Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Jip
Stop met die plastiek oral!

’n Hoërskoolleerling wat passievol is oor die toekoms van die aarde het kettingwinkels uitgedaag om nie tot in 2020 te wag om plastiek te verminder nie, maar om dadelik te begin.

Michael Tessendorf (14), ’n jong omgewingsaktivis van die Hoërskool Durbanville, sê as winkels en mense nie dadelik begin om plastiek te verminder nie, gaan dit teen 2020 net moeiliker raak om dit te doen.

Michael Tessendorf sê almal moet begin om plastiek te herwin en minder gebruik. Hy wil in die toekoms ’n maatskappy begin wat spesialiseer in die skoonmaak van oseane. Foto: DENIQUE SMITH

“Daar word daagliks hard gepreek by die skool en in die media oor hoe belangrik dit is om groen te lewe. Selfs die winkels adverteer hoe hulle teen 2020 van alle plastiek wil ontslae raak.

Maar daar word steeds plastiek oral gebruik in byvoorbeeld gaskoeldrankhouers, souse, en selfs groente en vrugte word in plastiek toegedraai,” sê hy.

“Toe ek vroeg in die jaar die fliek A Plastic Ocean gekyk het, het ek gesien hoe selfs die kleinste organisme in die oseaan plastiek in hulle het.

Selfs in die vis wat ons eet, is daar plastiek, dit is net nie groot genoeg vir die blote oog om te sien nie,” sê hy.

A Plastic Ocean is ’n dokumentêr en handel oor watter invloed plastiek op die oseane het.

Volgens Michael moet almal dié fliek kyk sodat mense kan sien watter groot impak plastiek op die omgewing, veral die oseane, het.

Michael voeg by die feit dat vervaardigers van koeldrank besluit het om koeldrankbottels te verklein vererger die saak.

“Nou gaan mense dubbel soveel van een ding koop omdat een net nie genoeg is nie. Hulle moes eerder alle houers van glas gemaak en dit vergroot het sodat jy dit kan hergebruik.”

Hy sê hy en sy ma het lank al opgehou om gaskoeldrank te koop om só hul plastiekverbruik te verminder.

Michael meen mense moet opgevoed word om ten alle koste plastiek te herwin en verminder.

Daar word steeds plastiek oral gebruik in byvoorbeeld gaskoeldrankhouers, souse, en selfs groente en vrugte word in plastiek toegedraai.

“Ek voel die regering moet meer doen om alle huishoudings te dwing om herwinningsdromme by hulle huise te hê. Kinders moet al van gr. 1 af geleer word hoe om plastiek te herwin.

“Boetes moet ook opgelê word aan mense wat rommel strooi. ’n Opruimingsveldtog moet ook van stapel gestuur word wat deurlopend uitgevoer word totdat al die rommel in tuine, parke, riviere, damme asook oseane verwyder is,” sê hy.

Michael, wat graag eendag ’n rekenmeester of ortodontis wil wees, sê wanneer hy eendag baie geld het, sal hy ’n maatskappy stig wat spesialiseer in die opruiming van oseane.

“Dit moet ’n maatskappy wees wat wêreldwyd sake doen. Dit sal ’n maatskappy wees waar die publiek betrokke kan raak. Dit gaan ook baie werk skep, want daar is baie plastiek oral wat verwyder en herwin moet word,” sê hy.

Meer oor:  Plastiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.