Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Anél Potgieter: Daai vlak 5-gevoel
Elana Afrika-Bredenkamp

Elana Afrika-Bredenkamp is een van die talentvolste en mees dinamiese vroue wat ek ken. Nie net is sy ’n briljante en suksesvolle sakevrou nie, maar haar grootste roeping is om ’n goeie ma te wees vir haar twee dogtertjies. Sy balanseer haar werk- en familielewe tot so ’n mate dat sy nog genoeg tyd het om haar kinders se kospakkies vir skool in te pak én brood te bak. Respek!

Elana se gevlegte brood.

Sy en haar gesin was onlangs in Covid-19-isolasie en dit is toe dat ek die foto van haar gevlegte brood op Instagram sien. Sy laat weet my: “In die laaste dae van isolasie wou ek skielik brood bak – daardie regte vlak 5-inperking-gevoel. Gewoonlik koop ek deeg en kul my weg deur die hele broodbak-storie . . . maar vandag het ek uit die Kook en geniet geleer. Dis so wetenskaplik . . . al die meng en meet! Die brood was ’n sukses en ons is dankbaar dat ons almal gesond is.”

Varkworsie-en-appel-pasteitjies

In pas met ons president se aankondiging dat die inperkingsmaatreëls nou weer strenger word, raak ek toe ook die week lus vir bak. Ek het kortpad gevat met dié heerlike varkworsie-en-appel-pasteitjies. Jy koop die blaardeeg en die varkworsies en meng klein appelblokkies, blatjang en mosterd by die varkworsievleis. Die eindresultaat sal enige pasteikoning laat wonder of hy nog die kroon werd is. Eet dit warm met ’n lekker skeppie sterk mosterd. Ek het die een pasteitjie in die yskas gehou om dié foto te neem. Die volgende oggend het ek dit in die mikrogolfoond warm gemaak en toe was dit nog lekkerder. Die vleis was sag en geurig en die pasteideeg was perfek bros. Heerlik en iets wat my Ier al klaar weer bestel het.

Groete uit my kombuis

Anél

anelpot@telkomsa.net

Foto: Anél Potgieter
Varkworsie-en-appel-pasteitjies

Resep: Anél Potgieter

  • 1 pak blaardeeg
  • 6 varkworsies, van goeie gehalte
  • ½ groen appel, ongeskil in baie klein blokkies gesny
  • 3 agurkies, in klein blokkies gekap
  • 1 e blatjang
  • ½ e sterk mosterd
  • Vir bak
  • 1 eier, geklits
  • groot muffinpan, ek het een met 6 groot holtes

Ontvries die blaardeeg. Voorverhit die oond tot 190 °C. Spuit die pan baie goed met kleefwerende kossproei. Rol die deeg oop en druk 6 sirkels van 12 cm in deursnee uit – hou die oortollige deeg. Ek het ’n poedingbakkie gebruik as ’n drukker. Plaas elke sirkel in ’n holte en druk saggies orals vas.

Druk die vleis van die worsies uit en meng die appel, agurkies, blatjang en mosterd goed deur. Deel in 6 en skep in die holtes. Maak die vleis gelyk met ’n teelepel, maar moet dit nie plat druk nie.

Rol die res van die deeg op ’n meelbestrooide oppervlakte tot taamlik dun uit. Druk nou 6 kleiner sirkels van 9 cm in deursnee uit. Hiervoor het ek ’n ramekin-bakkie gebruik.

Plaas die sirkels bo-op die vleis en vou die randjie van die onderste sirkel bo-oor die deegdekseltjie – druk vas. Dit maak nie altyd heeltemal toe nie, maar rek die deeg bietjie. Sny ’n kepie bo-op die deksel vir die stoom om te ontsnap.

Verf die bokant met die geklitste eier en bak vir ongeveer 30 minute tot goudbruin. Laat effens afkoel, haal uit die pan en bedien met ’n skeppie mosterd.

Elana se heerlike tuisgebakte brood. Foto’s: Elana Afrika-Bredenkamp
Elana se witbrood

Elana het haar brood gevleg en ook die rystyd met die helfte verminder.

Resep uit Kook en geniet

(Lewer 2 brode)

  • 1 kg (8 k) witbroodmeel
  • 15 ml (1 e) suiker of heuning
  • 15 ml (1 e) sout
  • 10 g (1 e) kits-droëgis
  • 30 ml (2 e) olie
  • ongeveer 600-650 ml louwarm water
  • ekstra olie om te smeer
  • 1 eier, liggies met 15 ml (1 e) water geklits

Meng die droë bestanddele in ’n groot mengbak en maak ’n holte in die middel. Meng die olie en 600 ml van die water en giet in die holte. Roer geleidelik deur. Meng tot ’n kniebare deeg. Voeg nog water by indien die deeg te droog of styf is.

Knie op ’n meelbestrooide oppervlak tot elasties (8-10 minute). Vryf bietjie olie oor die oppervlak. Smeer ’n groot bak liggies met olie, plaas die deeg in die bak en bedek met kleefplastiek. Laat eenkant rys, sowat 30 minute of tot dubbel die grootte.

Keer die deeg uit en knie weer ’n paar minute op ’n meelbestrooide oppervlak. Plaas in twee gesmeerde 1-1½ liter-broodpannetjies. Bedek die pannetjies met kleefplastiek of ’n afdroogdoek en laat weer 30-40 minute rys of tot byna dubbel die grootte. Voorverhit die oond intussen tot 200 °C.

Verf die eiermengsel oor en bak 35-40 minute of tot hulle hol klink wanneer bo-op geklop word.

Keer uit op rakkies en laat effens afkoel voor gebruik.

Meer oor:  Anel Potgieter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.