Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Anél Potgieter: My Ier bak ’n koek
Rick is baie trots op sy meesterstuk. Foto’s: Anél Potgieter

Met die tsoenami van verwaterde kookboeke wat ek die afgelope paar jaar ontvang het is ek maar bra skepties en afgestomp wanneer ’n kookboek op my lessenaar beland. Maar net toe ek amper moed verloor kry ek My Sweet Life deur Faaiza Omar. Die pragtige voorblad vertel alles: Dit stel die debuutskrywer bekend en is ’n kleurryke uitbeelding van die bakmeesterklasse wat binne vir jou wag.

Wie is Fa
aiza Omar?

Faaiza bly in Nelspruit, is haar lewe lank al lief vir soetgoed en haar passie is aangewakker deur die kuns om die perfekte makrolletjie te maak. Haar blog, My Sweet Life, is net so pragtig soos die boek en daar hou sy tred met die nuutste neigings deur bakmeesterklasse van wêreldbekende sjefs by te woon.

My Sweet Life

Dié bakboek is geïnspireer deur geure van Parys tot Peru en is gevul met gebak vir spesiale geleenthede, petits fours, kaaskoeke, brioche, roomys en heerlike nageregte. Faaiza is ’n selfgeleerde bakker en dit is wat my so opgewonde maak.

Hoewel van die resepte nie maklik is nie, weet ek dat die gewone bakker by die huis dit sal kan maak.

R
ick se eerste koek

Rick het nog nooit ’n koek in enige vorm gebak nie – die laaste gebak wat hy óók vervolmaak het was Babs se melktert. Ek het hom toe ingespan om Faaiza se kardemomkaaskoek te bak, want as Ricky-baby dit kan bemeester kan enige persoon dit maak. Om die kaaskoeklegkaartstukke bymekaar te sit het hy vroeg Saterdagoggend begin om sy bestanddele te weeg en het eers teen vyfuur die middag met ’n bier in die hand klaargemaak.

Jip, hy het sy tyd geneem (tot my totale frustrasie), maar die eindproduk was ’n klassieke, fluweelsagte meesterstuk met geen krakie op die bokant in sig nie – ek sou dit nie beter kon maak nie.

Wat sê Rick?

“Ek het al my bestanddele self gekoop, sjoe, dit is nie ’n goedkoop uitstappie nie, en ek het stilletjies gewonder hoe bakkers geld maak?

“As daar ’n paar dinge is wat my vrou my van bak geleer het, is dit: 1) Lees die resep, lees dit weer en sommer ’n derde keer op die koop toe; 2) Meet alles akkuraat af. As daar ’n ¾ koppie suiker staan, is dit ¾ koppie suiker – nie meer of minder nie; 3) Dan het sy my ook geleer om alles vooraf af te meet; en 4) Om op te ruim terwyl jy bak! Ek is nou nie seker hoe laasgenoemde die finale resultate beïnvloed nie, maar ek het my bes probeer om haar kombuis netjies te los. Bak is soos om ’n olifant te eet – jy doen dit happie vir happie.”

Wat dink Anel van die boek?

Die boek is werklik inspirerend en haar resepte is meer as net lyste bestanddele en ’n rits aanwysings – elkeen is ’n meesterklas op sy eie.

Groete uit my kombuis

anelpot@gmail.com

Geposjeerde pere en kaaskoek met soutkaramel 

Bedien 10

Tyd: 2 uur en oornag in yskas

Kors

  • 270 g volgraanbeskuitjies
  • ½ k haselneute, gekap
  • ½ k botter, gesmelt
  • Geposjeerde pere
  • 6 k water
  • 1 k ligbruin suiker
  • ¼ t vanieljeboonpoeier (By Woolies. Rick het 1 eetlepel vanieljegeursel gebruik.)
  • 1 e fyn kardemom
  • 8 ferm ryp pere, geskil en onderkant afgesny om dit te laat regop staan

Vulsel

  • 900 g roomkaas
  • 240 g suiker
  • 1 t vanieljegeursel
  • 2 t fyn kardemom
  • 3 e koekmeel
  • 3 groot eiers
  • 1 eiergeel
  • 250 g suurroom

Soutkaramelsous

  • ¾ k bruinsuiker
  • ¼ k vloeistof van die geposjeerde pere
  • ½ k vars room, warm
  • ’n knippie sout
  • 1 e botter

Vir bediening

haselneute, gekap (Rick het nie sy kaaskoek met haselneute afgerond nie.)

Geposjeerde pere

Gooi die water, suiker, vanieljeboonpoeier en kardemom in ’n groot kastrol. Bring die mengsel op mediumhoë hitte tot kookpunt en roer om die suiker op te los. Verlaag die hitte sodat dit sag prut.

Plaas die pere in die pruttende vloeistof.

Voeg, indien nodig, nog water by om die pere te bedek. Sny ’n stuk bakpapier in ’n sirkel wat net groot genoeg is om die binnekant van die kastrol te bedek. Plaas papier op die oppervlak van die vloeistof. Laat die pere ongeveer 20 minute kook.

Verwyder die kastrol van die hitte en laat die pere heeltemal afkoel in die vloeistof.

Sodra dit afgekoel het, dreineer die pere en hou eenkant. Hou ’n ¼ koppie vloeistof vir die karamelsous.

Oond en koekpan

Verhit die oond tot 160 °C (waaieroond).

Spuit ’n ronde 24 cm-losboomkoekpan met kleefwerende kossproei en voer dit uit met bakpapier. (Rick het twee kleiner panne gebruik.)

Vir kors

Gooi die beskuitjies in ’n voedselverwerker en verwerk dit tot ’n krummeltekstuur. Meng die haselneute en gesmelte botter by. Druk die beskuitjiemengsel met die agterkant van ’n eetlepel in losboomkoekpan teen die onderkant en aan die sye van die koekpan. Bak vir 10 minute. Haal uit en verlaag die temperatuur tot 130 °C.

Vir vulsel

Klits die roomkaas in koekmenger op mediumspoed tot glad en donsig. Voeg die suiker, vanieljegeursel en kardemom by en meng verder. Sodra goed gemeng, meng die koekmeel by.

Meng die 3 eiers en 1 eiergeel geleidelik by en skraap die kante van die bak skoon. Voeg die suurroom by en meng verder op lae spoed. Gooi die vulsel in die kors en plaas die geposjeerde pere (laat dit regop staan) in die kaaskoekmengsel.

Plaas in die oond en bak 45 minute of tot net gestol; die middel moet drillerigwees.

Skakel die oond af en laat die kaaskoek heeltemal afkoel met die oonddeur op ’n skrefie oop. Verkoel oornag in die yskas en verwyder dit 20 minute voor opdiening.

Vir soutkaramelsous

Plaas die bruinsuiker en ¼ koppie vloeistof van die geposjeerde pere in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte tot medium en laat die sous prut totdat dit ’n donker goudbruin kleur het (8-10 minute).

Roer die verhitte room versigtig by, verlaag die hitte tot medium en laat die sous 3 minute saggies prut. Voeg die sout en botter, roer tot gesmelt. Laat afkoel en plaas in yskas tot bediening.

Bediening

Haal kaaskoek uit die pan en plaas op koekstaander. Bedien met karamelsous en gekapte haselneute.

Wen:

My Sweet Life word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R450. VYF lesers kan elk ’n eksemplaar wen. SMS die woord “bak” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum:

27 November 2020.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.