Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Jip
Leerlinge oorgehaal vir groot debat

Leerlinge wat flink dink en vlymskerp tonge het, maak gereed om te kyk wie die jaarlikse Dink of Sink-debatskompetisie gaan wen. Die Wes-Kaapse uitdunne is Vrydag in Bellville en 13 skole gaan mekaar die stryd aansê.

Hierdie kompetisie word jaarliks aangebied en skole wys dan hul slag deur oor verskeie onderwerpe te debatteer.

“AfriForum is baie opgewonde oor die kompetisie hierdie jaar en weet dit gaan, net soos in die verlede, ’n groot sukses wees,” sê Carien Bloem van AfriForum.

“Ons het ook pas die nasionale Dink of Sink-universiteitsdebatskompetisie agter die rug en dit was heerlik om van die leerlinge wat aan die skole se Dink of Sink-debatskompetisie deelgeneem het nou op universiteitsvlak te sien deelneem,” sê sy.

Die Hoërskool DF Malan het verlede jaar sy teenstanders behoorlik ore aangesit en sowel die junior as senior afdeling gewen. Hier is die twee wenspanne saam met die hoof, Sias Conradie (links), die spanne se twee afrigters, Jo-Mi Müller (naaslinks) en Mathilda Smit (middel), en die adjunkhoof, Gert Visser (regs).

Die kompetisie is in 2001 deur die Hoërskool DF Malan in Bellville begin en word vanjaar die derde keer in die Wes-Kaap in samewerking met AfriForum aangebied.

Le Roux van der Merwe (18) van DF Malan gaan vanjaar aan die kompetisie deelneem en sê hy geniet dit om in ’n debat sy eie mening te lug.

“Debat leer ’n mens om nie net jou kennis oor sake toe te pas nie, maar ook om te kyk of jy die sosiale, kulturele, ekonomiese en politieke perspektief van ’n saak kan insien,” sê hy.

Volgens Le Roux is debat ook iets wat jou taal-, jou uitdrukkingsvermoë en om jou standpunt deeglik en met selfvertroue oor te dra verbeter.

Carla Conradie (18) van die Hoër Meisieskool Bloemhof sê sy geniet onvoorbereide debat omdat dit haar uitdaag.

“Dit ontwikkel ook jou vermoë om ’n saak van alle kante (nie net jou eie nie) te bekyk,” sê sy.

Carla sê ook dit bou goeie selfvertroue.

Ná afloop van die Wes-Kaapse eindronde Vrydagaand sal die wenspanne in Pretoria aan die nasionale ronde deelneem.

Vanjaar se beoordelaars is Erna Steenkamp (vakadviseur), dr. Elbie Adendorff (van die Universiteit Stellenbosch), Bloem (AfriForum), Danie van der Merwe (omroeper) en Hanlie Retief (ATKV).

  • Wanneer: Vrydag om 18:30
  • Waar: Hoërskool DF Malan
  • Kaartjies: Die gala-aand kos R50 en is by DF Malan beskikbaar. ’n Ligte ete word voorgesit, vier debatte vind plaas en gaskunstenaars tree op.
Só werk die kompetisie:

  • Altesaam 40 spanne van 16 skole (120 leerlinge) neem die middag aan die uitdunne deel.
  • Die spanne sluit junior (gr. 8 en gr. 9) en senior (gr. 10 tot gr. 12) spanne in.
  • In die eerste ronde moet elke span aan drie debatte deelneem, waarna agt spanne deurdring na die halfeindronde die aand.
  • Die aand kry die spanne ’n onderwerp elk en vyf minute om voor te berei.
  • In hierdie vyf minute mag leerlinge woordeboeke en die internet gebruik om navorsing te doen.
  • Aan die einde van die junior debatte en in die twee finale debatte op die gala-aand mag gehoorlede vrae aan die sprekers stel.
  • Vyf onafhanklike beoordelaars sal aan die einde van die eindronde op die gala-aand besluit watter junior en senior span die kroon dra.
  • Die wenners van die suidstreek sal in September na Pretoria vlieg en teen die beste debatteerders van die sentrale en noordstreek te staan kom.
Die 13 skole wat vanjaar deelneem is:

  • Hoërskool DF Malan;
  • Paul Roos Gimnasium;
  • The Settlers High School;
  • Hoërskool Swartland;
  • Hugenote Hoërskool;
  • Hoër Meisieskool Bloemhof;
  • Hoërskool Stellenbosch;
  • Hoërskool Stellenberg;
  • Hoërskool Durbanville;
  • Hoër Jongeskool Paarl;
  • Hoërskool Paarl Gimnasium;
  • Hoër Meisieskool Paarl; en
  • Hoërskool Parel Vallei.
    Meer oor:  Afriforum  |  Jip  |  Debat
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.