Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Anél Potgieter: Ierse koffie vir my dierbare pa Coen
Foto: iStock
Hy was ’n groot en lang man en sy hande was só groot dat my matriekafskeid-date amper by die deur omgedraai het toe Pa sy hande soos ’n massiewe tsoenami verswelg het.

Op Vadersdag dink ek altyd met pragtige herinneringe aan my dierbare Pa Coen. Hy was ’n groot en lang man en sy hande was só groot dat my matriekafskeid-date amper by die deur omgedraai het toe Pa sy hande soos ’n massiewe tsoenami verswelg het. Coen het vir sy Dollydys (dis nou ekke) leer motor bestuur, braai en visvang. Ek het my eerste ratte op ’n grondpad tussen rye bloekombome verander en agteruit-parkering ook so baasgeraak. Pa se plat, geel Valiant-bakkie het natuurlik daaronder gely, maar hy het nooit kwaad geraak nie: “Ag, dis oukei Pa se Dollydys, dit is net aardse goed.” Maar ek gaan nie vertel wat hy vir my gesê het toe ek die dag sy Ford Granada voor Pick n Pay gestamp het nie. Dollydys was toe ver van sy woordeskat. Pa het ook my eerste hond, Flossie die sint bernardhond, vir my gekoop toe Ma verskriklik teëgestribbel het.

Vandag sou ek vir wyle Pa Coen vetkoek, biltongbroodjies en Ierse koffie gemaak het.

Wat sou ek vandag vir Pa gemaak het?

Coen was baie lief vir biltong, Ma se veerligte vetkoek en whiskey. Ons ou Sodastream moes hard werk onder sy groot duim, want Coen het gehou van baie sterk sodawater saam met sy drankies en het daardie masjientjie so gedruk dat dit geklink het asof die botteltjie gaan ontplof. Julle ken mos daardie geluid? So vandag maak ek biltong-en-kaaswiele, vetkoek en Ierse koffie vir Coen.

Biltong-en-kaaswiele

Dié breekbroodjie is ’n heerlike braai-bykos of nog lekkerder saam met ’n stywe whiskey voor die kaggelvuur. Winkeldeeg word uitgerol en dan met roomkaas, cheddar en mozzarella gesmeer. Flentertjies biltong (met die vet) word oorgestrooi, die deeg opgerol, in wiele gesny en dan gaan dit oond toe. Laat dit bietjie afkoel en trek dan die heerlike broodjie uitmekaar!

Wat is Ierse koffie?

Ierse koffie is koffie met Ierse whiskey en word bedien met room bo-op. Die koffie is ideaal vir koue winterdae en nie net sal die koffie jou warm hou nie, die alkohol sal jou ook ’n lekker warm hupstoot gee. Maak ’n sterk koppie koffie in ’n deurskynende beker, roer twee teelepels donkerbruinsuiker by, gooi een (of twee – hang af van jou gemoedstoestand) sopies whiskey by en dan kom die dik room bo-op. Die moeilikste gedeelte is om te keer dat die room nie ondertoe sak nie. Ek klop die room effens en giet dit dan oor die agterkant van ’n lepel oor die koffie. Werk soos ’n bom!

Die moeilikste gedeelte is om te keer dat die room nie ondertoe sak nie. Ek klop die room effens en giet dit dan oor die agterkant van ’n lepel oor die koffie. Werk soos ’n bom!

Groete uit my kombuis

Anél

anelpot@telkomsa.net

Ierse koffie

(Resep: Anél Potgieter)

1 koppie warm koffie in ’n deurskynende beker of glas

2 teelepels donkerbruinsuiker

1 (of twee) sopie Ierse whiskey (ek hetJameson gebruik)

dik room, liggies geklop

Roer die suiker by die koffie in. Gooi die whiskey by en roer. Giet die room oor die agterkant van ’n lepel oor die koffie.

Biltong-en-kaaswiele. Foto: Anél Potgieter
Biltong-en-kaaswiele

(Resep: Anél Potgieter)

1 kg winkeldeeg

Vir die vulsel

200 g biltong, in kleiner stukkies gesny

150 g cheddar

150 g mozzarella

1 bakkie (250 g) roomkaas

2 sprietuie, fyngesny

1 knoffelhuisie gerasper (of meer)

sout en peper na smaak

Meng al die vulselbestanddele saam.

Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit twee koek- of broodpanne goed met kleefwerende kossproei.

Verdeel die deeg in twee en rol elke stuk op ’n meelbestrooide oppervlak in ’n langwerpige vorm uit. Verdeel die vulsel in twee en smeer oor elke stuk deeg. Rol nou die deeg versigtig in die lengte op. Sny dit in 5 cm-stukke (’n broodmes werk goed) en plaas dit met die gesnyde kant na bo in die twee voorbereide koek- of broodpanne.

Sit eenkant op ’n warm plekkie in jou huis en laat rys vir sowat 30 minute. Bak in ’n voorverhitte oond vir sowat 40 minute of tot ’n toetspennetjie skoon uitkom. Bedien louwarm. Jy kan ook bietjie knoffelbotter oorverf nadat jy dit uit die oond gehaal het.

Vegetariese opsie: Vervang die biltong met 100 g opgekapte songedroogde tamaties (wat jy in ’n pakkie met sous koop).

Vetkoek. Foto: Anél Potgieter
Vetkoek

(Resep: Babs Potgieter)

(maak omtrent 25 vetkoekies)

1 koppie meel

1 teelepel bakpoeier

½ teelepel sout

1 eier, geklits

½ koppie water

olie vir diepbraai

Vir bediening

botter

stroop

kaas, gerasper

Klits eier en water. Sif droë bestanddele by en meng tot gladde beslag. Braai beslag lepelsgewys in olie tot ligbruin aan alle kante. Bedien.

Lynette Kriek van die Wes-Rand skryf: Hallo Anél. Dankie vir die puik artikel en heerlike Griekse Stifado-resepte wat jy vir my suster Yvonne geplaas het. Ek sal dit waardeer as jy ook vir my spesiaal ’n resep sal plaas.

Ek was in Mei 1990 saam met ’n toergroep gereël deur Rapport Mauritius toe. Hier het ek eksotiese kerriegarnale op die Kreoolse manier geniet, terwyl die sega-klanke en sensuele dansers ons vermaak het. Dit sal wonderlike herinneringe terugbring om weer die tropiese eilandgereg te beleef.

Met die grendeltyd wat ons tuis hou, wil ek ook my gunstelingdrankie, Ierse koffie, self aanmekaarslaan. Ek sal bly wees as jy my kan raad gee met die maak van hierdie spesialiteitskoffie om die koue wintermaande te verdryf.

Anél antwoord: Hallo Lynette. Ek het heerlike kerriegarnale in die Seychelles geëet en ek gaan een van die dae vir jou ’n resep plaas. My pa was net so lief vir Ierse koffie, so ek plaas sommer vandag die resep.

Meer oor:  Resepte  |  Vetkoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.