Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Jip
Hy is Fiela se kind

Nadat Eloff Snyman (12) die verhoogstuk Fiela se kind gesien en die boek gelees het, het hy ’n baie goeie idee gehad wat die rol van hom gaan vereis.

Eloff Snyman as die jong Benjamin in Fiela se kind. Foto: NEELS KLEYNHANS

“Elke keer voor ek op die verhoog gaan, probeer ek myself in Benjamin se skoene plaas. Ek en die karakter is dieselfde ouderdom, en ek dink hoe ek sou gevoel het as ek skielik van my gesin weggeneem word,” sê Eloff.

Hierdie gr. 7-leerling van die Laerskool Durbanville kén toneelspeel. Voordat hy die rol van jong Benjamin in die verhoogproduksie Fiela se kind losgeslaan het, was hy verlede jaar in die rolprent Liewe Kersfeesvader te sien.

Hy is ook vasbeslote oor ’n loopbaan in die vermaaklikheids­bedryf. “Ek sal bitter graag in die bedryf wil werk – dis my passie en dis ál wat ek nog altyd wou doen!”

Eloff het verlede jaar saam met sy skool se toneelgroep die produksie van Fiela se kind by die Stellenbosch Woordfees gaan kyk. Hy sê die storie was so mooi en het hom geïnspireer om die boek ook te lees.

“Ek wou die rol bitter graag vertolk. Hoe meer karakters ek vertolk, hoe meer ervaring doen ek op. Om akteur te wees is my droom en die rol van Benjamin/Lukas het só baie uitdagings aan my as jong akteur gebied,” sê hy.

Eloff se pa is die sanger Christo Snyman van Broers.

“My pa het my vreeslik baie raad gegee oor die vermaaklikheidsbedryf, en veral die dramawêreld,” voeg hy by.

Volgens die jong akteur het sy pa hom onder meer verduidelik wat die rol van elke persoon in die produksie is en hoe om leiding van die regisseur te neem.

“Hy het my ook geleer dat as ek kies om in die vermaaklikheidsbedryf te wees, die besigheidkant net so belangrik is soos die kreatiewe kant as jy ’n lewe hieruit wil maak.”

Eloff Snyman saam met Zenobia Kloppers wat die rol van Fiela by produksies in Carnival City vertolk het. Foto: NEELS KLEYNHANS

Verder het sy pa hom ook gehelp voorberei vir die rol. Pa en seun het onder meer saam woorde geleer en hy het Eloff gehelp om elke toneel en waaroor dit gaan, te verstaan.

Sy pa en ma het ook beurte gemaak om hom by te staan met huiswerk terwyl die produksie by Carnival City in Gauteng op die planke was.

“My broers het elke dag ná skool die dag se huiswerk vir my gekry en vir my ma of pa gegee. Dié het dan foto’s daarvan geneem en dan vir die ander ouer wat by my was per WhatsApp aangestuur, en ek het elke dag se huiswerk voltooi.”

Net die tyd sal leer of Eloff eendag net so bekend soos sy gunsteling-akteurs Benedict Cumberbatch en Tom Cruise gaan wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.