Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Rondrits
Die siel van die bier
Dié wynmakers wat bier brou, is ware pioniers, meen Julian Jansen.
Rob Boustred van Remhoogte buite Stellenbosch bied proesessies van hul Wild Beast-reeks (Blonde Ale, Amber Ale en Stout) aan. Hy sê die entoesiasme onder toeriste is ­opwindend.

Sowat 32 jaar gelede is die eerste mikrobrouery in Suid-Afrika begin. Dit was Mitchell’s ­Brewery, wat in 1983 in Knysna geopen is.

Vandag is daar sowat 40 kleinskaalse brouerye in die land.

Tans word craft beer, hoewel nog op kleiner skaal, al hoe meer ook op wynlandgoedere deur ervare wynmakers gebrou.

Kenners in die plaaslike wynbedryf reken besoekers aan plaaslike wynplase raak kieskeuriger en verwag ’n “ander ervaring” – iets nuuts en unieks.

En dis waar boetiekbier sy nis gevind het. Kreatiewe biere – ­pale ales, pilsners, ­lagers en stout – uitsluitlik vir die “gesofistikeerde” smaak, word byvoorbeeld op die plase Remhoogte, Anura en Signal Gun gebrou.

Terwyl jy hier lees, brou pioniers bier en skep uit eenvoudige bestanddele soos gort, hops en suiwer water ’n produk van hoë gehalte.

Ek weet, want ek het dit op elkeen van die plase gaan proe.

Onderskeiding kom in verskillende kategorieë: kleur, wolkerigheid, helderheid, soetheid, bitterheid.

’n Proses so verrassend eenvoudig verg egter noukeurigheid en baie geduld. Die gort word afgeweeg en in ’n masjien gebreek. Dan word dit met water gemeng, waarna ’n vloeistof (wort) uit die brousel onttrek word.

Dié vloeistof bevat suikers wat met die byvoeging van gis stelselmatig sal fermenteer om die alkohol te vorm.

Die brouers op die wynplase ken die kuns daarvan om komplekse wyn van uitsoekdruiwe te maak en pas ewe bedrewe hierdie beginsels in die maak van hoëgehaltebier toe.

Op die prentjiemooi Remhoogte buite Stellenbosch brou die oud-Gautenger en wynmaker Chris Boustred en sy helper die oud-Zimbabwiër Jetro Chinaire in ’n 200 jaar oue gebou ingerig as ’n brouery.

Die hops en gort kom uit Amerika en die water uit ’n 200 m diep boorgat op Remhoogte.

’n Tweede of sekondêre fermentasieproses vind in die gebottelde bier plaas, wat tot die vorming van baie fyn borrels, “amper soos in sjampanje”, lei, sê Chris.

Sy broer, Rob, bied die gewilde proesessies aan.

Die Remhoogte-wynlandgoed buite Stellenbosch se Wild Beast-boetiekbierreeks: Amber Ale en Blonde Ale.
Die wynmaker MJ de Wit, eienaar van die Signal Gun-wynlandgoed buite Durbanville, brou ’n lager, gedoop Ystervark, en ’n besonderse “vyfgewas”-bier, Bontebok. By hom is Stacey Barrington, ’n toeris van Sunderland, Engla
Lance Bouma met sy assistent, Bobby Phenduka. Die vyf handgemaakte biere uit hul mikrobrouery word tans slegs as tapvatbier in die restaurant op die Anura-wynlandgoed buite Klapmuts bedien.
Die Signal Gun-wynlandgoed buite Durbanville se Hooge­berg-reeks handgebroude bier: Bontebok Five Crops en Ystervark Lager.
Drink minder, maar beter

Glasies bier met ’n gourmet-pizza vars uit die oond binne spoegafstand van waar wildebeeste, springbokke en sebras rustig wei.

’n Proesessie kos R25.

As jy by die huis die drie Wild Beast-produkte wil paar, doen dit só: Blonde Ale saam met witvleis, die Amber Ale saam met braaivleis of ribbetjies en die Stout (’n donker bier) met sjokolade.

Daar is reeds ’n ooraanbod van plase waar ’n mens kan wyn proe. Mense soek iets anders. Boetiekbierbrouery is ’n groeiende nismark, sê Chris.

Hulle verkoop sowat 10 000 liter bier per maand aan veral restaurante. Hy reken boetiekbier verteenwoordig reeds sowat 15% van die lewendige biermark.

“Drink minder, maar beter,” sê hy. “Ons kry reeds goeie terugvoering van ons gaste.”

Op die Anura-wynlandgoed buite Klapmuts brou nog ’n oud-Gautenger. Lance Bouma is hier aan die stuur en maak saam met Bobby Phenduka vyf soorte bier vir hul Wagon Trail-reeks: lager, Bavarian weiss, weiss, oxblood amber ale en pale ale. Om almal te proe sal jou R25 kos.

Sowat 1 500 liter bier word per maand gebrou.

Die Bouma-familie besit die oorspronklike titelakte van die plaas, waarop genoem word dat ’n deurgangsroete vir ossewaens vanuit die Kaap na Franschhoek beskikbaar gestel moet word.

Dié roete is vandag die geplaveide toegangspad.

Die gort kom uit Duitsland. Die ale en lager fermenteer onderskeidelik teen hoër en laer temperature.

Hul lagerbier is ’n groot gunsteling, “kompleks, maar nie swaar nie”.

Chris Boustred (bemarking), Jetro Chinaire (assistent) en Chris Boustred (wynmaker en bierbrouer) van die Remhoogte-wynlandgoed buite Stellenbosch, spog met hul drie handgemaakte biere in hul Wild Beast-reeks.

“Boetiekbier is gewild in die VSA en toeriste soek daardie unieke ervaring ook hier. Hulle en die plaaslike besoekers wil die bier kom proe. Dit voeg waarde by tot die hele ondervinding,” sê Lance.

Die landgoed se bier is tans as tapbier in hul kroeg en restaurant beskikbaar, en die eerste bottelering vind vandeesmaand plaas.

Op die Signal Gun-wynlandgoed buite Durbanville brou die wynmaker en vyfde-geslag-eienaar, MJ de Wit, met groot geesdrif aan twee uithaler-Hooge­berg-biere: die Bontebok Five Crops en ’n lager genaamd Ystervark. Sowat 2 000 liter per maand en met ’n alkoholinhoud van 3,8%: “Laer in alkohol, maar ’n voller soort bier,” sê MJ.

Die vyf gewasse in Bontebok is ’n unieke mengsel van gars, koring, rys, mielies en hops.

“Die brouery is intensiewe werk en ’n mens moet versigtig omgaan daarmee,” sê MJ. “Daar is ’n groeiende mark en ek wil uithaal en wys.”

Sy gort en hops (die “speserymiddel” vir die bier) kom uit ­George, die mout uit Caledon en die water uit die berg waarteen die landgoed lê.

“Ons bier verg ’n baie gespesialiseerde smaak. Dit is baie bitter, maar vrugtig.”

Volgens Marli Geldenhuys, die landgoed se reklamebeampte, word proesessies aangebied waar onderskeidelik springbokbiltong en blatjang-biltongstokkies met Ystervark en Bontebok “gepaar” word.

So ’n proesessie kos R50. As jy net die bier wil proe, betaal jy R10.

“Five Crops gaan goed saam met kerriegeregte en lager met vleisgeregte,” sê Marli.

 Die Klink-prys vir 2015, in samewerking met Wesgro, eer vanjaar die beste in die Suid-Afrikaanse wyntoerisme.

Klink het ’n nuwe afdeling, On the Hop, by sy ander afdelings gevoeg, juis om erkenning te gee aan wynplase wat hierdie unieke ervaring bied.

Remhoogte se Wild Beast, Anura se Wagon Trail en Signal Gun se Hoogeberg is almal benoem vir dié prys.

Lesers kan ook stem.

Besoek klinkawards.co.za, facebook.com/klinkawards of volg @klinkawards op Twitter.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.