegniese Skool Louis Botha in Bloemfontein se uitnodigingsbyeenkoms op 7 Februarie die 200 m in ’n tyd van 20.88 gehardloop het. Hy het daardeur verlede jaar se wentyd op die Suid-Afrikaanse kampioenskap van 21.09 verbeter.

“Dit voel wonderlik om te weet ek is die derde vinnigste in die land in my ouderdomsgroep,” sê Keenan.

Dié prestasie gebeur nie binne ’n dag nie, hulle werk al jare hieraan, sê Botha.

“Dit neem toewyding, jy moet elke dag jou kant bring.

“Jy moet na alles kyk om ’n atleet daar te kry – al die spierstelsels, sy metabolisme en sy kop. Jy moet geestelik sterk genoeg wees om die ouens in die wedloop te klop,” sê hy.

Botha rig die kort- en middelafstandatlete by die skool af.

Keenan se matriekjaar is die hoogtepunt van sy atletiekloopbaan.

Hy het nie altyd in atletiek presteer nie en in gr. 10 en gr. 11 ál meer verbeter, sê dié voornemende student in BCom regte aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.

“Dit het verlede jaar begin draai. Dit was oopketel toe hy hierdie jaar slaan!” sê Botha.

Keenan Cloete
Keenan Cloete in aksie met JP Botha, sy afrigter, agter hom. Foto: Mlungisi Louw

Nou is hy vir die nasionale oefengroep gekies vir moontlike oorsese deelname.

Hy het verlede jaar vir die eerste keer by die Suid-Afrikaanse kampioenskap gekwalifiseer om ’n eindronde te hardloop – waar hy in die 200 m sy dyspier verrek het.

“Ek het ’n goeie kans gehad om op die podium te staan.”

Keenan Cloete en JP Botha, sy afrigter. Foto: Marita Herselman

Dit is vir hom nog deels onwerklik dat hy verlede jaar se wentyd verbeter het, omdat hy nog nie op die vlak is wat hy wil wees nie.

Dié 100 m- en 200 m-atleet wil homself baie verder druk wat sy voorbereiding betref.

“Ek weet dit is ’n godgegewe talent en ek wil dit regtig tot die beste van my vermoë gebruik.”

Om in die toekoms aan die Olimpiese Spele deel te neem is een van sy drome, maar hy sal sien wat die Here se plan vir hom inhou, sê hy.

Keenan het nie die naweek aan die Motheo-Xhariep-atletiekbyeenkoms in die Vrystaat-stadion deelgeneem nie, om uit te rus vir Atletiek Suid-Afrika se Vrystaat-kampioenskap die komende naweek.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.