Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Anél Potgieter: Kaas dit en geniet dit

Kaas is vir my lekkerder as tjok­lits. Gee vir my die keuse tussen ’n groot stuk sjokoladekoek en ’n stuk kaas, dan kies ek die kaas. Op die oomblik is my kaasobsessie Lactalis se tien maande beleë gouda wat hulle vir Woolies maak. Dié gouda verskil baie van die jong goudas in hul rooi waksbaadjies wat ons in die koswinkels sien. Dit is ferm, effens bros, donkerder geel, aromaties en het kristalle in wat jou tong kielie van die lekkerte. Dié soutkristalle is ’n kenmerk van beleë kase. Die smullekker gouda is ook in Maart 2021 vir die derde keer as die Suid-Afrikaanse Suiwelproduk van die Jaar gekroon. Kyk, hy kan daardie kroon met trots dra.

Lactalis se tien maande beleë gouda.

Arnold Nieuwoudt, die bestuurder by Lactalis se Ladismith-aanleg, vergelyk die proses van veroudering van gouda met dié van die grootmaak van ’n baba. Die kase word onder meer daagliks met die hand gedraai en deeglik ondersoek om te verseker dat daar geen gebreke is nie. Daar is belangrike kwaliteitkomponente wat altyd streng beheer en gemonitor word, soos temperatuur en humiditeit.

Lactalis se beleë goudakase se smaakprofiel is propvol geur, ’n kombinasie van soet en sout geure . . . dink aan gesoute karamel. Dis ’n unieke produk wat uitgeken kan word aan die swart waks waarmee dit geseël word.

Kaas-en-kruie-muffins

Kaasmuffins bly maklik en lekker om te maak en jy kan speel met verskillende kase. Cheddar is altyd heerlik in gebak, maar feta, beleë gouda en parmesaan gee dit ’n meer intense kaassmaak.

Jy kan ook jou eie persoonlike stempel afdruk deur kruie van jou keuse by te roer. Ek gooi altyd mosterd en gekapte kruie soos pietersielie of basiliekruid by, maar geharde kruie soos roosmaryn en tiemie is net so lekker. As jy laasgenoemde kruie wil gebruik, gebruik minder, want dit behou die geur meer in die bakproses.

Lepelbrood met kaas en grasuie

My skoonouers het kom braai en ek het toe dié lepelbrood gemaak wat ek op The New York Times se webblad raakgelees het. En hét Marie en John dit nou geniet! Die “broodjie” is meer ’n souffle as ’n brood, en dit is heerlik saam met enige wors of braaivleis.

Jy maak ’n “pap” met melk, room en mieliemeel. Meng dan kaas en eiergele by en vou eierwitte in. Dit word dan tot goudbruin gebak en moet dadelik met ’n groot skeplepel be­dien word.

Groete uit my kombuis

Anél

anelpot@gmail.com



Lepelbrood met kaas en grasuie

Lepelbrood met kaas en grasuie.Foto:

Aangepaste resep van The New York Times

4 e botter

½ k parmesaankaas

6 grasuie, die hele ui fyn gesny

2 k melk

1 k room

1 t sout

1 ¼ k mieliemeel

½ - 1 k cheddarkaas, gerasper

½ kop mieliepitte (opsioneel)

4 eiers, geskei

Verhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n 2-liter-kasserol of oondbak goed met botter en strooi 2 eetlepels parmesaan op die bodem om dit liggies te bedek. Plaas eenkant. Smelt 1 eetlepel botter in ’n pan, voeg die grasuie by en soteer dit tot sag. Plaas eenkant. Verhit die melk, room en sout in ’n swaar kastrol oor matige hitte totdat borreltjies aan die rande vorm. Strooi die mieliemeel stadig oor en roer aanhoudend. Roer en kook oor lae hitte totdat die mengsel glad en romerig is. Haal die pot van die stoof af en voeg die res van die botter en parmesaan, die grasuie, cheddarkaas en mieliepitte by. Roer tot goed gemeng.

Klits die eiergele liggies en roer in ’n baie dun stroompie vinnig by die warm melkpap in. Dit moenie skif nie. Klits eierwitte tot hulle stywe punte vorm. Vou dit met ’n groot lepel by die mieliemeelmengsel in. Giet die mengsel in die voorbereide kasserolbak en maak die bokant glad. Bak vir 30 tot 40 minute, of tot pofferig en goudbruin bo-op. Sit dadelik voor.


Kaas-en-kruie-muffins

Maak 12 klein of 6 groot muffins

240 g bruismeel

3 ml sout

10 ml bakpoeier

1 eier

225 ml melk

50 ml botter, gesmelt

2 t korrelmosterd of mosterdpoeier

½ k parmesaankaas

250 g sterk cheddarkaas, gerasper plus ekstra vir oorstrooi

2 e gekapte “sagte“ kruie van jou keuse (soos pietersielie en basiliekruid). As jy geharder kruie soos roosmaryn of tiemie wil bygooi, gebruik die helfte, want dit is baie sterker in geur.

Voorverhit die oond tot 220 °C. Sif die meel, sout en bakpoeier in ’n mengbak. Klits die eier en melk saam. Voeg die eier-en-melkmengsel saam met die gesmelte botter by die meel. Moenie te veel meng nie. Voeg die mosterd, geras­perde kaas en kruie by en meng deur. Skep in gesmeerde muffinpannetjies, strooi ’n bietjie cheddarkaas oor elke muffin en bak vir 15-20 minute op die middelste rak van die voorverhitte oond.


Anél se posbus

Vraag van Rita Eitner: Goeiemiddag Anél. Ek lees graag die resepte en wenke wat geplaas word, aangesien ek nogal lief is om kos te maak en gereeld iets nuuts probeer. Dankie vir jou schnitzel-resep hierdie week. Ek wens so jy wil iets skryf oor ’n schnitzel, want sover my kennis strek sê die woord schnitzel oombliklik vir jou dis vark, dan nie? As jy in ’n restaurant ’n schnitzel bestel, sal hulle egter maklik vra watter soort vleis jy wil hê. Soos hoender, bees of vark. Dis mos verkeerd. Of is ek nou verkeerd? Help, en werp ’n bietjie lig op die saak, asseblief.

Anél antwoord: Hallo Rita, schnitzel is ’n gaarmaaktegniek. Dit is wanneer jy ’n stukkie vleis dunner slaan, dit dan in meel, eier en broodkrummels doop en braai tot bruin en bros. So, dit kan vark-, kalfs-, bees- of hoendervleis wees. In Duitsland maak hulle dit met vark (schweineschnitzel) en in Oostenryk met kalfsvleis (Wiener schnitzel). Hier in Suid-Afrika is ons lief om hoender en vark te gebruik.

Meer oor:  Kaas  |  Resepte  |  Anél Potgieter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.