In die afgelope jaar het al hoe meer kelders begin om ’n bottel of twee, of selfs ’n reeks alkoholvrye wyne te produseer.
Een van hierdie produsente is Piekenierskloof Wines, wat einde verlede jaar twee gedealkoholiseerde wyne onder hul Six Hats-reeks uitgereik het – ’n witwyn en ’n rooiversnit.
Hierdie kelder se Six Hats-reeks is bekend daarvoor dat dit ligter, maklik drinkbare wyne is en nou is die twee nuwe toevoegings van so ’n aard dat dit toeganklik vir ’n nuwe mark is.
“Die twee wyne komplementeer die reeks perfek, veral gedurende okkasies waar jy jou alkoholinname moet dophou of verkies om iets te geniet aan die ligter kant,” deel hulle oor die wyne.

Piekenierskloof Wines het onlangs twee gedealkoholiseerde wyne by hul Six Hats-reeks gevoeg.Foto: VERSKAF
Die Six Hats White is ’n gedealkoholiseerde chenin blanc met minder as 0,5% ABV. Dit het ’n effense soet smaak, maar so min dat selfs drinkers van droër style dit steeds sal geniet en spog met baie vrugtigheid. Die kleur is soos ligte strooi en sal in ’n wynglas nes wyn lyk – jy hoef dus nie te voel asof jy koeldrank drink nie.
Vir die Six Hats Red is tempranillo, tannat en tinta amarella gebruik om dié versnit te maak.
Hier kry jy beslis ’n tikkie tanniene op die tong, wat dit soos ’n regte rooiwyn laat proe.
Daar is ook vrugtigheid en weer eens ’n tikkie soet om van dit ’n lekker drinkwyn te maak. Beslis my gunsteling van die twee!
Albei moet yskoud geniet word, so plaas dit gerus in die yskas voordat jy dit geniet.
Dit kan selfs met ’n blokkie ys of twee gedrink word – heerlik vir die warm somersdae.
Nie net is hierdie twee wyne goed vir wanneer jy jou alkoholinname beperk nie, maar dit is ook laag in kilojoules met 68,25 kJ vir die witwyn en 90,93 kJ vir die rooiwyn (per 100 ml). Dit is beslis die ideale drankie vir Januarie!
- Die wyne is beskikbaar by www.piekenierskloofwines.co.za of by die De Tol-plaasstal op die N7. Dit kos R85 per bottel.