Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Jip
Kranige sportman gereed om SA te verteenwoordig

JP Weideman, ’n leerling van Hoërskool D.F. Malan, het eers einde verlede jaar begin naam maak in biathle toe hy op die Suid-Afrikaanse biathle-kampioenskapstoernooi in George met die louere weggestap het vir seuns o.17.

Vir dié sport het hy ’n groot liefde ontwikkel en kan nou nie meer sy lewe daarsonder indink nie.

JP Weideman gaan in Oktober vanjaar Suid-Afrika op die biathle-wêreldbyeenkoms verteenwoordig.

’n Biathle-atleet begin deur 1 600 m te hardloop, gevolg deur 200 m swem en dan laaste ’n 1 600 m wedloop.

“Ek is op laerskool deur vriende aan die sport blootgestel. Ek het aan die begin bietjie sukkel met die hardloop, maar het met tyd beter geword. My droom is om ’n professionele atleet te wees en Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig,” vertel JP.

JP het al verskeie kere provinsiale kleure vir biathle verwerf en is ook verlede jaar in die SA moderne vyfkampvereniging (Sampa) se span opgeneem wat aan die wêreldbyeenkoms in Spanje deelgeneem het.

By dié kompetisie het hy en sy SA spanmaat Karla Grobler albei goue medaljes verower vir die gemengde aflos en hy het ook ’n negende plek in die individuele item behaal.

“Ek was verlede jaar regtig verbaas toe ek as die o.17-kampioen by die SA kampioenskapstoernooi in George gekroon is. Dit was die eerste keer dat ek aan ’n biathle-kompetisie deelgeneem het. Maar ek het ook geweet dat ek gaan wen omdat ek so hard gewerk het.

“Dit was ’n baie lekker gevoel,” sê hy.

JP het op 23 Junie aan die SA
biathle-kampioenskap deelgeneem, waar hy met die SA o.19-titel weggestap het. Hy is weer in die Sampa-span ingesluit vir die biathle-wêreldtoernooi wat in Oktober in Egipte gaan plaasvind.

“Ek het geweet dat ek dié kompetisie gaan wen omdat ek my teenstanders geken het. Ek het ook baie hard gewerk om dié prestasie te behaal.”

Ek was verlede jaar regtig verbaas toe ek as die o.17-kampioen by die SA kampioenskapstoernooi in George gekroon is.

JP, wat uiteraard ’n kranige swemmer is, is nie net ’n biathle-atleet nie, maar ook ’n driekampatleet.

Hy het in Januarie vanjaar besluit om aan driekampkompetisies deel te neem.

“Dit was nog altyd in my agterkop dat ek aan driekamp wil deelneem, en ek het net dié jaar besluit om dit te doen.

“My eerste driekamp was in Februarie. Ná ’n baie goeie swemsessie, waar ek tweede uit die water gekom het, het ek binne die eerste kilometer van die fietsryafdeling ’n pap wiel gekry.

“Dit het die einde van my deelname vir die dag beteken.”

JP het daarna aan die Xterra Lite driekamp-kompetisie deelgeneem en het ’n sewende plek behaal uit ’n totaal van 664 deelnemers.

Dié prestasie het daartoe gelei dat hy in die Wes-Kaapse span opgeneem is wat aan die Suid Afrikaanse driekamp-kampioenskapstoernooi in Bloemfontein deelgeneem het.

JP se volgende doelwit is om ook sy junior Proteakleure vir driekamp te kry, asook om Suid-Afrika by Europese junior driekamp-kompetisies te verteenwordig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.