Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Anél Potgieter: Koesterkos uit die Oos-Vrystaat

MIeliebroodjie - ’n bak-ikoon uit die Oos-Vrystaat.
My kinderjare is verweef met Oos-Vrystaatse smake en geure en vandag koester ek Ma Babs se warm mieliebrood wat sy in haar wit enemmel blik gestoom het.

Dit was goudgeel, het ’n growwe tekstuur gehad (sy het dit met harde groen mielies gemaak) en ons het dit dan met plaasbotter en Lyle’s-gouestroop geëet. Dan het Ma se kerriefrikkadelle met piesangs altyd op haar buffettafel gepryk wanneer hulle ’n lekker 1970’s opskop gehou het. En mense, my tannie Miena van Harrismith se donkerpers nastergalkonfyt op ’n stukkie warm plaasbrood en haar geel krummelmieliepap met louwarm melk en suiker!

En mense, my tannie Miena van Harrismith se donkerpers nastergalkonfyt op ’n stukkie warm plaasbrood en haar geel krummelmieliepap met louwarm melk en suiker!

Dié smake en geure kon ek nooit weer raak proe nie . . . tot anderdag en ek was sprakeloos en baie diep geraak.

Myhardt Joubert

Omvou in ’n shweshwe-lappieskombers het Myhardt Joubert van Stasiestraat Kombuis-huisrestaurant vir my frikkadelle in kerriesous, ’n louwarm mieliebroodjie, ’n sakkie geel mieliemeel en nastergaalkonfyt gestuur – my herkomskos.

Terwyl ek dit geëet het, het die trane gerol, want ek was terug in Ma se Wepener-kombuis met sy geel motiefteëls en ook langs tannie Miena se lang eetkamertafel op haar sonnige voorstoep.

Mynhardt vertel: “Ek steun op my grootwordjare in die Oos-Vrystaat op oupa Jan Joubert se plaas, Tempelhof. Dit was my tuin van Eden met ’n vrugteboord, groentetuin, melkerytjie en ’n uitsig op die Maluti-berge. Die sandsteenplaashuis was altyd vol kuiermense, wat my geleer het van ware gasvryheid, hoe om dit gee en te ontvang.”

Ek is baie lief vir Mynhardt – hy is ’n omgeemens, het ’n groot hart en is ook ’n uitstekende kok. Alle restaurante (Mynhardt s’n ook) het swaar getrek tydens die grendeltyd en ek vra julle om hom en sy groepie werkers te gaan ondersteun. Stasiestraat Kombuis is nou weer oop om gaste te ontvang en ek belowe julle gaan eet dat die trane rol!

Laat weet my gerus na watter koesterkos jy verlang . . .

Groete uit my kombuis

Anél

anelpot@gmail.com

Mieliebroodjie

(Resep Mynhardt Joubert)

Hierdie bak-ikoon is die smaak van my grootwordjare in die Oos-Vrystaat. Ek bak dit met heerlike growwe geel mieliemeel van Eendag Rollermeule in Bothaville. Hier in die Paarl hou slaghuise soos Goede Hoop en die OK Bazaars dit aan, maar jy kan jou eie gunsteling-mieliemeel gebruik, verkieslik nie die kitssoort nie. Die broodjie is op sy lekkerste nog so louwarm.

Maak 1 medium broodjie

Bestanddele

250 ml geel mieliemeel

250 ml koekmeel

125 ml suiker

15 ml bakpoeier

5 ml sout

250 ml melk

45 ml olie

3 eiers

1 x 400 g blikkie geroomde mielies

1 x 400 g blikkie heelpitmielies, gedreineer

Metode

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n medium broodpan.

Meng die mieliemeel, koekmeel, suiker, bakpoeier en sout saam in ’n groot mengbak. Klits die melk, olie en eiers saam in ’n aparte bak, voeg dit by die meelmengsel en meng deur tot klontvry.

Roer die mielies by en giet die beslag in die voorbereide broodpan.

Bak tot goudbruin en gaar, sowat 60 minute. Laat 5 minute afkoel in die pan en keer uit op ’n draadrakkie.

Boerewors-frikkadelle in kerriesous. Foto’s: Lindy Kriek
Boerewors-frikkadelle in kerriesous

(Resep Mynhardt Joubert)

Die geure van boerewors, koljander, komyn en kerrie is onmiskenbaar Suid-Afrikaans, veral as jy dit saam met mieliebrood eet.

Bedien: 6 persone

Bestanddele

1,5 kg boereworsvleis, gerol in 24 frikkadelle

botter en olyfolie vir braai

1 groot ui, fyngekap

4 knoffelhuisies, gerasper

30 ml vars gerasperde gemmer

2,5 ml borrie

5 ml fyn komyn

30 ml kerriepoeier

1 x 410 g blikkie geskilde gekapte tamaties

250 ml dubbelroom ongegeurde jogurt

10 ml bruinsuiker

1 lourierblaar

sout en peper na smaak

Metode

Verhit botter en olyfolie in ’n groot braaipan en braai die frikkadelle bruin, skep uit die pan en hou eenkant.

Vul die botter en olyfolie bietjie aan en braai die ui, knoffel en gemmer tot gaar. Voeg die borrie, komyn en kerriepoeier by en braai tot geurig.

Voeg die tamatie, jogurt, suiker en lourierblaar by, geur met sout en peper en prut vir 10 minute. Voeg die frikkadelle by die sous en kook deur.

Bedien met mieliebrood.

Bessie- en nastergal-‘trifle’

(Resep Mynhardt Joubert)

Hierdie weergawe wat met nastergalkonfyt en vars bessies gemaak word, is so lekker as wat dit mooi is. Nastergal is ’n inheemse pers bessie wat ’n besonderse konfyt maak, so as jy ’n flessie by ’n padstal of deli sien, raap dit op.

Bedien: 6

Bestanddele

6 glasflesse met deksels

100 ml nastergalkonfyt

750 ml dubbelroom- ongegeurde jogurt

6 klein Switserse rolkoeke, in dik skywe gesny

vars aarbeie, bloubessies en frambose

Metode

Meng die nastergalkonfyt deur die jogurt. Pak die rolkoek, nastergal-jogurtmengsel en bessies in lae in die glasflesse en plaas in die yskas. Bedien verkoel.

Stasiestraat Kombuis

Gaan kuier vir Myhardt by Stasiestraat Kombuis, Stasiestraat 24, Suider-Paarl / www.mynhardt.co.za / 076 033 1839 / chef@mynhardt.co.za / Facebook, Instagram en Twitter: MynhardtJ #StasiestraatKombuis

  • Kry nog resepte in ons Erfenisbylaag.

Hulle wen elk ’n kis Duchess van 24 bottels ter waarde van R399: Danie Boshoff (Jeffreysbaai), Elena Pretorius (Bloemfontein), Hanneke de Bruijn (Kaapstad).


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.