Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
5 lesse met Ma Babs

My liewe Ma Babs was wéér baie siek en het met ’n virus in die hospitaal beland. Ná haar ontslag was sy pap, moeg, sonder lewenslus en het meestal geslaap. Ek het haar in dié tyd ’n paar keer gegroet en jy kan maar sê Avbob was op bystand.

Toe dit op die slegste gegaan het, het ek besluit om haar elke dag ontbyt, middagete en aandete te voer. Dit was ’n ongelooflik moeilike, emosionele, maar tog ook ’n verrykende ervaring. Ek het tot baie insigte gekom oor voeding. Veral die voordeel daarvan vir ou mense, ook dié met demensie, soos Ma Babs.

Babs Potgieter is weer perdfris na ’n langerige siekbed. Foto: Anél Potgieter

Ek is nie ’n spesialis op enige van dié gebiede nie, en sal nooit wees nie, maar ek is Babs Potgieter se dogter, wat haar baie liefhet, wat haar gesond wil sien en wat persoonlik ervaar het dat goeie gesonde kos ’n baie swak persoon weer op die been kan bring. Een van die grootste gewaarwor­dinge was dat die regte voeding haar breinfunksie (haar gesels, haar demensie) verbeter het. Weer eens, ek is nie ’n dokter of ’n dieetkundige nie, maar ek het haar verbetering self ervaar.

Les 1: As Avbob op bystand staan, baklei vir jou geliefde – moenie moed verloor nie.

Potgieter-sop en Fresubin

Fresubin is ’n ongelooflike voedingsaanvulling wat die internis in die hospitaal vir Ma voorgeskryf het, en sy is met ’n paar botteltjies huis toe gestuur. Ek het Fresubin met ’n inspuiting in haar mond gespuit en haar mooi gevra om te sluk – sy het baie swaar gesluk. Maar sy het omtrent ’n botteltjie elke dag gedrink. Ek het ook haar gunsteling-Potgieter-sop gekook. Dis nou nie juis spesiaal nie – ’n paar sopbene, so vyf peperkorrels, drie naeltjies, gerasperde aartappels, gerasperde ui, gerasperde wortels, twee blokkies aftreksel en dan het Ma dit altyd verdik met ’n pakkie tamatiesop. Die sop is verpulp, deur ’n siffie gedruk en dit is verder verdun met ’n bietjie water.

Dit het maklik deur ’n groot spuit gevloei en sy het onmiddellik meer begin eet.

Ek het geleer dit help nie om vir haar iets te probeer gee wat vir haar sleg smaak nie, dan wil sy nie eet nie. Anders het sy net haar kop geskud en gesê: “Ek wil nie eet nie.”

Chiasaad het talle voordele. Foto: iStock

Les 2: Voer vir ’n siek persoon kos wat vir hom of haar lekker en nostalgies smaak, dan is hulle meer geneig om te eet.

Papaja, chiasaad en appelmoes

Babs is baie lief vir vars groente en vrugte. Papaja is nou in seisoen, en ek het dit baie fyngedruk en haar stadig met ’n lepeltjie gevoer. By die versorgingsoord het hulle gestoofde appels fyn gemaak en dié het sy ook geniet. ’n Ander gunsteling van haar was Woolies se heerlike mango-en-wortelsap met chiasaadjies in.

Ek het vir haar vertel die chiasaadjies gaan duisende klein babatjies in haar maag maak, hulle gaan dan na haar bene swem, soos soldate saamstaan en haar weer laat loop. In die begin het sy net geluister, maar die dag toe sy sê, “Nee my kind, dit is mos nou sommer ’n wolhaarstorie,” toe weet ek Babs is op pad terug.

Les 3: Jy het tyd nodig om ou mense te voer – elke voeding het omtrent tussen 45 minute en ’n uur geduur .

Chiasaad is ’n superkos

Dit help nie jy jaag die voedingsproses aan nie, gesels met die persoon terwyl jy voer. Vertel stories en maak daardie tydjie ’n spesiale tyd vir jou en hom.

Ek het bietjie opgelees oor chiasaad en was verbaas oor die gesondheidsvoordele en verstaan nou hoekom dit as superkos beskou word. Dit bevat goeie proteïen (15% tot 25% proteïen, sowat 5 g per porsie van 2 eetlepels), is ’n goeie bron van vesel en bevat ’n verskeidenheid vitamiene, minerale en anti-oksidante. Dit is ryk aan omega 3, wat natuurlik baie goed is vir hartsiektes asook vir inflammasie soos artritis. Omega 3 word ook verbind met verbeterde kognisie en neurologiese funksie.

Les 4: Lees en leer meer oor superkosse soos chiasaad wat maklik deur die ouer geslag ingeneem kan word

Hoenderpastei vir Babs

Babs het uiteindelik begin teelepeltjies roereier eet en bietjies vir bietjies al hoe meer vaste kos ingeneem. Ek weet sy is lief vir haar hoenderpastei met naeltjies. Dit het ek ook baie fyn gemaak en sy het ’n bietjie daarvan geëet. Babs se hoenderpastei is eenvoudig – sonder enige fieterjasies. Soos Ma jare terug vir my vertel het: “Die haantjie is gevang, kop afgekap en dan saam met 5 naeltjies, 8 peperkorrels, 25 ml suurlemoensap, 7,5 ml sout en so 200 ml water vir 20 minute in ’n stoompot gestoom. Daarna is die vleisies weer reggedokter met sout, peper en suurlemoensap, gepluis en saam met die versnipperde velletjie en oorblywende prutsousies onder ’n skilferkorskombersie gebak.”

Les 5: Moet nooit dink ou mens ies is moeg en wil doodgaan nie, want Babs wou nie, sy wou bly lewe en sy het.

Babs Norris

Ek, my Ier, my twee hondekinders en Babs het gister vir die eerste keer see toe gery om by Blouberg se pannekoekwaentjie ’n warm pannekoek te gaan eet. Ons maak toe sommer in die kar ’n video vir al haar Facebook-fêns: “Hallo julle almal. Ek wil darem net vir julle sê ek is terug op die toneel. Nou nie meer as Babs Potgieter nie, maar as Babs Norris.”

En toe besef ek, my ma is Chuck Norris se ouma!

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

Ma Babs se hoenderpastei

Ma Babs (inlasfoto) se hoenderpastei. Foto’s: Anél Potgieter

1 hoender, in stukke gesny

15 ml botter

7,5 ml sout

5 ml witpeper of swartpeper

5 naeltjies

8 peperkorrels

25 ml suurlemoensap

200 ml water

skilferkorsdeeg

eier, geklits

Braai die hoenderstukke bruin in die botter. Geur met sout en peper. Gooi alles in ’n drukpot en stoom vir 20 minute. Of kook stadig op die stoof totdat die hoender sag is. As jy ’n bietjie meer water benodig, voeg by – jy het ’n bietjie sous aan die einde nodig. Verwyder die bene, pluis die vleis, versnipper die velletjies en meng met oorblywende prutsousies.

Skep hoender in ’n oondbak, bedek met deeg, verf met geklitste eier. Bak teen 200 °C vir 30-40 minute of totdat die deeg goudbruin en gaar is.

Anél se papajasap met chiasaad en gemmer

Foto: iStock

1 groot papaja, geskil en verpulp

250 ml pynappelsap

15 ml chiasaad (by gesondheidswinkels beskikbaar)

2,5 ml gemmer, gerasper

2,5 ml borrie

Meng alles goed saam. Verkoel in yskas voor bediening.

Meer oor:  Lesse  |  Resepte  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.