Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Jip
Dís waar weeksdae se name vandaan kom

In vorige uitgawes van Jip het ons feite oor sekonde, minuut en uur gegee. Vandag iets oor dag en week.

Bo-aan hierdie bladsy van Die Burger word vandag se datum op die tradisionele manier as Maandag 15 Junie 2020 geskryf. Maar ons rekenaars gee 2020-06-15 vir dieselfde datum omdat dit die skryfwyse van ’n datum is soos bepaal deur die Internasionale Standaarde-organisasie (ISO 8601). Let op dat die datum net die nommers van die eeu, jaar, maand en dag bevat; want elke taal het sy eie name en spellings vir weeksdae en maande, maar nommers is oral dieselfde.

Om te bepaal hoeveel weke daar in ’n jaar is, tel jy vanaf die eerste Donderdag van die jaar. Daarvolgens sal daar 53 weke in die jaar 2020 wees. Die nommer van die week word nie in datums genoem nie.

Foto: iSTOCK

Wat is die eerste dag van die week? Volgens ISO 8601 is Maandag die eerste dag. Maar die helfte van die wêreld se lande beskou Sondag as die eerste dag. Daar is nie ’n vaste reël by ons nie, want op kalenders begin ’n week op Sondag, in dagboeke begin dit op Maandag omdat dit die begin van die “werksweek” is, en die Xhosas en die Zulus, onder andere, tel die weeksdae vanaf Maandag.

Waar kom die name vir die sewe dae van ’n week vandaan? Die Afrikaanse en Engelse name is meestal van antieke gode se name afgelei. Die weeksdae se name in die hooftale van die Wes-Kaap (Afrikaans, Engels en Xhosa) word as volg verklaar:

Maandag/Monday is “dag van die maan” (van dies Lunae). Die Xhosa-woord is uMvulo (openingsdag) van vula (om oop te maak).

Dinsdag kom van die oud-Nederlandse Dinsdag (van die Noord-Europese woord ding: vergadering). Tuesday kom van “Tyr se dag” (van die Noorse woord Tiwesdaeg, Tyr was hul god van oorlog). Die Xhosa-woord is uLwesibini (tweede dag).

Woensdag/Wednesday kom van “Wodan se dag”. Wodan was Noord-Europa se boodskapper-god, soos die Romeinse god Mercurius. Die Xhosa-woord is uLwesithathu (derde dag).

Foto: iSTOCK

Donderdag/Thursday kom van “Thor se dag” (Thor was Noord-Europa se god van donderweer en oorlog). Die Xhosa-woord is uLwesine (vierde dag).

Vrydag/Friday is vernoem na Freya, die vryerige vrou van die Noorse hoofgod, Odin. Die Xhosa-woord is uLwesihlanu (vyfde dag).

Saterdag/Saturday is “dag van Saturnus” (van Saturni dies). Hy was die Romeine se god van landbou, na wie die planeet Saturnus vernoem is. Die Xhosa-woord is uMgqibelo (laaste dag), afgelei van gciba (om te voltooi): dit word so genoem omdat die vroeë sendelinge verkondig het dat Saterdag die sesde dag is, wat die dag is waarop God Sy skeppingswerk voltooi het.

Sondag/Sunday is “dag van die son” (van dies Solis). In Romaanse tale soos Italiaans is dit verander na “dag van die Here” (van dies Dominicus). Die Xhosa-woord is iCawe (dag van die kerk).

  • Deel 4 se medewerkers is Uys Cronje en Áine Ferreira (gr. 10) van die Hoërskool Outeniqua.
  • Lees in die volgende Jip oor nog feite aangaande tyd.
Meer oor:  Name
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.