Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Jip
Só kies jy waar om te gaan studeer

Met soveel geleenthede, plaaslik of oorsee, sit leerlinge dikwels met hande in die hare oor waar om te gaan studeer. Suzaan Potgieter het meer by kenners gaan uitvind van die voor- en nadele van in die buiteland swot.

Al hoe meer leerlinge se koppe staan oorsee vir hul naskoolse studie en dikwels maak hulle dié besluit voordat hulle alles oorweeg.

Marilise Botha, ’n opvoedkundige sielkundige, sê daar is baie voor- en nadele wat jy moet opweeg voordat jy dit oorweeg om oorsee te gaan studeer.

“Daar is voordele aan plaaslik en oorsee studeer, maar jy moet alles mooi opweeg en deurdink vóór jy besluit om oorsee te gaan,” sê sy.

Vir haar is daar drie goed wat jy moet opweeg: die aanpassing, die verlange en die koste.

“Dit is vir meeste leerlinge reeds ’n groot aanpassing om van skool na universiteit te gaan. Dié aanpassing kan selfs nog moeiliker raak as jy jou studie in ’n vreemde land aanpak,” sê Botha.

Dieselfde geld die verlange, want as jy oorsee sit in ’n land met ’n ander kultuur en ver weg van jou familie en vriende, is dit ’n groot aanpassing.

Sy sê dit is moeiliker as jy alleen is en sonder jou ondersteuningstelsel, want die verlange kan jou baie affekteer.

“Nog ’n probleem is natuurlik ook die koste verbonde aan oorsese studie. Dit kos verskriklik baie en al is daar beurse, is dit nie gewaarborg dat jy een gaan kry nie.”

As jy ’n universiteit oorsee kies, moet jy eerste kyk na watter een die beste by jou belangstellings en loopbaandoelwitte sal pas.
Duncan Parsons

Duncan Parsons van Crimson Education Suid-Afrika sê daar is baie struikelblokke met oorsee studeer, maar ook baie geleenthede en hy raai leerlinge aan om die kans te waag en aansoek te doen.

Hy sê daar is geen waarborg dat leerlinge wat oorsee aansoek doen beurse gaan ontvang nie, maar dit is belangrik om te weet hoe die stelsel werk.

“Akademiese uitnemendheid alleen is nie genoeg om ’n plek te waarborg by ’n universiteit met beurse nie. Hulle kyk na ander goed en sal eerder wil sien dat die student ten volle gebruik sal maak van dit wat die instansie bied,” sê hy.

In die VSA word beurse byvoorbeeld slegs deur topuniversiteite gebied en alhoewel universiteitsgeld minder is in Brittanje, is daar minder beurse as in die VSA.

Hy sê leerlinge moet reeds op skool inisiatief begin wys, verskeie belangstellings toon en in die skool en gemeenskap betrokke wees.

Dit sal hulle help om voor in die koor te wees as dit by beurse kom.

“As jy ’n universiteit oorsee kies, moet jy eerste kyk na watter een die beste by jou belangstellings en loopbaandoelwitte sal pas.

“Van hulle het goeie internskapprogramme en ander fokus weer op navorsing.”

Buiten beurse is daar ook werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners wat ekstra geld wil verdien om hul studie te betaal, sê Parsons.

Hy raai leerlinge aan om aansoek te doen vir toelating én beurse en nie afgeskrik te wees deur die aansoekproses nie, want hulle het niks om te verloor deur net aansoek te doen en te probeer nie.

  • Crimson Education is ’n internasionale maatskappy wat buitelandse studente vanuit 17 kantore oor die wêreld heen mentor en hulle help om toegang tot top-universiteite te kry en die proses om by die wêreld se beste universiteite te swot te vergemaklik. Besoek www.crimsoneducation.org vir meer inligting.
Meer oor:  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.