Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Jip
’n Duisend jong blasers byeen

So stil-stil het die junior afdeling van die Westelike Provinsie Rugbyunie aan die einde van 2019 die koms van ’n besonderse mylpaal gevier.

Nadat ampsdraers van die Westelike Provinsie in Junie 2010 die eerste in die wêreld was om skoolgaande seuns en meisies as skeidsregters te begin oplei, het ’n groot aantal van die meer as ’n 1 000 gekwalifiseerde jongeling­skeidsregters in November in Brackenfell saamgetrek om die betreding van die tiende jaar van hierdie uiters suksesvolle projek te vier.

Ander rugbybonde in Suid-Afrika het in die afgelope paar jaar ook met sulke kursusse vir leerlinge begin ten einde die landwye tekort aan skeidsregters aan te vul, maar nêrens elders ter wêreld bestaan ’n soortgelyke projek nie.

Heelparty huidige topvlakspelers en selfs ’n Springbok of twee het tydens hul skooljare hierdie kursusse vir fluitjieblasers bygewoon.

Die man wat met die blink idee vorendag gekom het, is Ben The­ron, bestuurder van skeidsregtersake in die WP. Saam met die onderwyser Joey Salmans – toentertyd ’n interprovinsiale skeids­reg­ter en tans die voorsitter van die WP se rugbyskeidsregtersvereniging – het hulle oor die afgelope sowat tien jaar gereeld kursusse gedurende skoolvakansies aangebied. ’n Groot aantal van daardie kwekelinge is nou gevestigde klubskeidsregters. En met die reünie het dit bekend geword dat ’n produk van hierdie kursusse, Dylan November (21), pas benoem is as ’n lid van die nasionale skeidsregterspaneel.

Heelparty huidige topvlakspelers en selfs ’n Springbok of twee het tydens hul skooljare hierdie kursusse vir fluitjieblasers bygewoon. Een so ’n geval is die Springbok-stut Thomas du Toit terwyl hy ’n leerling aan die Hoër Jongenskool Paarl was. Toe The­ron Du Toit by geleentheid gepols het oor sy destydse deelname aan ’n junior skeidsregterkamp, was Du Toit se veelseggende antwoord dat ’n speler alleenlik die spel na behore kan beoefen wanneer jy dit behoorlik verstaan.

Dosyne jongelinge sal binnekort weer as skeidsregters en grens­regters optree by ’n lang rits voorseisoense rugbytoernooie.

Ondanks die welslae wat met die projek behaal word, was daar egter in die 2019-seisoen steeds nie genoeg persone om elke Saterdag alle klubwedstryde te hanteer nie. Dit is in ’n groot mate toe te skryf aan die feit dat vele van die gekwalifiseerde jongelingskeidsregters tans nog aktiewe spelers is.

Daarom word die projek voortgesit en ’n nuwe opleidingskursus (wat oor twee, drie dae strek) weer vir voornemende skeidsregters in die komende Maart-skoolvakansie by die Jan Kriel-skool in Kuils­rivier aangebied.

Belangstellende seuns en meisies van 15 jaar en ouer kan Ben Theron by 083 269 3590 skakel.

Meer oor:  Blasers  |  Sport  |  Wp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.