
Die gehoor kyk na ’n toneel uit Raka. In die middel staan Michael Deale, wat die rol van Koki vertolk.
Die Hoërskool Florida in Roodepoort se splinternuwe teater is “die mooiste skoolteater in Gauteng”.

Julius Katzke en Nico Louw tydens die inhuldiging van die nuwe Renico-teater.Foto’s: TANIA LOUW
Dít was Donderdag die opmerking van Julius Katzke, skoolhoof, by die amptelike opening van die skool se Renico-teater.
Oudleerlinge, belangegroepe en lede van die media het dié stylvolle geleentheid bygewoon.
Hesta van Straten, wat dramatiese kunste by die skool aanbied, het gesê sy droom al 12 jaar lank dat die skool sy eie teater kry.
“ ’n Mens moet aanhou droom, want drome word uiteindelik waar,” het Van Straten gesê.
“Ek sien hoe ongelooflik dit is om drama op skoolvlak aan te bied, en dan staan jy op en jy oefen dít wat jy geleer het in die teater. En jy leer sommer in die teater en jy bly in die teater.”

Die opening van die teater was ’n stylvolle affêre.
Die teater is deur Nico Louw, eienaar van Renico Construction, geborg.
’n Mens kan tog nie ’n teater open sonder om kuns op die verhoog aan te bied nie.
’n Groep leerlinge van gr. 10 tot 12 het ’n toneel uit N.P. van Wyk Louw se epiese gedig Raka opgevoer.
Mart-Leen Oosthuizen, ’n gr. 11-leerling, het die Ascot Gavotte uit die fliek My Fair Lady op die klarinet gespeel.
Caitlin Oelofse, ’n gr. 12-leerling, het “Never Enough” uit die fliek The Greatest Showman gesing.
Van Straten sê die skool bied van 24 tot 27 April ses eenbedryftoneelstukke aan.
Een van dié toneelstukke is ’n fisieke teaterstuk sonder enige dialoog.
Die skool gaan dié intieme teater ook aan die gemeenskap uitverhuur.