Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
KOSTELIK
Anél Potgieter: As die bakgogga byt

Almal het gedurende die inperking gebak en geëksperimenteer met resepte, maar as jy al ooit jou ouma se verlore gemmerkoekie- of skonresep gesoek het, of jou mond water vir enigiets van stroopkoek tot soutbrood, kleinkoekies tot kaaskoek, beskuit, kolwyntjies, gebakte warm poedings en Kersfeesgebak, is Landbou Boerekos: Die beste gebak die boek vir jou. Dit bied ’n omvattende versameling bakresepte uit die gewilde kostydskrif Landbou Boerekos.

Marmeladebroodjie

Arina du Plessis skryf daarin: “Ek het onlangs ’n groot pot marmelade op die stoof gehad toe ek besef ek het te min flesse om dit alles te bottel. Toe bedink ek ’n paar resepte met marmelade om daarvan te gebruik – onder meer hierdie maklike teebroodjie.

Bak sommer ’n paar en bevries dit, of deel die broodjies onder jou vriendinne uit. Dit is smullekker saam met ’n pot Earl Grey- of rooibostee.”

Warmmelksponskoek

’n Partytjie sonder ’n koek is net ’n vergadering, het die kosskrywer Julia Child gesê. Ek stem volmondig saam. Vier ’n spesiale dag met ’n spesiale koek soos dié warmmelksponskoek – dis hoe dit hoort!

So, as die bakgogga jou weer byt, of jy hunker dalk na die vertroostende smaak van tradisionele tuisgebak, koop die boek!

Groete uit my kombuis

Lekker bak almal

Anél

anelpot@telkomsa.net


Marmeladebroodjie

Marmeladebroodjie

120 g sagte botter

100 ml strooisuiker

5 ml vanieljegeursel

2 ekstragroot eiers

310 ml koekmeel

7 ml bakpoeier

45 ml marmelade

45 ml melk

versiersuiker, om oor te sif

Voorverhit die oond tot 170 °C en voer ’n klein, gesmeerde broodpannetjie met bakpapier uit. Smeer weer of bespuit met kleefwerende kossproei. Verroom die botter en strooisuiker goed tot lig en donsig. Klits die vanieljegeursel by, en voeg die eiers by.

Klits goed. Sif die meel en bakpoeier oor die botter-en-eiermengsel. Voeg die marmelade en melk by. Klits deur totdat ’n dik beslag vorm. Skep die beslag in die voorbereide pan en bak vir ongeveer 45 minute tot goudbruin en deurgaar.

Laat vir ’n paar minute in die pan afkoel voor jy die broodjie op ’n draadrak uitkeer. Laat heeltemal afkoel.

Sif versiersuiker oor die broodjie net voordat jy dit voorsit.

Lewer 1 klein teebrood.


Warmmelksponskoek met amandelroom en bessies.

Sponskoek

4 ekstragroot eiers

450 ml witsuiker

10 ml vanieljegeursel

125 ml melk

125 ml water

100 ml olie

500 ml koekmeel

10 ml bakpoeier

2 ml sout

Versiersel

40 ml sjerrie

250 ml bessiekonfyt van jou keuse

375 ml vars room

30 ml versiersuiker, gesif

3 ml elk amandel- en vanieljegeursel

250 ml vars bessies van jou keuse, kleiner gesny, indien nodig – as jy nie vars kan kry nie, gebruik bevrore bessies

Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer twee koekpanne van 20 cm met bakpapier uit en smeer goed.

Vir die sponskoek: Klits die eiers in ’n groot mengbak en voeg die suiker geleidelik by. Klits vir ongeveer 10 minute tot liggeel en dik. Voeg die vanieljegeursel by en klits deur. Verhit die melk, water en olie tot kookpunt, verwyder van die hitte en laat effens afkoel. Sif die meel, bakpoeier en sout oor die eiermengsel en vou in. Voeg die melkmengsel by en meng liggies tot ’n gladde beslag vorm.

Verdeel die beslag tussen die twee panne en bak vir 20-25 minute tot gaar.

Haal die koeke uit die oond, laat vir 10 minute in die panne afkoel en keer op draadrakke uit om af te koel tot kamertemperatuur.

Vir die versiersel: Sny elke koeklaag in twee dunner lae en besprinkel elke laag met sjerrie. Smeer ’n lagie bessiekonfyt op elke koeklaag. Sit die onderste koeklaag op ’n koekstaander. Klits die room, versiersuiker en amandel- en vanieljegeursel saam tot styf. Smeer ’n dun laag room op die onderste koeklaag, die tweede en die derde koeklaag. Sprinkel ’n paar stukkies bessies oor.

Stapel die koeklae op mekaar en smeer die res van die room op die boonste laag. Rond af met die res van die bessies. Bêre die koek in die yskas.

Lewer 12–14 porsies


Biltong-en-fetakaaskoek


Lewer ongeveer tien porsies.

Kors

6 velle fillodeeg

100 ml gesmelte botter

Vulsel

2 houers (250 g elk) geroomde maaskaas

1 houer (230 g) biltonggeur-roomkaas

4 ekstragroot eiers

180 ml karringmelk, jogurt of suurroom

180 ml fyn biltong of biltongpoeier

20 ml koekmeel

250 ml gekrummelde fetakaas

Om af te rond

125 ml klam beesbiltongskaafsels

roketblare

olyfolie

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n losboomkoekpan van 20 cm.

Vir die tertkors: Smeer elke vel fillodeeg met ’n dun lagie gesmelte botter en voer die tertbord met laag op laag fillodeeg uit. Laat die rande van die deeg oor die kant van die pan hang. Bak vir 10 minute en haal uit die oond.

Verlaag die oondtemperatuur tot 160 °C.

Vir die vulsel: Sit die kase, eiers, karringmelk (of jogurt of suurroom), fyn biltong en koekmeel in ’n voedselverwerker en klop tot glad.

Giet in die halfgaar kors en krummel die fetakaas oor die vulsel. Bak vir 1 uur tot die kaaskoek net ferm is (die binnekant kan nog liggies bewe as jy teen die pan tik). Skakel die oond af en maak die deur op ’n skrefie oop.

Laat die koek vir 30 minute in die oond afkoel en haal dan uit om verder af te koel.

Rond af met skaafsels biltong en roketblare. Bedruip met olyfolie en maal ’n bietjie swartpeper oor.


Wen

Landbou Boerekos: Die beste gebak word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R350. Drie lesers kan elk ’n kopie wen. SMS die woord “bak” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum: 3 Julie 2020.

Meer oor:  Anél Potgieter  |  Kotelik  |  Kos  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.