Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Anél Potgieter: Dorah Sitole se ikoniese erflating

Ek was geskok en hartseer toe ek op 4 Januarie hoor Dorah Sitole is oorlede weens Covid-19-komplikasies. Sy was net 67 jaar oud.

Dorah was ’n bekroonde veteraankosskrywer en voormalige redakteur van die tydskrif True Love. Sy was gerespekteer en geliefd – veral in die koswêreld.

Die bekende kosskrywer Errieda du Toit het die volgende op haar Facebook-blad geskryf: “Ek is totaal verbyster en in ongeloof oor die heengaan van Dorah Sitole. ’n Merkwaardige vrou, kosmens, skrywer, kultuur-ikoon en ’n warm, lieflike mens. Haar kookboek-opus is ’n liefdesverhaal oor kos en koserfenis. My hart is stukkend en ek huil vir haar gesin, haar familie, vriende, kollegas en haar gemeenskap.”

‘40 Years of Iconic Food’

Dorah se kookboek wat in November 2020 uitgegee is, het my weer eens herinner hoeveel kosraakpunte ons Suid-Afrikaners het.

Haar eerste kookboek was Cook and Enjoy It, ’n vertaalde weergawe van Kook en geniet, sy het met verskillende weergawes van pap grootgeword, afval was ’n lekkerny en haar ma het Sondae gestoomde gemmerpoeding en tuisgemaakte vla gemaak. Klink dit bekend?

40 Years of Iconic Food is ’n viering van Dorah se kulinêre reis, wat haar van haar honger kinderjare in die townships tot kombuise oor die wêreld neem.

Elke hoofstuk vier ’n fase in Dorah se lewe en is ’n moet in elkeen se kombuis.

RIV Dorah.

Anél

anelpot@gmail.com

Pap en steak

  • 750 g T-been, porterhouse, lendestuk of biefstuk
  • 65 ml (¼ k) olie
  • 45 ml (3 e) Worcestersous
  • 15 ml (1 e) biefstuk-en-tjopspeserye
  • 15 ml (1 e) braaivleisspeserye
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Pap

  • 1 liter (4 k) water
  • 5 ml (1 t) sout
  • 5 ml (1 t) suurlemoen en swartpeper speserye
  • 500 ml (2 k) mieliemeel
  • 30 ml (2 e) botter
  • 15 ml (1 e) gekapte vars pietersielie
  • 125 ml (½ k) gerasperde cheddarkaas

Plaas die biefstuk in ’n vlak skottel, bedruip met olie en Worcestersous, en geur met die speserye, sout en peper. Maak seker die biefstuk is heeltemal bedek met marinade. Marineer vir minstens 1 uur. Verhit die olie in ’n braaipan en plaas die biefstuk in die pan. Of braai oor ’n warm vuur. Braai vir 2 minute aan een kant en 2 minute aan die ander kant. Draai terug na die eerste kant en verlaag die hitte tot medium en braai vir ’n verdere minuut. Laat rus.

Om die pap te maak, bring die water tot kookpunt, voeg die sout en speserye by, en roer die mieliemeel geleidelik daarby in, terwyl jy dit aanhoudend met ’n houtlepel roer. Kook oor lae hitte, roer aanhoudend vir ongeveer 25 minute. Meng die botter, pietersielie en kaas deur.

Sit die biefstuk voor saam met pap, morogo en chakalaka.

Gemmerpoeding

Bedien 8

  • 250 g botter of margarien
  • 200 g (1 k) suiker
  • 2 eiers
  • 300 g (2½ k) koekmeel
  • 15 ml (3 t) bakpoeier
  • 3 ml (½ t) sout
  • 45 ml (3 e) gemaalde gemmer
  • 250 ml (1 k) melk

Klits die botter en suiker tot lig en romerig. Klits die eiers goed by. Sif die droë bestanddele saam en roer dit by die geroomde mengsel. Voeg die melk by en meng goed. Giet in 2 x 1 liter gesmeerde glaspoedingbakke en bedek met foelie. Gooi water in 2 groot kastrolle en bring tot kookpunt (die water moet tot in die helfte van die poedingbakke kom). Stoom die poedings vir 2½ uur. Sit dit warm voor saam met tuisgemaakte vla.

Isijingi (pampoenpap), iphalishi lamazambane (patat- of aartappelpap), isijabane (spinasiepap) of isi­gwaqane (botterbonepap).
Isijingi (pampoenpap)

Pampoenpap was altyd op Dorah se tafel wanneer daar nie geld vir vleis was nie.

Bedien 4

  • 500 ml (2 k) water
  • 3 ml (½ t) sout
  • 10 ml (2 t) suiker
  • 500 ml (2 k) pampoen, geskil en in blokkies gesny
  • 3 ml (½ t) kaneel, opsioneel
  • 120 g (1 k) mieliemeel
  • 50 g botter

Variasies:

Vir ander smaaksensasies, gebruik een van die volgende in die plek van die pampoen:

Vir iphalishi lamazambane gebruik patats of aartappels;

Vir isijabane gebruik spinasie;

Vir isigwaqane gebruik gekookte botter- of suikerbone.

Gooi die water, sout en suiker in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Voeg die pampoen by en kook tot sag. Roer die kaneel by. Druk die pampoen fyn – die mengsel moet loperig wees. Meng die mieliemeel geleidelik by en roer tot goed gemeng. Vul aan met kookwater indien nodig om ’n sagte mengsel te vorm. Bedek die kastrol en kook dit vir 30 minute oor matige hitte en roer af en toe. Roer die botter by. Sit dit warm of koud saam met vleis voor.

Wen:

40 Years of Iconic Food word uitgegee deur Human & Rousseau. Vyf lesers kan elk ’n eksemplaar wen. SMS die woord “dorah” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum: 29 Januarie 2021.

Varkribbetjies

Bedien 4

2 kg varkribbetjies, in groot stukke gesny

Marinade

  • 125 ml (½ k) tamatiesous
  • 10 ml (2 t) brandrissievlokkies
  • 10 ml (2 t) fyngedrukte knoffel
  • 10 ml (2 t) Worcestersous
  • 15 ml (1 e) goudbruin suiker
  • 30 ml (2 e) balsamiese asyn
  • 30 ml (2 e) volgraanmosterd
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Plaas die ribbetjies in ’n groot skottel. Meng al die marinade-bestanddele saam en giet oor die ribbetjies. Laat vir minstens 60 minute of oornag in die yskas marineer. Rooster die ribbetjies in ’n warm oond of braai dit oor ’n vuur tot gaar. Sit voor saam met gebraaide aartappels, pap of mango-atjar.

Wen:

40 Years of Iconic Food word uitgegee deur Human & Rousseau. Vyf lesers kan elk ’n eksemplaar wen. SMS die woord “dorah” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum: 29 Januarie 2021.

Meer oor:  Anel Potgieter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.