Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Jip
Pantsers en potlode gereed vir die virus
Nie net moet leerlinge maskers dra en reinigers gebruik nie, maar hul temperatuur moet ook elke oggend gemeet word, soos met dié leerling van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch.

Benewens die normale aksies soos die was van hande, gebruik van handreinigers, dra van ’n masker en sosiale distansiëring het skole ook ’n rits ander maatreëls in plek gestel om te verseker dat skole koronavry is.

Skole is egter seker daarvan dat hulle gereeld die maatreëls gaan moet aanpas soos wat die tyd aangaan en is reg vir die veranderinge wat voorlê.

Meeste skole gaan ook steeds e-leer aanbied en lesse opneem en stuur vir onder meer leerlinge wat ver bly of die met gesondheidskwessies wat hulle verhoed om skool toe te gaan.

Sodoende kry diegene by die huis en by die skool die nodige onderrig om die skooljaar mee te voltooi.

’n Paar Wes-Kaapse skole deel hul plan van aksie.

Hoërskool Jan van Riebeeck, Kaapstad

By dié skool in die Moederstad het die skool se terreinpersoneel onder meer opleiding ontvang van ’n buitemaatskappy om seker te maak dat al die klaskamers, badkamers en res van die terrein ten alle tye skoon en gesaniteer is.

Elke klaskamer word ná skool van hoek tot kant gespuit, en die badkamers word verskeie kere per dag skoongemaak.

Personeellede van die skool gaan elke oggend die siftingsproses op verskeie punte van die skool hanteer waar die leerlinge se temperatuur gemeet word en hulle gesaniteer word.

Hulle moet ook die vyf belangrike vrae antwoord: Het jy koors? Het jy ’n hoes? Is jy kort van asem? Het jy ’n seer keel? Was jy in kontak met iemand met Covid-19?

Daar is ook merkers op die skoolterrein aangebring om afstand te handhaaf en groter klasse word kleiner gemaak.

Hulle gaan ook steeds hul vakmateriaal op Google Classroom deel sodat leerlinge wat nié skool toe mag kom nie, nie benadeel word nie.

Die Hoërskool Jan van Riebeeck se Jan Henning verf voete op die skoolterrein om afstand tussen leerlinge te handhaaf.Foto’s: VERSKAF

Hoërskool D.F. Malan, Bellville

Hier is daar nie net reinigers vir hande nie, maar ook vir die leerlinge se voete om seker te maak alles is skoon en bly so skoon moontlik.

Leerlinge gaan nie soos in die verlede pouses bymekaar wees nie, maar op verskillende plekke om afstand te handhaaf.

Die gange gaan in eenrigting-gange omskep word sodat leerlinge nie in verskillende rigtings verby mekaar stap nie – en hulle gaan slegs by sekere ingange die skool mag binnegaan om kontrole te verseker.

Leerlinge sal ook hul hande moet ontsmet voor hulle ’n klas binnegaan en nadat ’n groep die klas verlaat, sal die hele klas ontsmet word voor ’n nuwe groep die klas binnegaan.

Hoër Meisieskool Bloemhof, Stellenbosch

Die skool se veiligheidskomitee het ’n veiligheidspan geskep wat soggens die leerlinge sal skandeer. ’n Afsonderingsprotokol is ook in plek vir leerlinge met ’n temperatuur van 37,6 ºC of hoër.

Spesifieke lokale is geïdentifiseer of geskep om leerlinge te akkommodeer terwyl die sosiale afstand van 1,5 m gehandhaaf kan word. Dit sluit klasse in die skoolsaal in.

Die klasrooster is ook aangepas: die sewe periodes bestaan nou uit drie dubbelperiodes wat die eerste ses periodes vervang, terwyl periode sewe spesifiek vir ekstra kontaksessies is waarvoor leerlinge afsprake met opvoeders kan maak.

Dit is só gedoen om die klaswisselling te beperk, want ná elke klas sal die noodsaaklike oppervlakke (banke, stoele, deurknoppe, ens.) ontsmet word.

Hulle het ook ’n streng protokol oor die af- en oplaai van leerlinge: daar is gemerkte plekke waar leerlinge met hul maskers aan af- en opgelaai moet word en ouers mag nie uit hul karre klim nie.

Paul Roos Gimnasium, Stellenbosch

In die aanloop tot die terugkeer van onderwysers en leerlinge, is aandag gegee aan die deeglike skoonmaak van die skool, daaglikse sifting van alle personeel en oriënteringsprogramme vir personeel en leerlinge met hul eerste dag van terugkeer.

Die skoolgrond is omskep in ’n Covid-19- gereguleerde area en plakkate wat die skool se protokol duidelik uiteensit, is op die terrein aangebring.

Alle banke sal 1,5 m van mekaar geplaas word en leerlinge sal elke dag in dieselfde bank moet sit. Hulle het ook die rooster aangepas om die ruil van klasse sover as moontlik te beperk.

Daar sal ook geen personeelvergaderings in die personeelkamer plaasvind nie – net via Zoom en Google Meet.

Die kafeteria sal ook nie operasioneel wees nie; die klerewinkel sal slegs per afspraak oop wees.

Aanlyn lesse en -werk sal voortgaan soos tydens grendeltyd en sekere werk sal dus ook tuis gedoen kan word.

Hoër Jongenskool, Paarl

Slegs leerlinge en personeel mag die terrein betree, geen ander besoekers, en hul temperatuur sal daagliks gemeet word.

Areas wat gereeld besoek word, soos klasse, kantore, ontvangs, toilette en meer, word ook gereeld ontsmet.

In elke lokaal sal daar ’n handontsmettingstoestel wees.

Daar sal ook spesiale afvoermeganismes wees vir leerlinge wat ná sifting ’n hoë koors toon, met ’n protokol ten opsigte van die siekeboeg en isolasie-area.

Die skool het ook ’n spesiale deurry-WiFi-fasiliteit geskep, waar enige leerling sy huiswerk/klaswerk/take en verduidelikende video’s vir die week kan kom aflaai teen geen koste vir die huishouding nie, aangesien baie leerlinge steeds van e-leer gebruik gaan maak.

Meer oor:  Koronavirus  |  Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.