Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Jip
Jong lesers vier met dié boeke Wêreldboekedag

Om Wêreld Boekedag vandag te vier, het JIP vir twee hoërskoolleerlinge van NB-uitgewers se tienerboeke gegee om te resenseer.

Blou is nie ’n kleur nie deur Carin Krahtz

Blou is nie ’n kleur nie is ’n boek wat ’n mens laat voel of jy op ’n adrenalien-uitstappie is.

Moet jou nie deur die kalmte en onskuldigheid van die voorblad laat mislei nie, skryf Jané van Wyk (gr. 12) van die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes.

Victoria Vorster (Poppie) is ’n 16-jarige wie se gesin uitmekaar geval het ná ’n groot ongeluk waarvoor sy haarself blameer.

Sy gaan deur haar tienersta­dium wat al klaar baie stresvol is, maar nou is daar nog stres, soos haar ouer suster, Regina (Rina), wat haar heeltyd slegsê en probeer kleineer.

Rina is ’n tipiese tienermeisie wat hulle die “queen” noem.

Die ongeluk het haar ma, MD, (Managing Director) en haar pa (Paternoster) se huwelik laat verbrokkel. Paternoster het drank ook tussen hom en sy vrou laat kom en hulle kan nie meer praat sonder om te baklei nie.

Paternoster besluit uiteindelik dat hy beheer gaan neem van sy gesin (al het hy ’n drankprobleem) en dat hulle na Nieu-Seeland moet verhuis nadat hul gesin uitmekaar geval het, maar dit raak toe eerder ’n reis van ontdekking van hulself en ander geheime . . .

Jané van Wyk

Hierdie is beslis ’n intense storie met ’n swaar storielyn. Dit is vir lesers wat nie te sensitief is nie en wat ouer as 18 jaar is.

Die boek lees ook baie moeilik, omdat dit nie jou gewone volgorde het nie. Die boek is verwarrend aan die begin. Hou miskien ’n papier byderhand om al die karakters se name, byname en konneksies neer te skryf.

Dit het my ook ’n rukkie geneem om te verstaan wat ek lees.

My gunstelingdeel was toe ek besef het dat dit nie ’n fout is dat die einde aan die begin geskryf is nie.

Dit is ’n baie interessante boek, want dit is anders.

Queenie, die huishulp, was ook my gunstelingkarakter, want sy is die gom wat die gesin aanmekaar hou.

Iets om uit die boek te lees is dat ’n ongeluk die vermoë het om ’n gesin drasties te verander en hulle uitmekaar te kan laat val.

  • Blou is nie ’n kleur nie kos R160.

Die Boendoesbaai-ding deur Rudi Venter

Veral jong seuns sal Die Boendoesbaai-ding met sy boeiende storielyn geniet, skryf Werner Voges (gr. 9) van die Hoërskool Jan van Riebeeck. Veral omdat die boek baie seuns­karakters en goed waarin seuns belang stel, bevat.

Die boek begin uit die perspektief van ’n jong seun, Eddie, wie se nuuskierigheid oor die Boendoesbaai-ding ontwikkel nadat hy ’n gesprek tussen twee mans in ’n restaurant afluister waarin hulle die gebeure van 12 September 1993 bespreek. Daarna word die storie uit verskeie mense se oogpunte vertel. Ek het veral hiervan gehou, want jy kan elke karakter se gedagtegang volg.

Ek het dit verder baie geniet om te sien hoe elke karakter se gedagtes en dit wat hy gehoor en gesien het, aan die einde van die boek bymekaar kom om die stukke van die legkaart te voltooi en die geheim te ontrafel.

Die wisseling in perspektief maak die storielyn ingewikkeld, maar interessant, omdat elke karakter se unieke belewenis meer inligting aan die leser gee oor die geheim wat soos ’n wolk oor hierdie klein dorpie hang.

Werner Voges

Die boek lees stadig, want dit verg konsentrasie om kop te hou en al die feite in te neem. Dit bevat ook leidrade wat noukeurig gevolg moet word om die boek ten volle te verstaan.

Die skrywer het die storie uitstekend geskryf, want elke detail is van kardinale belang tot die storielyn. Jong seuns sal ook met die taalgebruik kan identifiseer. Daar word taamlik Engelse woorde gebruik wat die storie onmiddellik eietyds en werklik maak.

Vir my was Maryna die karakter wat ek die minste geniet het, maar ek dink wel dat sy in die storie gemis sou word as sy nie daar was nie.

Dolf Arendse was ’n gunsteling, want hy het altyd wyse raad aan die Von Dempter-neefs gegee en nie omgegee om saam met hulle dinge te doen of met hulle te praat oor allerhande onderwerpe nie.

Hierdie boek leer jou om nooit iets te doen waaroor jy in die toekoms spyt sal wees nie en was beslis lekker leesstof.

  • Die Boendoesbaai-ding kos R165.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.