Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Sjef van die jaar
Chantel Dartnall, sjef by die restaurant Mosaic, is onlangs as Eat Out se sjef van die jaar aangewys. Seugnet van Zyl het met Chantel gesels oor die koskunswerke wat sy en haar span in hul kombuis optower.
Chantel Dartnall, wat deur Eat Out as die beste sjef in die land aangewys is. Foto: Lisa Hnatowicz
Een van Dartnall se nageregte, Lucy’s Luscious Latte. Dit is geïnspireer deur ’n klein meisie wat ’n drinkjogurt in ’n winkel laat val het. Dit is ’n dekadente kombinasie van bessies en sjokolade. Foto: Rest
’n Blombedding op ’n bord. Die Restaurant Mosaic se Celebration of Spring-nagereg kombineer elemente van grenadella, viooltjie en perske. Foto: Restaurant Mosaic
Chantel Dartnall van Restaurant Mosaic het al die wêreld volgereis, maar het haar tweede tuiste in Parys gevind. Daar het sy verlief geraak op Belle Epoque-restaurante. Terug in Suid-Afrika was dit dus nie vir haar moeilik om op ’n Art No
By die Restaurant Mosaic van die Orient-boetiekhotel in Elandsfontein, net buite Pretoria voel dit asof jy in ’n heerlike Midde-Oosterse droom weggevoer word. Foto: Lisa Hnatowicz

Sy is die beste sjef in die land en haar restaurant laat die pryse inrol.

Chantel Dartnall (34) van die Restaurant Mosaic by The ­Orient-boetiekhotel in Elandsfontein, tussen Pretoria en Hartbeespoort, is onlangs by die Eat Out Mercedes-Benz-restaurant- pryse as die sjef van die jaar aangewys.

Die restaurant, wat sy saam met haar ma, Mari, bedryf, is boonop vierde op die lys van Eat Out se gesogte top-10-restaurante en is in dieselfde week deur die Restaurant-vereniging van Suid-Afrika as die restaurant van die jaar aangewys.

Dis nie die eerste keer dat Chantel die gesogte Eat Out-prys voor ander sjefs in die land se neus wegraap nie. Sy het die prys ook in 2009 ontvang.

Chantel sê sy was in 2009 die nuweling in die sjefwêreld en Mosaic was toe net drie jaar aan die gang.

“Maar vyf jaar later glo ek dat ek en Mosaic beter bekend en gevestig is. Ek glo ek verdien die titel nou ’n bietjie meer.”

Albei kere was dit regtig onverwags vir Chantel, wat by die Prue Leith- kulinêre akademie opgelei is.

Andy Fenner, ’n beoordelaar van Eat Out, sê daar is ongelooflike detail en ingrypende tegniek aan Dartnall se kos – seker van die mooiste kos op ’n bord in Suid-Afrika.

Sy is bekend daarvoor om die natuur op ’n bord aan te bied.

Restaurant Mosaic is bekend om die gebruik van eetbare blomme uit hul eie tuin in al hul geregte.

Chantel wend die blomme in haar prentjiemooi geregte aan nie net omdat hulle pragtig lyk, ruik en proe nie, maar ook vir die medisinale waarde van elke blom en krui.

Ongewone inspirasie

Blomme is nie al wat haar inspireer nie.

’n Nagereg op die spyskaart, Lucy’s Luscious Latte, is juis geïnspireer deur een van die “oeps”-oomblikke van die lewe.

“Toe ek onlangs my inkopies vir Mosaic doen, het ek ’n jong meisie gesien wat op haar tone gestaan het om by die rooi bessiejogurt in die yskas uit te kom.

“Op daai oomblik het haar ma haar geroep en sy het die jogurt laat val.

“Soos sy na haar ma toe gehardloop het, het die jogurt in alle rigtings gespat.”

Dartnall sê al wat van die “misdaadtoneel” oorgebly het, was haar klein voetspoortjie in die jogurt op die vloer.

Die nagereg wat deur dié ervaring geïnspireer is, is ’n kombinasie van gestoofde bessies (compote) wat met vanielje van Madagaskar gegeur is, vars rooi bessies en panna cotta van wit sjokolade. Om die prentjie af te rond is daar boonop ’n botteltjie drinkjogurt wat pragtig op die bord “gemors” is.

Chantal glo dit is baie belangrik om geregte voor te sit wat dadelik die oë “honger” maak.

Die disse is nie net uitsonderlik elegant nie, maar ook vol geur en kleur.

Wat maak haar kos en restaurant so spesiaal?

“Ons spandeer baie tyd en aandag aan ons omgewing, die samestelling van elke gereg, asook sy perfekte wynpasmaat.

“Al hierdie detail, gekombineer met ’n wonderlike span wat passievol is oor wat hulle doen, is wat Restaurant Mosaic so spesiaal maak.”

Chantel kook al vandat sy kan onthou en wou nog altyd haar eie restaurant gehad het.

“Ek voel baie bevoorreg, want hoewel die toekenning aan die sjef gegee word, is daar ’n hele span wat elke dag net so hard werk om dit vir my moontlik te maak.”

As deel van die prys sal Chantel in Januarie Italië toe reis waar sy in Alta Badia aan die Chef’s Cup SüdTirol teen 70 wêreldbekende sjefs gaan deelneem.

Eat Out se top-10

Dié restaurante is by Eat Out Mercedes-Benz se restauranttoekenningsgeleentheid as die land se top-10 aangewys: 


1. The Test Kitchen, Kaapstad

2. Five Hundred, Johannesburg

3. The Tasting Room, Franschhoek

4. Restaurant Mosaic, Elandsfontein

5. Jordan Restaurant, Stellenbosch

6. Overture, Stellenbosch

7. Rust en Vrede, Stellenbosch

8. DW Eleven-13, Johannesburg

9. The Restaurant at Newton Johnson, Hemel-en-aarde-vallei, Overberg

10. Terroir, Stellenbosch

■ Besoek ​eatout.co.za vir meer inligting oor die top-10 en oor die Eat Out-restaurantgids vir 2015. Dié tydskrif is ’n moet-hê vir foodies, omdat dit ’n gids is van al die land se beste eetplekke. Dit is by onder meer Woolworths, Exclusive Books of aanlyn beskikbaar.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.