Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Anél Potgieter: Beesstert, my troos
Mika Kota se beesstertresep is meer tradisioneel en bevat bevrore ertjies. Foto: iStock

Dit sous behoorlik katte en honde in die Kaap en terwyl die winterkoue my hele liggaam en siel omvou, soek ek trooskos. Nie net vir my liggaam nie, maar ook vir my swart-hond­gemoed. Covid-19 blaf hard oor my skouer, kruip in die donkerte vir my weg. My hart breek vir my siek vriende aan ventilators, oor my nefie wat dood is, oor ek nie my ma kan sien nie en sommer ook oor my vriendin se snikke oor die erge droogte op hul plaas in die Noord-Kaap. Dit is ’n baie moeilike tyd vir ons almal. Ek is net moeg, gedaan en hartseer en soek ’n trooskos-kombersie. En wat beter as ’n pot stomende beesstert.

Nina se oondgebakte beesstert met pere en knoffel

Ek kuier gereeld op Nina Timm se blog, my-easy-cooking.com. Veral as ek soek na iets anders en lekkers. Haar oondgebakte beesstert met pere en knoffel is ’n heerlike kombinasie. Sy skryf: “Beesstert is gesog en as jy goeie gehalte wil hê, stel ek voor dat jy ’n goeie slagter vind en jou bestelling plaas. Vir beesstert gebruik ek een groot stuk en ’n paar kleiner bene per persoon. Dit is daardie klein klewerige beentjies wat beesstert so dekadent maak.” Nina maak haar beesstert met rosé en nie met rooiwyn nie en bedien dit met botterige kapokaartappels of stampmielies.

Mika Kota se tradisionele beesstert

Mika, wat saam met my werk, het onlangs as ’n sjef gekwalifiseer en ek is so trots op hom. Sy beesstert is tradisioneel met lourierblare, rooiwyn en groente, maar dit bly ’n wenner. Ek moes by die werk myself keer om nie ’n derde porsie te skep nie! Hy bedien dit ook met kapokaartappels of lekker stywepap.

Juanita Loubser se oondgebakte beesstert.
Juanita Loubser van die Paarl

Juanita laat weet op Facebook dat sy die beesstert in ’n oondbak pak en dan rasper sy drie wortels, twee murgpampoene, een groot ui en so ’n handvol sampioene bo-oor. “Gooi twee knoffeltoontjies, twee takkies vars roosmaryn en origanum by. Voeg ’n blik gekapte tamaties by, maak die blik vol water om sommer die laaste tamaties ook saam met die water bo-oor te gooi. Plaas die deksel op en bak in die oond teen 160 °C. Ná ’n uur gooi ek sout by. (Ek werk op een teelepel sout per 500 g vleis). Ná nog ’n uur draai ek die stukke vleis om en sit ’n paar aartappels en groot stukke groente by. Ná vier uur se stadige bak in die oond behoort alles sag te wees. Die gerasperde groente vorm ’n dik, ryk sous. Let daarop dat jy nie nog vloeistof bysit nie, want dan swem die stert en jou sous is nie lekker dik nie.” Mmmm, dit klink nou na winterlekkerte.

  • Groete uit my kombuis en sterkte vir julle almal in hierdie moeilike tyd.
  • Anél
  • anelpot@gmail.com

Mika Kota se gestoofde beesstert

Resep: Mika Kota

  • 125 ml olyfolie
  • 2 kg beesstert
  • 2 t sout
  • 1 t peper
  • 3 wortels, fyn opgekap
  • 1 ui, opgekap
  • 3 selderystokke, opgekap
  • 6 knoffeltoontjies
  • 4 lourierblare
  • 6 tiemietakkies
  • 2 k rooiwyn
  • 2 liter beesaftreksel
  • 4 aartappels, in stukke gesny
  • 1 k bevrore ertjies

Verhit die helfte van die olie in ’n groot dikboomkastrol. Braai die vleis so 3-4 stukke op ’n slag tot bruin en hou eenkant. Terwyl jy die vleis braai, geur met sout en peper.

Oor medium hitte, gooi die res van die olie in die kastrol en voeg die wortels, ui, seldery en knoffel in en soteer tot sag en goudbruin. Gooi die res van die bestanddele by en prut vir 10 minute. Voeg die beesstert by en prut vir 2½ uur. Gooi die aartappels en ertjies by en prut vir nog ’n ¾ uur tot die aartappels gaar is, die vleis sag is en die sous verdik het.

Nina Timm se beesstert met pere en knoffel. Foto: Nina Timm
Beesstert met pere en knoffel

Resep: Nina Timm

Bedien: 4

  • sowat 2 kg beesstert
  • sout en peper
  • 15 ml droë koljander – droog gerooster en fyngemaal
  • 25 ml olyfolie
  • 3 naeltjies
  • 10 knoffelhuisies – geskil, maar hou heel
  • ’n paar takkies tiemie
  • 8 baba-uie – geskil, maar hou heel
  • 4-6 klein pere – geskil, maar hou heel
  • 250 ml rosé
  • 15-30 ml sojasous
  • 500 ml beesaftreksel
  • 10 ml mielieblom – gemeng met ’n bietjie water, net om die sous te verdik
  • sap en skil van 1 suurlemoen

Verhit die oond tot 180 °C. Verhit ’n groot oondpan of ysterpot op die stoof. Voeg die olyfolie by. Geur die vleis met die speserye en braai die vleis in sarsies tot goudbruin. Pak die vleis en al die ander bestanddele, behalwe die mielieblom, in die pot. Plaas die deksel op die pot en bak die beesstert vir 2-3 uur lank in die voorverhitte oond. Kyk elke uur of die vleis sag is, of dit meer vloeistof of meer tyd nodig het.

Sodra die vleis sag is, roer die mielieblommengsel in en plaas die pot weer in die oond, hierdie keer met die deksel af. Die vleis sal effens verbruin terwyl die aftreksel verdik. Proe vir geurmiddels en pas aan indien nodig. Voeg net voor opdiening ’n paar druppels suurlemoensap en -skil by.

Sit voor op romerige kapokaartappels met baie botter. Dit is ook heerlik op gekookte stampmielies.

Meer oor:  Anel Potgieter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.