SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Jip
In dié klaskamers wíl die leerlinge deelneem

Die Hoërskool Stellenbosch spog met twee splinternuwe hipermoderne wetenskapklaskamers om onderrig vir leerlinge lekker te maak.

Dié twee klaskamers wat gebruik word vir wetenskapdemonstrasies is onlangs nuut ingerig met nóg drie wat later vanjaar voltooi gaan word.

Niel Retief, departementshoof en vakhoof vir lewenswetenskappe, sê die vorige klasse was sowat 40 jaar oud en móés opgeknap word.

“Wat ons nou het, is ’n ruimte waarin leerlinge wil leer en waar demonstrasies en prakties met gemak gedoen kan word. Die terugvoering is ook baie positief, met leerlinge en personeel wat kinderlik opgewonde is. Selfs oudleerlinge het my al gekontak om te sê dat hulle nou wéér biologie wil neem,” sê Retief.

Elke klas het ’n spesifieke tema: die eerste laboratorium word “lewe” genoem en die tweede “DNA”.

Die klasse is ingerig vir lewenswetenskappe, terwyl die ander twee klasse meer klem lê op fisika en chemie. Die praktiese laboratorium se tema sal ’n kombinasie van lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe wees.

Retief voeg by dat die klaskamers nie net visueel stimulerend is nie, maar struktureel so ingerig is dat leerlinge in die toekoms self eksperimente kan doen.

“My droom is om die studie van lewe met soveel entoesiasme as moontlik oor te dra. Dit kry mens soveel makliker reg met die regte hulpmiddels, tegnologie en infrastruktuur. As lewenswetenskappe-personeel het ons gevra hoe ons graag wil klas gee.

“Denke buite die boks het toe daartoe gelei dat drie ou klaskamers nou ingerig word as vyf nuwe lokale – elkeen met ’n eie tema.

“Daarmee saam wou ons seker maak dat die onderwyser persoonlik by elke leerling in die klas kan uitkom. Tegnologie is belangrik en dit het ons nou alles hier, maar tegnologie op sy eie bevorder nie noodwendig leer nie.”

Hy sê ook hoewel die nuwe klasse met WiFi-internettoegang, televisieskerms en moderne rekenaartoerusting spog, is dit nie goed genoeg om eksperimente net op YouTube te wys nie.

“Leerlinge moet blootgestel word aan reuke, klanke en geluide wat gepaard gaan met die wetenskap.

“Die nuwe klasse plaas dus ’n besondere klem op self- en ervaringsleer, wat verryk word deur media en elektroniese ondersteuning.”

Theo Pellissier, skoolhoof, sê hul visie is om die leerlinge vir die lewe ná skool voor te berei, insluitend tersiêre studie.

“Ons probeer leerlinge toerus met praktiese vaardighede en nie net boekkennis nie. Die opgeknapte klaskamers leen hul uitstekend hiertoe aangesien dit praktiese vakke is wat hier aangebied word,” sê hy.

Meer oor:  Leerlinge  |  Jip  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.