Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Anél Potgieter: Maklike appel-galette

Ek het trots vir jare aan die spoorlyn in ’n rooibaksteenhuis grootgeword. My kinderdae was sorgeloos en gevul met popspeel, modderkoekies bak en ek het my verbeel ek is ’n wêreldklasgimnas terwyl ou Hessie (ons hond) my verdwaas aangekyk het. As die groot, swart ystermasjien van ver sy aankoms met sy fluit aangekondig het, het my hele lewe tot stilstand gekom. Ek het met modderhande vir die treindrywer gewaai, terwyl hy uitgehang en sy keps vir my gelig het. Die bopunt van die draadvoorhekkie was my uitkykpunt en so het ek swaaiend verlore geraak in die tjoek-tjoek en die betowerende geklik-klak op die spore.

Golden Delicious: Heerlik om te eet en om mee te bak. Skil: Goudgeel. Tekstuur: Sappig. Smaak: Soet en geurig.
Granny Smith: Dit is ideaal om te eet en mee te bak en is uitstekend vir souse en purees. Skil: Heldergroen Tekstuur: Ferm en krakerig. Smaak: Soetsuur.
Pink Lady: Dit is heerlik as ’n versnapering, in slaaie en om mee te bak. Skil: Helderpienk. Tekstuur: Krakerig. Smaak: Unieke, zingy soetsuur-smaak.
Royal Gala: Geniet as ’n versnapering en in slaaie. Skil: Witgeel met rooi strepe. Tekstuur: Bros, krakerig en sappig. Smaak: Baie soet en geurig.

Daar was altyd ’n gevoel van afwagting wanneer Pa dan later aangestap gekom het ná werk – gewoonlik met ’n boks appels of ’n sak aartappels wat iemand saam met die trein vir ons gestuur het. Ma moes dan bontstaan om die appels te verwerk – sy het terte en koeke gebak, appels ingelê en appels gestoom en bevries.

Ek het daardie selfde opgewondenheid ervaar toe Tru-Cape anderdag vir my ’n groot boks appels afgelaai het. Dankie! Dit was vol Granny Smith-, Royal Gala-, Pink Lady- en Golden Delicious-appels.

My Ier het ingespring en toe sy eerste appel-galette gebak en was dit nou lekker!

Rick se appel-galette. Foto: Anél Potgieter

Appel-galette

Wat ek hou van ’n galette is dat die tertdop vry met jou hande gemaak word. Die deeg word uitgerol en die vulsel bo-op gepak. Die deeg word dan met jou hande om die vulsel gevou. Dit is een van die maklikste soorte gebak om te bemeester en kan vir enige spesiale geleentheid vinnig aanmekaargeslaan word. Die goue, bruin deeg wat met regte botter gemaak word en soet appelvulsel maak die galette uitmuntend en heerlik. Bedien dit saam met ’n skeppie roomys of volvet-jogurt.

Feta-en-tamatie-galette. Foto: Anél Potgieter

Feta-en-tamatie-galette

Ek is nie veel van ’n soettand nie en het my Ier wéér aangesê om die volgende dag ’n galette-deeg te maak, maar dié keer sonder suiker. Ek het die vulsel met ’n handvol tamaties, feta, olywe en kruie uit my yskas gemaak. Die feta kan met mozzarella vervang word en as jy nie babatamaties het nie, sny tamaties in kwarte. Met ’n glas rooiwyn (as jy nog het) in die hand is dit ’n perfekte wintergereg.

Groete uit my kombuis

Anél

anelpot@telkomsa.net

Appel-galette

Resep: Anél Potgieter

Genoeg vir 6

Vir die deeg

210 g koekmeel

15 ml suiker

’n knippie sout

115 g koue, gesoute botter

90 ml yswater

eierwit, liggies met vurk geklits

Vir die vulsel

3-4 appels, in dun skyfies gesny

30 ml suurlemoensap

130 g suiker

25 ml mielieblom

Vir bak

30 ml botter, gesmelt

30 ml suiker

Vir bediening

vanieljeroomys of ’n skeppie jogurt

Deeg: Meng die meel, suiker en sout in ’n voedselverwerker. Voeg die koue botter by en meng tot die botterstukke so groot soos ertjies lyk. Haal uit voedselverwerker en gooi die meelmengsel in ’n mengbak. Roer die yswater by en meng totdat die deeg net bymekaar kom. Maak ’n mooi ronde bal, bedek met kleefplastiek en laat rus in yskas vir minstens 30 minute.

Voorverhit die oond tot 200 °C en berei ’n bakplaat met bakpapier voor.

Strooi bietjie meel op ’n oppervlak en rol die deeg liggies tot 5 mm dik in ’n langwerpige of sirkelvorm uit. Plaas dit op die voorbereide bakplaat. Plaas nou die appels op die tertdeeg en versprei effens. Laat ’n spasie van 8 cm tussen die appels en die rand van die deeg. Meng die suurlemoensap, suiker en mielieblom saam en skep oor die appels. Vou die rande van die deeg op en oor die appels. Dit gaan nie die appels heeltemal toemaak nie. Verf die deeg met gesmelte botter en strooi suiker oor die deeg. Bak die galette vir so 35-45 minute tot die vulsel gaar en die kors goudbruin is. Verwyder uit die oond en laat op ’n bakplaat afkoel.

Bedien met vanieljeroomys of ’n skeppie jogurt.

Feta-en-tamatie-galette

Resep: Anél Potgieter

Vir die deeg

Gebruik dieselfde deegresep as vir die appel-galette, maar sonder die suiker.

Vulsel

200 g feta

300 g baba-tamaties

1 groot handvol kalamata-olywe, ontpit

1 groot handvol basiliekruid, geskeur

1 groot handvol pietersielie, grof gekap

olyfolie

sout en peper na smaak

1 eier, geklits

Rol die deeg in ’n sirkel uit en plaas dit op ’n bakplaat wat met bakpapier gevoer is. Skep al die vulselbestanddele in die middel en geur met sout, peper en olyfolie. Vou die kante van die deeg om die bestanddele. Borsel die rande met geklitste eier en strooi ekstra sout oor die kors. Bak vir 30-40 minute totdat die deeg deurgaar is. Garneer met vars kruie en ’n bietjie olyfolie. Bedien warm of louwarm.

Ek wil net laat weet dat ons liewe Babs “Chuck Norris” Potgieter Covid-19 onder die jis geskop het. Baie dankie aan almal van julle wat aan haar gedink en ook vir my e-posse gestuur het. Dit het my gedra en ek glo dit het Babs ook gedra.

Meer oor:  Appel-Galette
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.