Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
1, 2, 3... Roomys!

’n Somer sonder ’n yskoue roomys kan ek myself nie voorstel nie. Ek het nou die dag op Bloubergstrand ’n bloedrooi roomysfiets raakgeloop en dit het my met heimwee na my kinderjare laat verlang. Daardie onmiskenbare klingeling van die roomysfietsklokkie wat ons van ver af kon hoor, het ons vier kinders soos torpedo’s laat straat toe hardloop. So tussendeur het ek gegil: “Ma! Die roomysfiets is hier! Maak gou!” Dan moes Ma rondskarrel vir vyfsente om vir elkeen sy gunsteling- koue lekkerte te koop.

Roomyskar

By die huis het ek Sofia Smit se boek Sê amen oopgemaak en weer die hoofstuk “Roomyskar” gelees.

Sofia beskryf die roomyskar se tiengelieng-tiengelieng as koel fonteinwater wat op ’n snikhete agtermiddag oor die spoelklippies kabbel. Hoe mooi is dit nie?

Sy skryf verder: “Die ironie is dat ons kinders destyds, in die ‘goeie ou dae’, sommer van die stoep af roomys in die straat kon koop.

“Deesdae moet jy eers jou veiligheidshek oopsluit, die alarm se kode inpons, dan die voordeur oopsluit, vir die laserstrale van die veiligheidsensors koes, dalk ylings na die tweede ysterhek toe storm, paniekerig vir die sleutel vroetel en hoop jy haal die regte een uit om die hek mee oop te sluit. En teen daardie tyd is die roomysbussie lank­al om die hoek.

“Ek was baie opgewonde dat ons mooi dorp ’n roomyskar gekry het. Ek kan nie meer onthou wanneer laas ek so ’n bussie gesien het nie. ’n Mens sien hulle selfs in die stede nie meer so dikwels nie. Vandat daar vele supermarkte en geriefswinkels by vulstasies is, het roomyskarre skaars geword.

“Ek moet bely: ’n Roomys uit ’n roomysbussie met sy blink, gekleurde letters en sy narrehoed op sy spitsdakkie smaak honderd keer beter as ’n harde, geysde roomys uit ’n winkelvrieskas.”

Ek stem heelhartig saam, Sofia.

Dan beskryf sy hoe sy die roomyskar ’n klapsoen wil gee en vir die verkoper wil vra wat alles in daardie towerwaentjie is.

En iets wat Sofia vandag nog bybly is: “Daardie eerste lippe-aflek-tongtippietoets wanneer die koue deur jou verhemelte trek en die ryk smaak van sjokolade jou tong oorrompel, die soetheid wat in jou keel huiwer, die koelheid wat in die mond agterbly.”

’n Roomysfiets op Bloubergstrand.

Roomysfiets

Sy skryf ook: “Dan was daar die roomysfiets. Dit was ’n driewielgedoente met ’n vrieskassie wat voor gebalanseer was. Daardie oomblik wat hy die deksel gelig het en die koel wasem teen my gesig sou bondel, bly vir my die hoogtepunt van my kinderlewe. Jy kon tussen die destydse Wall’s-vanieljeroomys in bakkies en romerige smaaksensasie op die stokkies rondvroetel tot jy jou gunsteling raakvat.

“My roomysfietsryer het altyd my gunsteling-roomys gehad: ’n suurlemoenysie met stukkies vanielje tussenin.”

Roomys vir grootmense

Ek is nie veel van ’n roomysmaker nie en vind dit makliker om ’n paar rand vir ’n bak roomys by die supermark op te dok. Ek tof ’n tweeliterbak roomys op met my gunsteling-soetgoed soos Peppermint Crisp, speserykoekies, grondboontjiebroslekkers (peanut brittle) of koeksisters. Laat staan die roomys vir so 15 minute buite om sag te word (maar nie gesmelt nie), dan roer jy jou gebreekte soetigheid deur en vries weer.

Shirley se drie-bestanddeel-roomys

My vriendin Shirley Johnston maak die heerlikste roomys met net drie bestanddele en sy bedien dit “heel” met verskillende vars bessies. Sy meng kondensmelk en baie vanieljegeursel saam, klop room en vou dit alles saam deur. Dit word in ’n bak gevries en dan word die hele roomys op ’n skinkbord omgekeer en saam met vars bessies bedien. Indrukwekkend en liplek-lekker.

My karamelroomys

As ek die dag wel roomys maak, vat ek ook die kortpad soos Shirley. Pleks van gewone kondensmelk gebruik ek ’n blikkie karamel (dit is nou as ek het, want gewoonlik eet ek die blikkie sommer op). Hier klits ek net twee bakkies room tot sagte punte en vou dit deur ’n blikkie karamel. Heerlik!

Groete,

Anél

anelpotgieter.com

Koeksisterroomys

2 liter romerige vanieljeroomys en koeksisters, in stukke gebreek

Laat die roomys effens sag word. Meng die koeksisterstukke deur. Vries weer en bedien in roomyshorinkies.

Shirley se maklike roomys. Foto: Anél Potgieter

Shirley se roomys

1 blikkie kondensmelk

30 ml vanieljegeursel

1 liter room

Vir bediening

vars bessies

Meng die kondensmelk en vanieljegeursel saam. Klits die room tot sagte punte en vou by die kondensmelkmengsel in. Vries oornag of langer.

Om te bedien: Haal uit vrieskas en laat vir so tien minute buite staan. Keer op ’n skinkbord om en bedien.

Karamelroomys

500 ml vars room

1 x 380 g blik karamelkondensmelk

15 ml vanieljegeursel

Plaas die room in ’n bak en klits op hoë spoed tot stywe punte vorm. Skep die karamel uit in ’n kleiner mengbak en roer saam met vanieljegeursel totdat dit ’n gladde tekstuur het. Vou die room by sodat dit ’n ligte mengsel vorm. Vries oornag.

Sê amen deur Sofia Smit

Dit word deur Lapa uitgegee en is ’n versameling van Sofia Smit se rubrieke wat in Vrouekeurverskyn het. Die boek kos R209 en kan aanlyn by lapa.co.za bestel word.

Meer oor:  Resepte  |  Roomys  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.