Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Jip
Twee Stellenbosse skole wen debatstryd

Daar is beslis iets in die water in Stellenbosch, want twee van dié dorp se skole het die jaarlikse Dink of Sink-debatkompetisie oorheers.

Die Hoër Meisieskool Bloemhof het met die louere weggestap in die junior afdeling terwyl Paul Roos Gimnasium se kwinkslae in die senior afdeling hulle ’n oorwinning besorg het.

Die jaarlikse Dink of Sink-debatkompetisie het vanjaar aan die Stellenbosse skole behoort: Die Hoër Meisieskool Bloemhof het die junior afdeling en die Paul Roos Gimnasium die senior afdeling gewen. By die twee spanne is Gert Visser, organiseerder van die kompetisie en onderwyser van die Hoërskool D.F. Malan, en Carien Bloem van AfriForum.Foto’s: JACO MARAIS

Die debatkompetisie word jaarliks by die Hoërskool D.F. Malan in Bellville in samewerking met AfriForum aangebied. Die kompetisie word al sedert 2001 by die skool aangebied.

In die juniors (gr. 8 en 9) se eindstryd het Bloemhof teen die Hoërskool Stellenbosch te staan gekom met die onderwerp “Liefdesverhoudings oor ’n groot afstand kan nie werk nie”. Bloemhof was as leidende span ten gunste van die stelling, terwyl die Hoërskool Stellenbosch daarteen gedebatteer het.

Die onderwerp vir die seniors (gr. 10 tot 12) se eindstryd was “Beloning vir die verlede moet voorrang geniet bo meriete in die hede”. Paul Roos was die opponerende span en die Hoër-skool D.F. Malan die leidende span.

Al vier skole het ná ’n hele middag se vurige debat in die eindrondes hul bes gedoen, maar Bloemhof en Paul Roos se leerlinge se tonge was skerper as die res s’n.

Albei wenspanne was oorstelp en kan nie wag vir die nasionale eindstryd wat later vanjaar aangebied word nie.

Arlene Janse van Rensburg, Tia Bruwer en Angela Schindehütte van die Hoër Meisieskool Bloemhof is die junior wenners.
Die senior wenners is Paul Roos Gimnasium se Mihan van Zyl, Alex Aldrich en Jacques Botma.

“Ons kry goeie ondervinding om teen sulke sterk skole deel te neem,” sê Tia Bruwer van Bloemhof. “Die kompetisie is ook ’n lekker geleentheid om te leer hoe om op jou voete te dink en jou opinie oor te dra.”

Sy en haar spanmaats stem saam dat die kompetisie nie altyd maklik is nie, maar beslis altyd lekker.

Mihan van Zyl van Paul Roos sê hy raak nooit gewoond daaraan om voor mense te praat nie en al is dit altyd stresvol, is dit ’n goeie en lekker ervaring.

“In dié kompetisie wen die span met die beste kwinkslae altyd,” sê hy.

Hulle is nes Bloemhof baie opgewonde om aan die eindstryd te gaan deelneem.

“Ons was in 2016 ook by die nasionale finaal en dis altyd lekker om teen ander streke deel te neem. Hulle het ander debatstyle en menings en boonop kry ons meer ervaring,” sê Jacques Botma van Paul Roos.

Die twee spanne neem op 20 Oktober aan die eindstryd in Pretoria deel teen die wenners in die sentrale streek (Vrystaat, Noord-Kaap en Noordoos Kaap) en die Noordstreek (Noordwes, Gauteng, Limpopo en KwaZulu-Natal).

Die musiekgroep Kaleidoskoop het die gehoor tussendeur die debattering vermaak. Die groep bestaan uit Anique Jordaan en Jouba Jordaan.
Jacques Botma, Mihan van Zyl en Alex Aldrich van die Paul Roos Gimnasium besig om hul toesprake en argumente in die eindronde van die senior afdeling uit te werk.
Die Hoërskool D.F. Malan se senior span, Neal Malan, Henrich Crous en Ila Alberts, hard aan die werk en idees uitruil in die eindronde.
Die twee wenspanne van Stellenbosch, Bloemhof en Paul Roos, wens mekaar geluk.
Carien Bloem van AfriForum sê die kompetisie se sukses het gegroei tot die nasionale universiteitsdebatkompetisie.
Die eindronde in die senior afdeling was tussen die Hoërskool D.F. Malan en die Paul Roos Gimnasium met die onderwerp “Beloning vir die verlede moet voorrang geniet bo meriete in die hede”

Meer oor:  Paul Roos Gimnasium  |  Debat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.