Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Anél Potgieter: Marinda se koskas

Marinda Engelbrecht se nuwe kookboek is van gister op die rakke en sy vertel dat sy die resepte in Marinda se koskas versigtig gekies het.

“My herinnerings van my kinderjare het grootliks met kos te doen. Dis deel van wie en wat ek is. Met kos kan ’n mens troos én feesvier. Ons vier geboortes, troues, dope, verjaardae en spesiale geleenthede én neem afskeid van mense met kos. Kos is die bestanddeel wat ons saambind. Kos is daar om te koester.”

Die boek is propvol van Marinda se onthoukos; kos wat hulle gereeld in hul huis geëet en waarmee sy grootgeword het. Die geregte is gemaak met bestanddele wat enigeen in sy of haar kaste het en daar is niks volksvreemd nie.

“My wens is dat die boek vir elkeen onthou-oomblikke sal skep,” sê Marinda. “Vier die lewe met kos! In die woorde van Martin Versfeld: ‘Kook ’n ding wat lekker smaak, want jy proe ook met jou siel . . . ’n Goeie kok is ’n geestelike.’ En onthou, dit wat op die tafel is moet nooit belangriker wees as hulle wat om die tafel sit nie.”

Groete uit my kombuis

Anel

anelpot@gmail.com

Anne se gemmerpoeding

Lewer sowat 8 beskaafde porsies

Anne Myers, my regisseur, is ongelukkig aan Covid-19 oorlede. Hier is haar resep.

Min gaste sal glo wat sy gebruik het om die poeding mee te maak.

  • 2 x 200 g-pakkies gemmerkoekies
  • 80 ml verglansde gemmerstukke (of na smaak), in klein blokkies gekap
  • 750 ml room
  • 125 ml demerara-suiker
  • 15 ml fyn gemmer (of na smaak)

Voorverhit die oond tot 180 °C. Breek die gemmerkoekies in growwe stukkies (omtrent 2 cm groot) en meng die gemmerstukkies liggies deur. Pak die mengsel onder in ’n goed gesmeerde oondvaste glasbak.

Giet die room oor die koekiestukkies.

Meng die fyn gemmer deur die demerara-suiker en strooi dit bo-oor. Bak vir 30 minute of totdat die room ophou borrel en die suikerlaag krakerig is. Sit voor saam met ’n ryk vanieljeroomys.

Dikribbredie

Genoeg vir 6-8

Huiskos op sy beste!

Dié rib moet jy met verdrag en geduld aanpak; jy moet amper half vergeet dat jy besig is met kos en sommer nog ’n glasie wyn skink.

Verleng jou gaarmaaktyd as jy nie ’n drukkoker het nie.

  • 1,5 kg beesdikrib, opgesny in stukke
  • 4 naeltjies
  • 250 ml water
  • 2 uie, in ringetjies gesny
  • 6 wortels, in ringetjies gesny
  • 1 knoffelbol, middeldeur gesny
  • 4 selderystingels, gekap
  • 1 x 410 g-blik tamatiepuree
  • 1 pakkie bruinuiesoppoeier
  • 100 ml worcestersous
  • 100 ml blatjang
  • 100 ml tamatiesous
  • 125 ml rooiwyn
  • 30 ml suiker
  • 15 ml gerookte paprika
  • 4 groot aartappels, middeldeur gesny
  • sout en peper

Sit die beesrib met die naeltjies en water in ’n drukkoker en stoom vir 40 minute tot halfgaar.

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Pak die uie en wortels onderin ’n oondbak. Sit die halfgaar beesrib saam met die knoffel op die groente.

Meng die res van die bestanddele, behalwe die aartappels en sout en peper, en giet dit oor die vleis. Maak die bak toe en bak in die oond vir 60 minute.

Voeg dan die aartappels by, geur na smaak met sout en peper, en bak nog 90 minute sonder die deksel.

Die vleis moet sag wees en liggies van die been loskom.

Warm aartappelslaai

Genoeg vir 6-8

Dié warm aartappelgereg is altyd ’n wenner by ’n braai.

  • 1 pakkie uiesoppoeier
  • 1 pakkie sampioensoppoeier
  • 500 ml melk
  • 100 ml mayonnaise
  • 10 ml dijon-mosterd
  • 200 g spek, fyngekap
  • 1 ui, fyngesny
  • 8 aartappels, gaar gekook en in skywe gesny
  • 250 ml gerasperde cheddarkaas

Voorverhit die oond tot 180 °C. Sit die soppoeiers, melk, mayonnaise en mosterd saam in ’n pot. Bring tot kookpunt en kook vir ’n paar minute totdat dit begin dik word. Braai die spek en uie saam in ’n pan tot goudbruin. Skep die gaar aartappelskywe, sous, spekmengsel en kaas in lae in ’n oondbak – eindig met ‘n laag kaas. Bak vir 30 minute tot goudbruin bo-op.

Foto:
Gevulde hoender

Genoeg vir 4-6

Hierdie hoender is effens meer fênsie as net gewone braaihoender. Jy kan dit maar

op ’n feestafel voorsit.

  • 1 groot hoender
  • 2 groot uie, in ringe gesny
  • 125 ml witwyn
  • 30 ml sojasous
  • 1 x 410 g-blik chakalaka
  • 125 ml knoffelbotter
  • 1 brandrissie (opsioneel)
  • 4 sprietuie
  • 2 knoffelhuisies, geskil
  • 2 cm vars gemmer, geskil
  • 250 ml broodkrummels
  • 1 varkworsie, uit sy vel gedruk en fyngemaak
  • 90 ml soet rissiesous
  • sout en peper

Was die hoender deeglik van binne en buite en voorverhit die oond tot 180 °C.

Plaas die uieringe in ’n oondbak. Meng die witwyn, sojasous en chakalaka en giet dit oor die uie.

Maak die hoender se vel effens los en smeer die knoffelbotter onder die vel.

Kap die rissie, sprietuie, knoffel en gemmer saam fyn in ’n voedselverwerker. Roer die broodkrummels, worsvleis en soet rissiesous by. Skep die mengsel in die hoender se maagholte. (Werk die opening aan die onderkant toe met ’n naald en wit gare indien verkies.)

Plaas die hoender in die sous in die oondbak.

Geur na smaak met sout en peper, bedek die bak met foelie en bak vir 20 minute. Haal dan die foelie af en bak verder oop tot die hoender mooi bruin is. Draai die hoender om en bak dit aan die ander kant ook tot bruin.

Wenk: Bereken die gaarmaaktyd teen 60 minute vir elke 500 g van die hoender se gewig. Of toets vir gaarheid deur ’n skerp messie in die dikste deel van die vleis te steek; as daar helder vloeistof (sonder bloederigheid) uitloop, is die hoender gaar.

Wen

Marinda se koskas word uitgegee deur Human & Rousseau. Drie lesers kan elk ’n eksemplaar wen. SMS die woord “Marinda” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum: 21 Mei

Meer oor:  Anel Potgieter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.