Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Jip
Kaapse leerling kry tweede plek oorsee

Met ’n baie relevante en interessante navorsingsprojek het Zara Nijzink-Laurie die tweede plek by ’n internasionale wetenskapskou opgeraap. Suzaan Potgieter het met Zara oor haar projek gesels.

Zara Nijzink-Laurie ontvang verlede jaar die John Crossland-prys vir die beste junior projek by die Kaapstad-streekkompetisie van Eskom se ekspo vir jong wetenskaplikes.

Al is sy maar net in gr. 9, het Zara Nijzink-Laurie se projek by die Taiwan internasionale wetenskapskou beslis koppe laat draai.

Dié leerling van die Rustenburg Girls’ High School in Kaapstad het onlangs met haar projek oor die hindernisse in die gebruik van die menstruasiekoppie by gr. 8-meisies by dié wetenskapskou gaan deelneem.

“Ek wou meer uitvind oor bewusmaking van die menstruasiekoppie, veral nadat ek uitgevind het miljoene meisies mis elke maand skool oor hulle nie sanitêre produkte kan bekostig nie,” sê Zara.

Haar projek het baie goed gevaar en internasionaal ’n tweede plek in die kategorie hoogs ge­spesialiseerde gedrags- en sosiale wetenskappe behaal.

Leerlinge van 23 lande het deelgeneem.

“My navorsing het die bewusmaking van die menstruasie­koppie ondersoek en ook die hindernisse om dit te gebruik by skoolmeisies.

“Hoewel menstruasie­koppies goedkoper en meer omgewingsvriendelik is, is dit nie wyd bekend of in gebruik nie,” sê sy.

Volgens Zara was sy nog altyd geïnteresseerd in die liggaam, veral dié van vroue. Vandaar die inspirasie vir haar projek.

Zara Nijzink-Laurie saam met Kalsee Nadasen, wat saam met haar Taiwan toe was om Suid-Afrika by die wetenskapskou te gaan verteenwoordig.

“Toe ek my eerste menstruasie ervaar het, het ek gedink ‘daar moet ’n beter manier wees om dit te bestuur as die gebruik van sanitêre doekies’. Dís hoe ek die menstruasiekoppie ontdek het,” sê sy.

Zara het haar navorsing gedoen met meisies in gr. 8 en gr. 11 en vir elkeen ’n vraelys gegee om voor en ná ’n video oor die menstruasiekoppie te voltooi.

In haar navorsing het sy bevind dat 54% van die jonger meisies en 92% van die ouers meisies van die koppie gehoor het, maar slegs een meisie in elke groep dit al gebruik het. Ongeveer 11% van die jonger meisies en 40% van die ouer meisies sal dit oorweeg om die koppie te gebruik.

Sy sê die ervaring om haar projek Taiwan toe te neem was wonderlik.

“Dit was reeds ’n groot eer en geleentheid om net te gaan deelneem en ek het dus geen verwagtinge gehad nie. Met al die lande wat deelgeneem het, was die kompetisie straf en die projekte van ’n hoë standaard,” vertel sy.

“So toe ek die silwermedalje gewen het, was ek verras maar ongelooflik trots!”

En selfs op haar jong ouderdom weet hierdie meisie reeds sy wil eendag ’n verloskundige wees.

“Ek weet wel nog nie of ek aan die navorsingskant van verloskunde wil werk of direk met die vroue nie, maar ek weet ek wil in die veld van vrouegesondheid werk,” sê sy.

Meer oor:  Kaapstad  |  Taiwan  |  Jip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.