Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Anél Potgieter: Gelukkige 90ste, Babs!

Veels geluk, Ma Babs. Jy’s 90 jaar oud.
My kosliefde se wortels lê op die Vrystaatse vlaktes waar Ma Babs my met haar niks-verkeerd-staan-hande van kleins af in die kombuis touwys gemaak het.

En môre, 31 Mei 2021, word ons Babs Chuck Norris Potgieter 90 jaar oud! Dit voel vir ons onwerklik en dit is net weer eens ’n bewys van hoe sterk sy is. Baie geluk Ma, ek hoop ons kan môre vir jou kom geluk sê, want soen en druk mag ons nie meer nie.

Kos is die een ding wat ons twee vir ewig sal verbind: die aroma van ma se vetkoek en stroop, pannekoeke en kaneelsuiker, warm pap en melk, sjokoladekoek, dadelbrood, gebakte skaapboud, groenboontjies, soet pampoen, kerriesous, mosterdsous, asynpoeding, souskluitjies, ma se groentesop en vars gebakte brood sal my vir ewig bybly. Dankie, Ma.

Jo Fritz met sy heerlike mosbrood.
Jo Fritz se Karoogeure

My kosvriend Jo Fritz (Kokkedoor 2014), ’n kosentrepreneur van Calvinia, het sy ouers in 2019 en 2020 verloor. Hy skryf altyd met soveel liefde oor sy ma en sy kosliefde se wortels lê, soos myne, by sy ma.

Toe ek hom bel en ’n paar resepte by hom bedel, het hy dadelik ingestem om sy mosbrood (wat ek op sy Facebook gesien het), groentesop met skaapribbetjies en skuinskoek se resepte te deel. Jo se kos is baie kos, huiskos, tuiskos en ma-se-kos op sy beste. Hy vat ook nie kortpaaie in die kombuis nie en baie van sy geregte word die vorige dag of vroegoggend begin. Soos sy mosbrood – rosyntjies word die oggend in kookwater geweek en dan later die dag kan jy ’n warm dik stuk saam met sy groentesop eet. Die sop begin hy al die vorige dag en ek kan daardie murg van die sopbene en die ribbetjies hier deur my rekenaar proe!

Groete uit my kombuis

Anél

anelpot@gmail.com

Mosbrood. Foto: iStock
Mosbrood

Resep: Jo Fritz

Deeg

  • 500 g rosyntjies, met pitte
  • 3 k kookwater
  • 5 kg koekmeel
  • 5 k suiker
  • 500 g margarien, teen kamertemperatuur
  • 8 t anys
  • 4 pakkies kitsgis (10 g elk)

Vir bak

  • 2 eiers
  • 3 e melk

Vir ná die bak

  • 3 e appelkooskonfyt
  • 1 e botter

Die oggend

Stamp die rosyntjies fyn en gooi die kookwater oor. Roer deur en laat staan eenkant om te trek. Wanneer dit afgekoel het, gooi dit deur ’n kaasdoek en druk al die sap van die rosyne uit.

Gooi die meel en suiker in ’n groot mengbak. Vryf die margarien met jou vingers by tot fyn frummels gevorm het. Gooi nou die anys en gis by en roer deur. Gooi ’n bietjie kookwater by die rosyntjiewater (om ’n lou water te maak) en gooi genoeg van die rosyntjiewater by die meelmengsel om ’n deeg te vorm. Begin die knieproses en gooi bietjie vir bietjie rosyntjiewater by soos jy dit benodig. Al die rosyntjiewater moet gebruik word. Om ’n ligte tekstuur te verseker, moet die deeg nie te pap of te styf wees nie. Maak die deeg toe en laat rys tot dubbel die grootte. Dit vat taamlik lank.

Later die dag

Berei broodpanne voor en knie die deeg af. Maak bolletjies (om mosbolletjies te vorm) of plaas lang stukke deeg in die panne om brode te maak. Laat dit weer rys tot die panne vol gerys is. Klits die eiers en melk saam en verf oor die deeg.

Voorverhit die oond tot 180 °C en bak vir ongeveer 45 minute of tot gaar en mooi bruin.

Smelt die appelkooskonfyt en botter en smeer oor warm gebakte brode. Laat effens afkoel in panne en keer dan uit op draadrakke.

Dik groentesop met skaapribbetjies. Foto: iStock
Jo se groentesop  met skaapribbetjies

Resep: Jo Fritz

  • 500 g droë sopmengsel (koop dit by enige supermark op die rak waar jy droë bone en lensies sal kry)
  • water
  • 2 groot uie, in kwarte gesny
  • 3 e olie
  • 1 kg sopbene
  • 1 kg vetterige skaapribbetjies, in klein stukke gesny
  • 4 wortels, in dun ringe gesny
  • 3 medium aartappels, gerasper met die growwe kant van die rasper
  • 2 stingels seldery, fyn gekap
  • 4 beesaftrekselblokkies, opgebreek en opgelos in 1 koppie kookwater
  • 1 pakkie bruinuie-soppoeier, aangemaak met bietjie water
  • sout na smaak
  • peper na smaak

Vorige aand

Bedek die droë sopmengsel met water en week oornag.

Volgende dag

Braai die uie in olie in ’n groot soppot tot sag, deurskynend en goudbruin.

Gooi die sopbene en ribbestukke by en braai tot bruin. Voeg die geweekte sopmengsel met die water by en bedek dan alles met genoeg water. Prut stadig vir 2-3 uur tot die vleis van die been afval. Roer die wortels, aartappels en seldery deur. Kook groente tot sag en gooi dan aftreksel en bruinuie-sopmengsel by. Laat prut vir ’n verdere 15 minute. Geur met sout en peper en sit warm saam met mosbrood voor.

Skuinskoek is lekker saam met ’n warm koppie boeretroos. Foto: Anél Potgieter
Skuinskoek

Resep: Jo Fritz

  • 2,5 kg koekmeel
  • 3 ½ pakkies kitsgis
  • 2 t sout
  • 3 k suiker, wat in 3 koppies warm water opgelos is, afgekoel tot lou
  • 250 g margarien, gesmelt
  • olie vir diepbraai

Sif meel en roer die gis en sout deur. Gooi suikerwater by en knie goed tot ’n sagte deeg gevorm het. Knie nou die margarien bietjies op ’n slag deur. Dit is ’n lang proses – knie baie goed deur om sagte deeg te vorm. Gebruik ’n klein bietjie meer lou water indien nodig om ’n sagte deeg te vorm. Maak die deeg toe en laat rys tot dubbel die grootte.

Rol die deeg dan in lang dun stroke op ’n tafelblad. Druk elke rol plat en sny dit dan in skuins stukke in die grootte wat jy verlang. Braai in warm olie tot goudbruin aan albei kante.

Meer oor:  Anel Potgieter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.