Die soektog na die hoër- en laerskool met die beste gees in Pretoria gaan voort.
Groot FM 90.5 en Metro-Beeld-Noord se Skool met die beste gees-span was Vrydag by die Laerskool Kameeldrift waar daar hope gees is.

Groot FM 90.5 en Metro-Beeld-Noord se Skool met die beste gees-span het Vrydag by die Laerskool Kameeldrift ’n draai gemaak.Foto’s: Marthinus Koekemoer

Die onderwysers het ook hul deel gedoen om dit ’n spesiale dag te maak. Herman Landsaat en Jaco Joubert het met hul koddige strikdasse opgedaag.
Die leerlinge en die onderwysers het om die beurt Mit-Mak Motors se Jeep gesleep met die kinders wat hierdie keer geseëvier het.
Met die rol van die buiteband om water te vervoer het die meisies die seuns ore aangesit.
Soos met baie ander skole vanjaar was die skoolhoof, Marina van Niekerk, se algemene kennis nie op standaard nie, maar die waterkanonpeleton het skaars ’n skoot afgekry voordat hulle self onder ’n emmer water deurgeloop het.
Die gaskunstenaar was Appel, wat een en elk met sy treffers aan die dans gehad het. Die was veral “Lemoene” wat almal aan die gons gehad het.
Die borge Mit-Mak Motors, MBT Petroleum, Laser Adventures en USA Sports het die dag moontlik gemaak.

Die waterkanonpeleton het hierdie keer self onder ’n emmer water deurgeloop.

Katinka Burger, Deonette Scheepers en Michelle van der Walt was in volkleur vir die dag opgetooi.

Die onderwysers het hul bes probeer, maar kon nie Mit-Mak Motors se Jeep vinniger oor die wenstreep as die leerlinge sleep nie.

Die dag se gaskunstenaar was Appel (in die middel), wat saam met Regardt Scheepers en Jaco Brits opgetree het.